Poskantoor-werkers steeds sonder medies

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SA Post Office/Twitter)

Die Poskantoor het wéér hierdie maand versuim om die volle R50 miljoen in mediesefondsbydraes wat hy maandeliks aan MEDiPOS verskuldig is, oor te betaal.

Boonop is die R60 miljoen waarop vroeër beslag gelê is om die Poskantoor se agterstallige skuld te verhaal, ook nog nie aan MEDiPOS oorbetaal nie, wat beteken dat lede se voordele vir eers opgeskort bly. MEDiPOS hoop egter om dié geld teen Maandag te ontvang.

MEDiPOS het in ʼn brief aan lede gesê dat die Poskantoor ʼn betaling gemaak het om September se uitstaande mediesefondsbydraes te delg, maar dat dit met R8 miljoen tekortskiet.

“Slegs R41,6 miljoen is ontvang, wat R8,4 miljoen minder is as wat die hofbevel gestipuleer het,” lui die brief.

“Die skema sal met die Poskantoor skakel oor dié betaling, en indien nodig, regstappe doen om die res van die geld te verhaal om verdere opskortings van voordele te vermy.”

Die hof het die Poskantoor verlede jaar opdrag gegee om vanaf April tot Desember vanjaar maandeliks R50 miljoen aan MEDiPOS oor te betaal, om die uitstaande bydraes te betaal.

Daar is nie by die bevel gehou nie en die laaste betaling is einde Julie gemaak, voordat die jongste betaling, hoewel net deels, betaal is. Daarom dat MEDiPOS verlede week ingevolge ʼn hofbevel beslag gelê het op ʼn bankrekening van die Poskantoor met R60 miljoen. MEDiPOS wag egter nog op hierdie geld.

MEDiPOS het nie lede wat in hul persoonlike hoedanigheid betalings tot hul mediesefondsrekening gemaak het, se voordele opgeskort nie.

Duisende huidige en afgetrede Poskantoor-werkers is die afgelope paar weke in ʼn krisis gedompel nadat MEDiPOS hul voordele weens die onbetaalde geld opgeskort het. Talle van die mediesefondslede het boonop aanmanings gekry dat hulle nou self verantwoordelik is vir die uitstaande bydraes van die Poskantoor; dít selfs al is hul voordele opgeskort.

Volgens die skema verwag hy om komende Maandag die betaling van die R60 miljoen van die balju te ontvang, waarna die opskorting van voordele dadelik opgehef sal word.

Die bank het die balju sedertdien in kennis gestel dat hy besig is met interne prosesse “insluitend die verkryging van ʼn opdrag van die Poskantoor om die betaling te maak”.

“Die skema en die Poskantoor voer samesprekings om die bank opdrag te gee om die geld vry te stel sodat lede weer toegang tot hul voordele kan kry.”

Indien dié bedrag ontvang word, sal lede weer mediesefondsdekking kry.

Die Poskantoor se onbetaalde mediesefondsrekening van R700 miljoen hang wel steeds soos ʼn swaard oor dié staatsbeheerde instansie se kop.

MEDiPOS het lede opnuut daaraan herinner dat hy van voorneme is om hierdie skuld in te vorder. Die skema het reeds na die Poskantoor uitgereik om ʼn betalingsplan te bespreek, maar daar is glo geen reaksie op hierdie kommunikasie ontvang nie.

“Hoewel die Poskantoor erken het dat die R700 miljoen-skuld wat aan MEDiPOS verskuldig is deur die Poskantoor betaal moet word, is daar nog geen betalingsreëlings met die skema getref om die skuld te vereffen nie.”

Dit is nie in hierdie stadium duidelik wat met lede se voordele gaan gebeur indien daar nie binnekort ʼn duik in die reusebedrag gemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois ·

Die staat gee glad nie om om met mense se lewens te mors nie – maar kom ons stem weer ANC

Swerwer ·

So, sienende blind en horende doof. Die Kommuniste gaan nie gehoor gee nie. Maak die useless pokantore toe en roei die kommuniste uit!

Wendy ·

So waar is die geld??????? Dis verregaande en daar gaan niks v kom nie soos met als in die land , en hul weet dit en dit skeel hul nie in di minste !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.