Poskantoor betaal mediese bydraes

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) het sy eerste paaiement aan MEDiPOS, die mediese fonds vir werknemers by die poskantoor, betaal.

Die Poskantoor het sedert April versuim om lede se bydrae aan MEDiPOS oor te betaal – selfs al word dit steeds van lede verhaal. MEDiPOS het verlede maand in ʼn kennisgewing aan lede gesê ʼn beduidende gedeelte van die algehele bydrae van R213,3 miljoen wat die Poskantoor tussen 1 April en 30 September moes betaal, is steeds uitstaande.

MEDiPOS het gesê indien die agterstallige bydrae nie teen 31 Desember betaal word nie, gaan hy lidmaatskap op 1 Januarie opskort.

Solidariteit het vroeër gedreig om regstappe teen die Poskantoor te doen om hom te dwing om sy agterstallige statutêre verpligtinge na te kom.

“Dit is ʼn groot oorwinning vir ons lede, hoewel dit slegs tydelike verligting bied. Werknemers is nou daarvan verseker dat hulle in die afsienbare tydperk steeds lede van MEDiPOS sal wees, en dat hul mediese dekking nie teen 1 Januarie opgeskort gaan word nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit.

“Ons berus ons egter nie hierby nie en soek na ʼn permanente oplossing waar betalings gereeld soos volgens dienskontrakte sal geskied.” Volgens Van der Bijl sal Solidariteit nie skroom om verdere litigasie teen die Poskantoor te voer totdat alle agterstallige geld oorbetaal is en werknemers permanente gerusstelling het dat hulle toegang tot hul mediesefondsvoordele het nie.

“Solidariteit sal bly veg vir die belange van sy lede en voortgaan om druk op Sapo te plaas om sodoende ʼn oplossing te vind om alle agterstallige betalings in te haal en te verseker dat Sapo nie weer versuim om sy kontraktuele verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom nie.”

Die Poskantoor het sy versuim om dié verpligtinge na te kom aan kontantvloeiprobleme toegeskryf.

“Soos die meeste ondernemings in Suid-Afrika is die Poskantoor se omset geknou deur die inperkingstyd toe dit vir die entiteit net moontlik was om Sassa-betalings te doen, aangesien dit as ʼn noodsaaklike diens geklassifiseer word,” het Reneilwe Langa, waarnemende uitvoerende hoof van die Poskantoor, destyds aan Maroela Media gesê.

“Die besluit is gevolglik geneem om die werknemers se salarisse te betaal. Byvoordele soos pensioen- en mediesefondsbydraes sal betaal word sodra die Poskantoor se kontantvloei verbeter of sodra die entiteit finansiële hulp ontvang. Die Poskantoor het aansoek gedoen om finansiering vir die Covid-19-inperkingstyd,” het Langa gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Nou wat het die poskantoor met die lede se geld gedoen wat afgetrek is.Dit is uitsleitlik vir medies en dit moet aan die fonds gaan.Daar was mos geld beskikbaar gestel vir covid 19 bègunstigdes.

Jacobus ·

Die ineenstorting van poskantoor het vele negatiewe impakte gehad. Besef dat almal wat tegnologies nie”gekonnekteer” is nie met groot gapings in kommunikasie gelos is.
Munisipale rekeninge kom maande laat indien ooit by huishoudings uit.
IRP 5 dokumente kom selde in posbusse aan.
Telkom rekeninge jare laas gesien.
Hernuwing kennisgewing van motor lisensies, jare laas.
Bankstate ens ens ens.
Toegegee dat die belaglikheid spruit uit onbevoegde samewerking van baie departemente en instellings.
Steeds dra ons mildelik by aan die fiskus vir geen diens.
Snaaks dat SASSA stelsel funksioneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.