Politiek gaan die begrotingsplan se sukses bepaal

Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens Woensdag se toespraak. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Min. Enoch Godongwana se goeie maar vervelige begroting gaan gemaak of gebreek word deur die politieke uitvoering daarvan. Só meen kundiges wat onlangs aan Akademia se paneelgesprek oor die begrotingsrede deelgeneem het.

Met pres. Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling op die horison, is die samestelling van dié politieke “uitvoerders” nog onseker – iets wat deurslaggewend gaan wees vir die sukses van die 2023-’24- nasionale begroting.

“Ons moet besef die begroting is nie ʼn towerstaf nie, maar net ʼn vooruitskatting. Die verantwoordelikheid lê nou by politici en die tesourie om dit toe te pas – in hierdie stadium is dit nog net ʼn plan,” verduidelik Henco Kruger, welvaartbestuurder by Kruger Internasionaal.

Daar heers egter groot vrae oor die regering se besef van dié verantwoordelikheid – dit lyk nie asof hulle tans bewus is van die grootte van die krisis waarmee hulle sit nie.

“Die regering gaan ʼn hartaanval kry. Daar is ʼn klomp plaak in die staat se are. Die regering, wat insluit die inhoud van die begroting, doen egter nie die nodige stappe om dié hartaanval te voorkom nie,” volgens Alida Kok, dosent in politiek by Akademia.

Volgens Kok is dit bemoedigend dat die begroting “vervelig” is, maar dit is bloot nie genoeg om die dreigende krisis af te weer nie.

“Hou in gedagte dat ons met strukturele probleme sit – hier is groot probleme in die politiek wat nog lank met ons gaan wees en nog erger gaan raak.”

Nikki Kennedy, dosent in bestuursrekeningkunde en belasting by Akademia, deel Kok se vrese oor die dreigende dog onaangepakte hartaanval.

Akademia het op Donderdag 23 Februarie ʼn paneelgesprek aangebied in refleksie tot die begrotingsrede van 2023. Die paneel het bestaan uit Nikki Kennedy, Henco Kruger, Pieter Janse van Rensburg, Alida Kok en Christo Luüs.

Dreigende strukturele probleme

In ʼn neutedop is Suid-Afrika op ʼn negatiewe fiskale trajek met min van die nodige ingrypende politieke en beleidsveranderinge wat gemaak word om dit aan te pak. Hoewel daar positiewe vooruitsigte in die detail is, bly die groter ekonomiese prentjie problematies.

Een van dié grootste strukturele probleme is ekonomiese stagnering.

“Ons het amper geen vooruitskatting vir ekonomiese groei nie, terwyl ons jaarliks bevolkingsgroei van sowat 1,5% sien,” waarsku Kruger.

“Dit beïnvloed die regering se vermoë om sy staatskuld te betaal. Ons werkloosheidsyfer is ook nog deur die dak en kan net aangepak word deur ekonomiese groei,” verduidelik Kruger oor hoe hierdie ekonomiese stagnering, of selfs agteruitgang, talle wesenlike uitkringgevolge het.

Christo Luüs, eienaar van Ecoquant (Edms.) Bpk. en voorsitter van die beheerraad van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Finansiële Markte, meen ook die staat se aandeel in die ekonomie word al hoe groter.

“Ons is op die pad na die regering wat die ekonomie oorneem – iets wat nie groei bevorder nie, maar juis sleg is vir die ekonomie.”

Hoe swakker die ekonomie, hoe minder geld het ons, hoe moeiliker raak dit ook vir die regering om sy uitgawes te dek. Dít dra om die beurt weer by tot die begrotingstekort wat ons ervaar.

“ʼn Mens spaar geld deur dit nie te spandeer nie! Ons begrotingstekorte gaan net verklein deur geld te spaar eerder as te spandeer. Dít is die boodskap wat die minister en politici moet ontvang,” verduidelik Pieter Janse van Rensburg, direkteur van SA Direkte en Indirekte Belasting by AJM.

Hoewel die afgelope begrotingsrede fiskale besteding onder beheer probeer kry, gaan die sukses daarvan grootliks afhang van die politieke uitvoering. Een van die grootste aannames van die huidige begroting is die stabilisering en inperking van die staat se salarisrekening.

“Die daargestelde 3,3%-loonverhoging gaan nie gebeur nie. Ek vermoed egter die finansiesminister se taktiek hiermee is om ʼn lae basis daar te stel sodat ʼn redelike verhoging onderhandel kan word,” verduidelik Kruger.

Indien staatsvakbonde nie die gewenste loonverhoging kan onderhandel nie, is daar altyd ʼn risiko vir onluste en geweld om uit te breek.

Luüs waarsku ook teen ons begrotingstekorte wat as langtermyntendens al hoe groter word. Dit word vererger deur die regering se wanaanwending van fondse asook staatskaping.

Die knaende begrotingstekorte word jaarliks aangevul met lenings. Oor die jare heen het die regering groot hoeveelhede skuld aangegaan om hul besteding te finansier met dié skuld wat binnekort betaalbaar gaan begin word.

“Lenings wat in 2007-’09 aangegaan is, word in 2027-’29 weer betaalbaar. Dit lyk tans glad nie goed nie, want ons gaan waarskynlik weer skuld moet aangaan om ons skuld te diens,” waarsku Kok.

Volgens Janse van Rensburg betaal ons nou al R1 miljard per dag net om ons skuld te diens. Hierdie groterwordende krisis word vererger deur ʼn krimpende belasting- en welvaartsbasis in die land. Dié probleem word om die beurt vererger deur die regering se aanhoudende stief hantering van welvarende mense.

“Sedert 2019 belowe die regering al ʼn aanpassing van die valutabeheerstelsel, maar nog niks het gebeur nie. Hierdie stelsel is die enkele grootste struikelblok vir groei – dit is hoe ons ryk mense hier hou,” meen Janse van Rensburg.

Luüs beaam dat ons buitelandse kapitaalinvloei tans doodeenvoudig nie genoeg is nie. Dit is iets wat die regering bloot nie genoegsaam ter wille van die ekonomie prioritiseer nie.

Minder regering, meer afwentelings

Volgens Luüs sit ons vasgevang in die mentaliteit van “meer staat is beter” – ʼn ingesteldheid wat ons ekonomiese potensiaal erg knou.

Kok meen ons kan nie die afwenteling van mag miskyk in die soeke na beter fiskale en ekonomiese oplossings nie.

“Daar is ʼn konstante armdruk tussen sentralisering en desentralisering van mag. Die Wes-Kaap dien as voorbeeld van hoe ʼn mens stelselmatig ruimte kan oopdwing om jou eie reëls te maak. Namate magte afgewentel word, moet die begrotings daarvoor ook afgewentel word.”

Volgens Kok bied dit die geleentheid vir groei om op ʼn alternatiewe wyse ook op provinsiale vlak plaas te vind. Deur groei te diversifiseer kan welvaart van die middelklas ook makliker behoue bly.

Daar bestaan egter ʼn algemene onwilligheid om te desentraliseer.

“As voorbeeld word Eskom nou so deur die agterdeur geprivatiseer met aangekondigde kortings wat vir maatskappye en individue beskikbaar gestel is vir privaat opwekking,” verduidelik Kruger.

Volgens Kok bedreig desentralisering die enorme gevestigde belangenetwerke regdeur die staat.

“Een van die voorwaardes van Eskom se nuwe reddingsboei is byvoorbeeld dat hulle opwekking moet privatiseer. Dit skep omstandighede waarin mense weggedwing word van geld af wat hulle nodig het om te oorleef. Mense is selfs bereid om geweld te pleeg om toegang tot daardie geld te behou.”

Kennedy wys in die lig van dié voorwaardes daarop dat ʼn mens nie kan aanhou om geld te gooi op dieselfde probleem sonder om die onderliggende probleem aan te raak nie – die feit dat reddingsboeie met voorwaardes gepaardgaan, bied tog beter vooruitsigte.

Alle hoop is dus nie verlore nie.

Kennedy meen daar is wel individue vanuit regeringsgeledere wat begin opstaan teen algemene agteruitgang ter wille van die ekonomie en landsburgers. “Mense in hoër posisies begin al hoe meer uitgesproke raak oor ons regeringsprobleme. Dit is tog bemoedigend.”

Die paneel stem ook saam dat staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die regbank en die tesourie wel nog funksionerend is.

“Dít is juis die soort instellings wat ʼn mens werkend wil hê as jy jou eie reëls wil begin maak en ʼn alternatiewe meesterplan ten opsigte van die staat wil opstel,” sluit Kok af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.