Polisiemotor tref wag, vrou

‘n Skermskoot uit die video op sosiale media.

Die Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n polisievoertuig vandeesweek twee mense by ’n winkelsentrum in Bloemfontein raakgery het. ’n Vrou en ʼn  veiligheidswag is in die voorval beseer.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het Dinsdag omstreeks 15:00 by die Bayswater-winkelsentrum plaasgevind.

In ʼn video wat op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe twee mense oor die parkeerea stap toe die polisievoertuig teen ’n spoed oor die randsteen gery kom en oor die twee mense ry.

Volgens Makhele het die polisie by hul aankoms op die toneel ’n erg beskadigde polisievoertuig en ʼn wit Mahindra-bakkie met skade aan sy buffer en enjinkap aangetref. Twee beseerde mense het in dié stadium in die winkelsentrum se parkeergebied gelê.

‘n Skermskoot uit die video op sosiale media.

Die twee voertuie het vermoedelik op die hoek van Muller- en Waverleyweg gebots, waarna die polisiemotor die twee mense in die parkeergebied van die winkelsentrum op die hoek getref het. “Volgens ooggetuies is albei die mense deur die polisievoertuig getref,” het Makhele gesê.

Die beseerdes is as ’n vrou en ’n veiligheidswag van die veiligheidsmaatskappy Bloemsec geïndentifiseer. Albei is in ’n stabiele toestand per ambulans na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die bestuurders van die polisievoertuig en bakkie het geen sigbare beserings in die voorval opgedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Burgermeester ·

Ek dink die SAPD moet hulle leuse verander na: “Niks ry soos ‘n maatskappy voertuig, en niks proe soos gekonfiskeerde alkohol nie” . Met so ‘n leuse is daar nie verwarring nie, en ‘n mens word nie onkant gevang as jy sulke berigte soos hierbo lees nie.

Hendrik Johannes Nel ·

Wat my verstom is dat die bestuurder van die bakkie by die beseerde persoon verby loop asof hy nie bestaan nie. Geen bekommernis oor enige beserings wat die persoon dalk opgedoen het.

Cabytheron ·

Ek moet sê, dit is een ding wat hulle vinnig kan doen, vinnig ry! Nes die bloulig ouens. Nee, hulle is goed en baie dapper. Ek erken, ek sal te bang wees om so roekeloos te bestuur.

4ntj13 ·

Die jaende polisievoertuig het te laat gerem vir die wit chevvie wat stadig voor dit gery het, na links probeer uitswaai, beheer verloor en een maal heeltemal om gerol, waartydens dit die twee mense op die sypaadjie en parkeerterrein getref het. Daar het geen voertuig van voor af gekom nie, en dit het ook geen ander voertuig op die parkeerterrein getref nie. Dis als duidelik in die video wat lank voor die ongeluk die toneel ook afneem.

Oros Soros ·

Jy het die kat aan die stert beet. Daar is ‘n kruising met robots buite sig van die betrokke kamera. Die wit Mahindra het na bewering oor die rooi lig gery en teen die polisievoertuig gebots, wat veroorsaak het dat beheer verloor is. Die beseerdes kon praat op die toneel. Videos is deel van ‘n gebeurtenis, maar gee nooit ‘n volle weergawe nie.

Rodger17 ·

Dis n feit dat polisievoertuie soos maniake jaag,maak nie saak waar nie,hetsy op die ooppad of bewoonde gebiede.Sterk optrede moet teen hulle kom dis uiters roekeloos en beslis nie n ongeluk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.