Die vermeende meesterbrein agter die moorde op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), het Maandag saam met die ma en dogter se huiswerker in die Polokwane-landdroshof in Limpopo verskyn.
Lazarus Mahlo (41) en Sophie Mmako (51) het op twee aanklagtes van moord en roof met verswarende omstandighede verskyn. Mmako, wat meer as 20 jaar vir die Deacons gewerk het, het geen emosie tydens die hofverrigtinge getoon nie en met haar arms gevou gestaan.
Nie een van die twee beskuldigdes het hangende sake teen hulle nie en hulle het regsverteenwoordiging aangevra.
Die saak is tot Vrydag uitgestel vir verdere ondersoek. Die ander twee verdagtes, Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30), verskyn ook Vrydag in die hof.
Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Limpopo, het die hofverrigtinge bygewoon en die ondersoekspan geloof vir hul vinnige optrede om die skuldiges vas te trek.
“Hopelik word die oorblywende verdagte ook nou vinnig vasgetrek. Ons soek geregtigheid vir die Deacon-familie,” het Rakgoale gesê. “Ek is so teleurgesteld om te sien hoe vroue, soos Lizette en Hettie, pyn moet verduur.”
Desiree van der Walt, DA-LP, het buite die hof gesê dit is skokkend dat ʼn vrou glo deel was van die wreedaardige moord op twee ander vroue.
“Limpopo se statistieke rakende misdade teenoor vroue en kinders lyk sleg. Meer as 8 000 vroue en 3 000 kinders is die laaste jaar vermoor, aangerand of verkrag in die provinsie. Ek stem saam met pres. Cyril Ramaphosa wat hierdie ʼn tweede pandemie in die land noem.”
Van der Walt meen daar moet nie borgtog aan diegene wat sulke misdade pleeg, toegestaan word nie.
Lizette en Hettie se liggame is verlede Donderdagaand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie steekwonde gehad.
Vier verdagtes is nou reeds in verband met die moorde in hegtenis geneem.
Soos vroeër berig is Mmako omstreeks 08:00 Vrydag in Polokwane in hegtenis geneem terwyl Mahlo, die vermeende meesterbrein, omstreeks 09:00 in Ivory Park in Tembisa aan die Oos-Rand in hegtenis geneem is.
Mahlo is glo ʼn voormalige werknemer van die Deacons in een van die Ocean Basket-takke in Polokwane. Hy is glo onlangs afgedank. Hy en die huiswerker was na bewering in ʼn verhouding.
Die polisie is intussen op soek na nóg ʼn man wat hulle kan bystaan in die ondersoek. “Die man, genaamd Owen, word versoek om by die naaste polisiestasie aan te meld, want hy kan ons moontlik bystaan in die ondersoek,” het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê.
Owen, ʼn Zimbabwiër, gebruik een van die volgende vanne: Setsiba, Makutara of Mbedzi.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
No bail. Geen borg
En die Oscar gaan aan: Sophie Mmako, vir haar uitstekende vertolking van die ontroosbare werknemer by die begrafnis, en nou is sy weer emosieloos.
Natuurlik emosieloos want sy het nie gereken haar turf gaan so vinnig sit nie.
Laat hulle gaan sit en gooi die sleutel weg! Ek verstaan nie hoe harteloos iemand kan wees nie
Sjoe Sophie na 20 jaar……. harteloos
Iemand wat jy vir 20jaar lank vertrou. draai om en steek jou in met n mes…
Dis baie tragies, sterkte aan die familie.
Hoop hulle sit lewens lank.