Poskantoor waarsku teen slenters

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die publiek word gewaarsku om op hul hoede te wees vir kommunikasie wat lyk of dit van die Suid-Afrikaanse Poskantoor afkomstig is, maar in werklikheid bedrieglik is.

Volgens die sakereddingspraktisyns van die SA Poskantoor lyk dit asof die e-posse en SMS-boodskappe van die Poskantoor af te kom, maar is dit nie die geval nie.

Die bedrieglike e-posse en SMS’e meld dat ʼn pakkie weens die verkeerde adres nie afgelewer kan word nie en die ontvanger word versoek om binne 24 uur die afleweringsadres op te dateer deur ʼn skakel te klik.

“Deur op die bedrieglike skakel te klik, word die gebruiker na ’n betaalbladsy gelei waar hulle gevra word om geld in ’n rekening te deponeer om ’n pakkie vry te stel. In sekere gevalle word ’n vorm ingesluit wat ʼn bankkaartnommer en die CCV-nommer agterop versoek,” sê Anoosh Rooplal en Juanito Damons, gesamentlike sakereddingspraktisyns.

“Die kombinasie van die kaartnommer en CCV-nommer word vereis vir aanlyn aankope. As jy hierdie besonderhede met die swendelaar deel, kan hulle dalk jou bankkaart tot sy kredietlimiet gebruik vir bedrieglike inkopies”

Nog ʼn bedrieglike boodskap lui dat ʼn pakkie in Suid-Afrika afgelewer is en afleweringskoste binne sewe dae betaal moet word anders word die pakkie teruggestuur.

Volgens Rooplal en Damons sal die Poskantoor nooit vooraf invoerregte of uitklaringsgeld vra of versoek dat dit aanlyn betaal word nie. “As daar doeanegeld betaalbaar is op ’n pakkie uit die buiteland, betaal die kliënt die bedrag wanneer hulle die pakkie by die Poskantoor se toonbank afhaal.”

Die Poskantoor sal ook nooit jou bankrekeningnommer of CVV-nommers aanvra nie of kliënte versoek om hul adresbesonderhede aanlyn op te dateer nie.

“Die Poskantoor stuur vir kliënte ’n SMS of pos ʼn afhaalstrokie wanneer hul pakkie gereed is vir afhaal by ’n genoemde poskantoortak. Hierdie pakkie moet so gou moontlik afgehaal word om seker te maak dit word nie aan die sender terugbesorg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Karoo ·

Met al die sogenaamde “inteligensie” beskikbaar … wonder ‘n redelike mens, hoekom die “skelms” nie vas gevat word nie. Sekerlik is daar meer as 1 persoon agter die bank rekening waar die geld inbetaal moet word.

Anel ·

Dit is al lank aan die gang. Ek kty kort kort sulke boodskappe of eposse dat ek ook goed gewen het en ‘n bedrag moet betaal voor ek die pakkie by die poskantoor kan gaan afhaal. Ander weer van verkeie koerierdienste wat betaling vereis voor ‘n onbekende pakkie by my afgelaai sal word. Vee die goed so vinnig uit want ek koop niks wat afgelewer moet word nie!!!

Ronél ·

Blok, blok, blok…………..die slenter is aan die orde van die dag…………….paar jaar al.

Leeubekkie ·

Wie gebruik nog die poskantoor? Hulle is alreeds vir baie jare, self onbetroubaar…..

Vonkprop ·

As jy enige kommunikasie van die Poskantoor kry moet jy al klaar weet dit is bedrog. Hulle kan nie eens meer pos aflewer nie wat nog te sê sms en eposse stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.