Polisieman wat glo vrou, dogter doodskiet, vra vir borgtog

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Polisiebeampte wat verbonde is aan die presidensiële beskermingsdienste en van moord aangekla word, het Maandag versoek om op borgtog vrygelaat te word.

Sy regsverteenwoordiger het die Pretoria-landdroshof gevra vir uitstel, wat beteken dat die borgtogaansoek eers later by die hof ingedien sal word. Kort daarna het hooflanddros Desmond Nair egter direk met die beskuldigde, ao. Benedict Peloeole, gepraat. Hy het aangedui dat hy nou reeds vir borgtog wil aansoek doen.

“My vrou se familie het haar begrawe. Ek wil ʼn eis by my versekeraars instel sodat ek ʼn finansiële bydrae tot die begrafniskoste kan maak,” het Peloeole gesê.

Nair het die hof verdaag sodat Peloeole met sy regsverteenwoordiger kan beraadslaag.

Maroela Media het vroeër berig Peloeole word daarvan aangekla dat hy sy 23-jarige dogter en 42-jarige vrou by hul huis in Pretoria-Wes doodgeskiet het. Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het gesê Peloeole en sy vrou het glo gestry voordat hy by die huis weg is.

“Toe hy die aand teruggekeer het, het hy sy vrou gevra om vir hom kos te maak. Terwyl die vrou besig was om kos te kook, het hy na bewering ʼn vuurwapen in ʼn ander kamer gaan haal, teruggestap en sy vrou en dogter doodgeskiet,” het Langa gesê. Peloeole het daarna glo sy buurman gevra om hom polisiestasie toe te neem, waar hy dadelik in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dave ·

‘n Versekeraar sal nie ‘n doodseis uitbetaal ten gunste van die moordenaar van die versekerde nie. Dit sou sinneloos wees.

johan ·

Stem Dave die beginsel van bebloede hand kan nie erf hulle sal die geld in trust vir kinders plaas as daar is of geld terughou tot na die hofsaak

Eliza-beth ·

Hierdie klink soos ‘n Aprilgrap. Hy skiet sy vrou en dogter sommer net dood. Dan soek hy borgtog en hy wil gaan staan en eis! Die ou het beslis nie al sy koppies in die kas nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.