Polisievrou sterf toe trok deur ongelukstoneel ploeg

Konst. Zuma (Foto: Verskaf)

ʼn Polisiebeampte wat Woensdag op ʼn vragmotorongeluk op ʼn nat M7 in KwaZulu-Natal gereageer het, is dood toe die bestuurder van ʼn tweede vragmotor beheer oor dié voertuig verloor en deur die aanvanklike ongelukstoneel geploeg het.

Ene konst. Zuma van die polisiestasie in Bellair, Durban, is in die tweede ongeluk dood. Haar volle name was nie Woensdag onmiddellik bekend nie.

Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics, sê ʼn vragmotor het aanvanklik vanoggend tussen die Bellville-brug en die N2-wisselaar in die rigting van Durban omgeslaan.

Twee mense het matige beserings in die ongeluk opgedoen en is op die toneel behandel voordat paramedici hulle na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer het.

Die paramedici is toe wéér na die ongelukstoneel ontbied.

Jamieson sê die paramedici het egter met hul terugkeer na die toneel “totale verwoesting” aangetref.

Paramedici op die toneel op die M7. (Foto: Verskaf)

Die bestuurder van ʼn tweede vragmotor het in dié stadium “op een of ander manier” beheer oor dié vragmotor verloor terwyl die nooddienste nog besig was om die wrak van die eerste vragmotor te verwyder.

Die tweede vragmotor het deur onder meer twee polisievoertuie geploeg voordat dit die pad verlaat en teen ʼn wal tot stilstand gekom het.

Altesaam drie mense het matige tot ernstige beserings in die proses opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle ook na nabygeleë hospitale geneem is.

Zuma is op die toneel dood.

Dié ongeluk was een van ses op die M7 waarop die owerhede vandag te midde van gure weer gereageer het.

“Dit was ʼn mal dag met veelvuldige ongelukke,” het Jamieson vanmiddag gesê. “Ons doen ʼn beroep op alle bestuurders om versigtig te wees in nat weer en om veiligheidsprotokolle na te kom om verdere tragedies op die paaie te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Renier ·

Pad was nie behoorlik afgesper na eerste ongeluk.sien dit baie op die paaie. Swak SAP opleiding.

Pieter ·

Ek ry daagliks die roete. Spoed beperking is 100. Lyk asof ek parkeer plek soek op 120km/h soos die trokke verby jaag.

Dis ‘n wonder dat daar nie elke dag iemand sterf op die pad nie.

RTI en Metro is in die laaste 5 jaar nog nooit aan diens op die pad gewees nie. Hopelik word iemand nou wakker en doen iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.