Politieke intriges op Knysna laat wenkbroue lig

Mark Willemse. Foto: Facebook

Die kleurryke en soms opportunistiese Wes-Kaapse politiek is dikwels die land se sirkus, maar selfs politieke veterane slaan die hande saam oor wat deesdae op munisipale vlak in die skilderagtige Knysna se munisipaliteit aangaan.

Knysna se stadsraad het 20 lede. In die munisipale verkiesing van 2016 het die DA tien setels gewen, die ANC 7, die ACDP 1, Cope 1 en ʼn plaaslike groepering genaamd die Knysna Unity Congress een setel.

Die ervare en gerespekteerde Eleanor Bouw-Spies van die DA, wat al tevore ook burgemeester was, is tot eerste burger van die dorp verkies, en sake het hul loop geneem.

Die DA staan heeltemal sterk in Knysna. In vanjaar se algemene verkiesing is Knysna sowel nasionaal as provinsiaal deur die DA behou met bykans presies dieselfde steun as in 2016.

Maar in die Wes-Kaapse politiek is niks ooit seker nie. Twee DA-lede, Mark Willemse en Peter Myers, het ʼn paar maande gelede besluit Willemse sal ʼn beter burgemeester wees. Die opposisiepartye in die raad, onder aanvoering van die ANC, het saamgestem, maar die DA nie.

Toe stem Willemse en Myers saam met die ander partye vir Willemse as burgemeester, en hy wen! Sy kandidatuur is van die DA se kant af slegs deur Myers gesteun, met die ander agt DA-raadslede wat die amptelike DA-kandidaat gesteun het.

So nou sit Knysna met ʼn DA-burgemeester wat nie deur die DA gesteun word nie. Die party probeer tans vir Willemse en Myers uit die DA skors, wat sal beteken dat hulle hul setels en hul poste as raadslede sal verloor, so Willemse sal nie meer burgemeester wees nie.

Maar die DA-prosesse vir skorsing is lank en ingewikkeld, en Willemse en Myers maak dit natuurlik vir die DA so moeilik as moontlik om hulle af te dank met elke vertragingstaktiek en jakkalsdraai denkbaar.

Die party wat die gelukkigste is met die vreemde verloop van sake is die ANC. Hoewel hulle glad nie die kieserskeuse in Knysna is nie, het hulle danksy die twee eiesinnige DA-raadslede asook Cope en die Knysna Unity Congress hierdie week daarin geslaag om die DA-speaker van die raad, Georlene Wolmarans, uit te stem met 11 stemme teen 8.

In Wolmarans se plek is Myrtle Gombo van die ANC verkies. Die Wes-Kaapse ANC, wat goeie nuus tans broodnodig het nadat hulle in verlede maand se algemene verkiesing hul swakste Wes-Kaapse provinsiale uitslae in die geskiedenis behaal het, meen Gombo se verkiesing is die begin van groot dinge.

“Ons sal bou op hierdie oorwinning om in 2021 elke munisipaliteit in die Suid-Kaapse streek in te palm,” het die ANC se streeksekretaris vir die Suid-Kaap, Major Sokopo, onderneem.

Die provinsiale leier van die DA, Bonginkosi Madikizela, het gesê tot tyd en wyl sy party vir Myers en Willemse geskors kry, sal die DA die opposisiebanke in Knysna inneem. Hy het die versekering gegee dat die voorkeur van Knysna se kiesers, naamlik om die DA die dorp te laat regeer, eersdaags weer gerespekteer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

ella ·

jakkals jaag sy eie stert. brommer op sy eie mishoop. daar het jydit nou.

John ·

In die Kaap praat hulle ook nie meer Goeie Hollands nie met Pat wat hoeka gou die pad vat na ‘n nuwe partytjie met meer geld wat minder vrae vra. Die Good het toe gou bad geword en toe ugly. Da-da sukkel self met ‘n klomp suurgesigte na die swak druiweoes. Daar is na bewering mense wat hoop Zille kry ‘n ambasadeurspos in Groenland… aan die noordekant van die nuwe diep spleet weens aardverwarming.

Andre ·

N sirkus.gaan net oor hul eie sakke en gatte…gn integriteit of respek meer…klomp fools wat baklei om baas te speel/regeer

Gert van Wierdapark ·

Elkeen vir homself en die duiwel vir die res! Dis hoekom SA lyk soos hy lyk!

Bietjie baie ·

Wat n skande dat GROOT MENSE soos kinders aangaan. Ja nee, ek stem dit gaan oor hulle sakke en nie oor die land nie. Die DA grou hulle eie gat met hierdie kinderagtige interne fights. Hulle sou beter gedoen het as dit nie was vir die JP sage met Patricia se Lille nie.

Ander Koos ·

DA raak nou bekend vir onsinnige binne gevegte. Selfvernietigend

Bietjie baie ·

Kom ons stem weer maar die keer nog minder vir die DA.

Adam ·

Andreas, ek stem nie DA nie en verpes Maimane in dieselfde mate as wat ek nie die VF+ steun nie . Jou kommentaar is soos gewoonlik weg van die merk en vaag en verwarrend.

Andreas ·

Adam, dankie, ek vra om verskoning as ek jou verkeerd opgevryf het. As jy my woorde ‘gevang’ het, sal jy my kan lees. By tye plant ek ‘n saadjie wat jy moet water gee, ander kere mag ek direk wees wat mense makliker verstaan. Ek praat nie in raaisels nie, maar die waarheid in realiteit.

Adam ·

Andreas, ‘n verskoning is onnodig.Ek glo ek en jy wil presies dieselfde kwaliteit lewe in SA kan beleef en alhoewel ons uitgangspunte, polities en andersinds dalk mag verskil is dit eintlik irrelevant. My frustrasie is bloot dat ek as blanke Afrikane nie ‘n aanvaarbare politieke aanbod het nie. Ons wil immers net veilig en gemaklik in vrde kan leef en ekonomies aktief wees. My frustrasie met die DA is veral gabaseer op hulle verknogtheid aan nie-rassigheid, iets wat nie kan bestaan in ‘n veelrasige omgewing nie. Ons kan oor gelyke regte beskik, maar dit maak ons nie nie-rassig nie en hoewel ons met mekaar kan saamleef in vrede en mekaar kan respekteer, maak dit nie ons bevolking homogeen nie. Die Knysna geval is tipies van wat ons gereeld binne ‘n bepaalde groep sien, wat nog tussen verskillende groeperings. Wat my verder grensloos frustreer is die blatante aanblaas van rassehaat en die onewehandige manier waarop dit hanteer word. Dit is hoekom ek gereeld op ‘n baie duidelik en direkte manierdie inligting met buitelandse sake-kennisse deel. Ek glo jy sal saamstem dat ons politici ons meestal faal.

Andreas ·

Hallo Adam, dankie, ek sien jy het baie tyd spandeer om te antwoord, ek het dit afgetrek om ook te besin en sal met jou hier of elders binne dag of so gesels. Ek waardeer.

Dirk Breytenbach ·

Hokaai, dis mos nie die DA se skuld as 2 lede afvallig raak en die burgemeesterspos vir hulsef wil toe-ein nie. Dit dui eintlik op die betrokke lede se gebrek aan integriteit en respek vir hul medemens. Om nou leedvermakerig te dans en juig oor die DA se verknorsing dui ook op politieke onvolwassenheid. Die beste stuurmanne sit gewoonlik aan wal en as iemand nie in die politiek is nie los die kwessies vir die politici om uit te sorteer en hoef leke nie te kraai van lekkerkry elke keer as iemand ‘n terugslag ervaar nie. Oor ‘n maand is die probleem opgelos en wonder ek teen wie die leke dan gaan kraai en juig? Almal in SA het ‘n gemeenskaplike doel om van SA ‘n beter plek te maak kom ons respekteer mense ongeag hul politieke affilliasies.

Henry ·

Dankie Dirk Breytenbach.
Die twee betrokke piete is destyds as DA lede verkies. Verraad teenoor hul party het verseker dat ons nou ‘n ANC beheerde stadsraad het ipv die vorige DA beheerde ene. Die betrokke twee se toekoms as ANC ondersteuners is hopelik pikdonker. Mag Knysna so gou doenlik van die twee narre ontslae wees.
Ek en my pelle is verseker nie DA kiesers nie maar in hierdie geval het hul party – DA – geen ander uitweg gehad om van die vrot hout ontslae te raak nie.
Maar elke brak kry sy dag. Die tweetjies se moeilikheid is geboek.

Henry ·

Vergeet om by te voeg.
Ek wonder wat sê mnr Lekotha oor die Cope raadslid wat saam met die ANC teen die DA gestem het.
Terwyl ek so aan’t wonner is…wonner ek wat sê al die piete en pietinne wat onlangs hier op MM so beïndruk met die Cope party was, dat hullegeesdriftig aanbeveel het dat mnr Lekotha sy kragte by die VF+ moet ingooi.
:-)

Oujongvrou ·

Sien niemand dan wat hier aangaan nie. Hoor mooi wat ek se, daai 2 manne gaan ook ewe luiters oorloop ANC toe. Nes aunty pat. Groot slang in die gras. Maak moeilikheid vir die DA en dan kry ons kamptig n tuiste by die ANC. En is die kiesers te dom om dit raak te kyk. Nou se hulle die DA sleg, terwyl dit alles vooraf beplan word, en die ANC gaan al die tyd lag

Wim Kotze ·

Nou hoe dan nou? Die DA het dan groot gewag gemaak op hulle keuring van kandidate, tot so ‘n mate dat sommige voornemende kandidate selfs hulle ouers se ID dokumente moet voorlê. In Matzikama het die selfde tragie-komedie hom afgespeel sodat ‘n voormalige Da burgermeester nou ANC onderburgermeester is. Dit bevestig mos dat die DA inderdaad net die ANC lite is.

Henry ·

Oujongvrou
Nee my antie.
Ons weet dit al laaaankal.
Is ‘n stokou triek

Dries du Toit ·

Daar is niks so haatlik soos selfsugtige opportuniste nie. Ek was self in n stadsraad waar ons hard moes veg om die stad goed te regeer. Daardie verraderlike opportuniste dwing jou uiteindelik om hulle posisies te gee wat hulle nie verdien nie. Ek het baie simpatie met die DA. My raad is om alles in hul vermoë te doen om hierdie twee gemors uit die stadsraad te kry.

Andreas ·

Ek het vanaand elders twee videos geplaas wat ek hoop die mense se harte uit hul siele sal pluk.

Dries du Toit ·

Om daardie selfde rede van “stert wat die hond wil swaai” sit ons vandag met sulke mense in die kabinet en in baie belangrike posisies . Dit is om dieselfde rede hoekom Mabuza ons vise- President is., De Lille in die kabinet is, kortbroek van Schalkwyk n ambassadeur is en so kan ek tientalle van daardie opportunistiese verraaiers opnoem. Kyk net waar gaan Roelf Meyer binnekort opeindig. Watch this space

Leonie ·

Ek dink alvorens persone kommentaar lewer moet hulle hulself eers van die ware feite vergewis. Willemse en Myers het in Junie 2018 n mosie van wantroue teenoor EBS ingestel, nie vir selfgewin nie, maar bloot vir redes wat toepaslik is as wantroue onstaan. Die DA lede het tydens die koukus uitgestap en die ANC die geleentheid gegee om een van hul eie lede as burgemeester te kies. Die ANC het egter besluit om Willemse as burgemeester te verkies. ń Dissiplinêre verhoor is gehou en Willemse en Myers is onskuldig bevind van enige ongeruimdhede. Willemse was ten tyde van sy verkiesing as burgemeester in die pos as Speaker van die Eden distrik aangestel en het dieselfde salaris verdien as wat hy tans as burgermeester verdien. Selfverryking was geensins die motiewe nie. Enkele lede van die DA voer ń heksehag teenoor Willemse en Myers alhoewel die kiesers van Knysna deurgans bankvas agter W en M staan. Dis tog waaroor dit gaan… die kiesers se behoeftes en keuse. LW Willemse en Myers was en is nogsteeds lojale DA lede en heul hulle nie met die ANC nie. Hierdie piete wat hierbo kommentaar wil lewer moet hulle hulself n guns doen en in Knysna n draai gaan maak. Gaan gesels met die mense en sien hoe skoon die dorp is. Willemse en Myers is 2 gerespekteerde inwoners wat net Knysna se belange op die hart dra. Weereens dis tog waaroor dit gaan of hoe?

Henry ·

Nee wat Leonie
Knysna inwoners is deeglik bewus van die bokspronge van Willemse en Myers.
Willemse is deur die ANC verkies en is afhanklik van hul voortgesette steun.
Eenvoudige vraag:
Wie se agenda gaan Willemse volg?
ANC of DA?
Die paar inwoners wat hierdie tweetjies so kliphard ondersteun moet liewer ophou om vir buitestanders te vertel dat alles so hankie dorie in Knysna verloop agv twee DA raadslede wat nou die ANC se voorskrifte moet uitvoer.

Maraai ·

Ons wittes is niks anders as narre in ons eie sirkus nie. Waar is al die Malemas nou wat so veroordelend kommentaar kon lewer! Insig ontbreek, gn wonder ons land sit in die hande vannie manne met sakke vol planne.

Dries du Toit ·

Leonie So wat jy vir ons sê is dat die berig hierbo nie die ware gebeure weerspieël nie. ???

Dalene ·

Willemse is alreeds ‘n jaar in die pos en ‘n hele paar besluite is geneem waarmee die ANC nie saamgestem het nie. Knysna is agter Mark, ten spyte van wat jy wil glo. Leonie se feite is 100% korrek.

Dalene ·

Terloops, weet enige van bg politieke waarnemers waarom Willemse die mosie teen Eleanore Bouw-Spies ondersteun het? Dit het gebeur nadat sy dit openlik aan hom gestel het dat sy wykslede se belange minder waarde dra, omdat hulle ‘n minderheid in die land verteenwoordig, verder omdat haar lewensmaat met koukus probeer inmeng het (en sy hom toegelaat het) om ‘n onafhanklike raadslid te ondersteun in ‘n ondersoek na onreelmatighede in tenders – die betrokke onafhanklike raadslid is sedertdien skuldig bevind en van sy posisie onthef en is ook sedertdien gearresteer vir die moord van ‘n ANC raadslid. Laastens het die Raad ‘n onafhanklike verslag aanvaar waarin aanbeveel is dat Bouw-Spies en die voormalige munisipale bestuurder vir wanadministrasie en bedrog aangekla moet word. Hierdie klagtes is steeds hangend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.