‘Politiek’ kelder verbod op toets van mooimaakgoed op diere in SA

Foto ter illustrasie. (Foto: Uwe Zucchi / DPA / AFP)

ʼn Wysigingswetsontwerp om kosmetiese toetse op diere in Suid-Afrika te verbied is vandeesweek deur die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou en grondhervorming afgekeur omdat dit nie as “wenslik” beskou is nie.

Teleurgestelde partye en organisasies ten gunste van dié privatelid-wysigingswetsontwerp sê dit sou ʼn uiters positiewe stap vir Suid-Afrika wees wat die land in lyn met internasionale norme en standaarde sou bring. Hoewel daar – sover bekend – nie kosmetiese toetse op diere in Suid-Afrika gedoen word nie, sou die wetsontwerp ook enige dieremishandeling in dié verband voorkomend stuit.

Die praktyk om skoonheidsmiddels op diere te toets word reeds in minstens 42 lande wêreldwyd verbied. Dit sluit in 27 Europese lande, asook in Engeland, Indië, Israel, Noorweë, Nieu-Seeland, Australië, Suid-Korea, Turkye, Switserland en Serwië. Sommige lande of hul provinsies verbied selfs die invoer van enige produkte wat op diere getoets is.

Steve Swart, ACDP-parlementslid, het die wetsontwerp wat as die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Diere van 1962 bekendstaan, opgestel en by die parlement ingedien met die doel om die praktyk ook in Suid-Afrika onwettig te laat verklaar. Dit sou ook geld vir die vervaardiging en verkoop van enige skoonheidsprodukte wat op diere getoets is.

“Die wysigingswetsontwerp sou ʼn groot stap gewees het in die voorkomende beskerming van diere,” het Swart aan Maroela Media gesê.

“Daar is ook bewyse dat die beskerming van diere en die goeie behandeling van diere kan bydra tot gesonder gemeenskappe, veral waar hoë vlakke van misdaad en geweld plaasvind.”

Swart sê hoewel aangevoer is dat die wetsontwerp toekomstige werkgeleenthede in die gedrang kon plaas, is die teenoorgestelde waar.

“Daar is wêreldwyd ʼn neiging om kosmetiese toetse op diere te verban en Suid-Afrika sou daarby baat om dié neiging te volg. Alhoewel die wetsontwerp aan die begin positief aanvaar is deur lede van die portefeuljekomitee, is dit jammer dat die ANC en parlement nou besluit het om nie hierdie wêreldwye neiging te volg om diere te beskerm nie.

“Samelewings of gemeenskappe word gemeet aan die wyse waarop hulle die mees kwesbares behandel, onder wie kinders, vroue en diere. Die regering het hierdie geleentheid nou misgeloop. Dit was ʼn wen-wen-situasie vir almal van ons, maar die ANC het daarteen gestem.”

Swart sê dit is egter net die begin van die stryd – en hy is dankbaar vir die groot steun wat daar wél vir die voorgestelde wetgewing is.

Afkeur van wetsontwerp ‘polities’

Toni Brockhoven, voorsitter van Beauty without Cruelty, het Swart jare gelede genader om dié organisasie in sy stryd om diere te beskerm by te staan en kosmetiese toetse op diere te laat verbied. Sy is net so teleurgesteld oor die uitkoms, maar is nog lank nie van plan om handdoek in te gooi nie.

Diereregteaktiviste betoog teen die toets van produkte op diere in Kuala Lumpur in Maleisië in Januarie vanjaar. (Foto: Arif Kartono / AFP)

“Dis belangrik om kennis te neem dat daar geen bekende laboratoriums in Suid-Afrika is wat skoonheidsmiddels op diere toets nie. Dit is juis die kern van die saak, wat klaarblyklik deur baie parlementslede geïgnoreer en oor die hoof gesien is,” het Brockhoven gesê.

“Sou die wetsontwerp as ‘wenslik’ geag word, sou daar geen negatiewe uitwerking op werkgeleenthede, laboratoriums, toetsmetodes of die behoefte aan dierewelsyninspeksies wees nie.

“Vereistes om by die departement van landbou, landelike hervorming en -ontwikkeling aansoek te doen om skoonheidsmiddels op diere te toets, sou ook nie nodig wees nie.

“Niks sou verander nie, behalwe dat Suid-Afrika se wetgewing sou strook met talle lande wat reeds kosmetiese toetse op diere, die verkoop van diere-getoetste skoonheidsmiddels en, in sommige gevalle, die invoer van sulke produkte verbied.”

Brockhoven sê die proaktiewe wetsontwerp sou ʼn duidelik lyn in die sand getrek het, wat sou verseker dat geen skoonheidsmiddel in die toekoms op diere in Suid-Afrika getoets kan word nie.

“Die wetsontwerp behoort nie omstrede te wees nie en is nie ingewikkeld nie. Daar is geen regverdige rede om dit as ‘onwenslik’ te beskou nie. Hoewel ons weet van lede wat in hul private hoedanigheid met die wetsontwerp saamstem, sou hulle ongelukkig nie teen hul party stem nie. Die wetsontwerp word op grond van politiek onwenslik beskou, en nie die besonderhede van die wetsontwerp nie.”

Skande,’ sê VF Plus 

Die VF Plus het die afkeur van die wetsontwerp as ʼn “skande” beskryf.

“Suid-Afrika het tans ʼn E-gradering op die internasionale dierebeskermingsindeks. Dié skaal rangskik lande van A (die beste) tot G. ’n Voorkomende wet soos hierdie sou geen finansiële uitwerking op enige organisasie hê nie en sou slegs voordele inhou,” het Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor landbou, gesê.

“Suid-Afrika beklee tans die 26ste plek op die internasionale lys vir diereregte en die aanvaarding van dié wysigingswetsontwerp sou die land se posisie gewis verbeter het. Dit sou ook geen finansiële gevolge vir die staat inhou nie aangesien daar reeds bestaande strukture en organisasies in plek is wat omsien na die welsyn van diere.”

Breedt sê nieteenstaande die feit dat die wysiging net voordele sou inhou, is dit met hewige teenstand van die departement en die komitee begroet, terwyl algemene landbou-aangeleenthede soos siekte-entstof en selfs die uitvoer van melk as verskonings by argumente ingesleep is – hoewel dit nie geldig is nie.

“Die parlement het altesame 2 383 openbare voorleggings oor die wetsontwerp ontvang, insluitend van organisasies soos Beauty Without Cruelty, dierewelsynsorganisasies en ander belanghebbende partye. Hiervan was 1 311 ter ondersteuning terwyl 1 052 selfs groter beskerming van diere bepleit het.

“Slegs sewe besware is ontvang wat aan tegniese aspekte van die wetsontwerp geraak het.”

Breedt meen dis duidelik dat die ANC ʼn omgewing skep waar mense- en diereregte nie veel beteken nie.

“Die komitee kon met die aanvaarding van hierdie wysigingswetsontwerp ’n voorbeeld aan die parlement en die land gestel het oor ʼn regering waar goeie waardes en norme hoog geag word, maar hulle het verkies om dit nie te doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik ·

Ernstig daarteen. Die mens het eenvoudig net nie grense nie. Baie honde ly alreeds onder die hand van die mens soos inteling om van n hond die lelikste gedrogte te maak sodat hul pryse daarvoor kan wen.

Perdeby ·

Dit is omdat die mense wat dit afgekeur het in elk geval geen respek vir diere het, en wat van hulle plase self, diere vrek van die honger!
So wat verwag julle!

KatjieDeKat ·

Ek kan nie verstaan hoekom die regering hierdie wetsontwerp afgekeur het nie. Soos die artikel sê, dit sou nie die land, of die kaders se bankrekenings, enigsins geraak het nie. Onverstaanbaar.

Gaitsigubib ·

Mens mag nie op n konyn proewe die nie, maar op mense kan jy blykbaar laatwaai!

Philip ·

Die mens is ‘n verpesting wat homself verhewe reken bo alle ander lewe…laat waai dus maar.

Gaitsigubib ·

Dalk wou jy se “sommige mense”, anders sluit jy mos jouself in? Ek glo egter dat jy lief is vir diere en ek is redelik seker jy is mos nie die enigste een nie?

Vrystaat2109 ·

Dit is baie nodig om die wet te wysig, maar sal julle groot asb dieselfde energie en tyd spandeer teen die wrede plaasmoorde, sodat ons almal en Al die instansies druk op die regering uitoefen teen plaasmoorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.