Postbank net nog ʼn ‘voertrog’ vir ANC-kaders

(Argieffoto: Maroela Media)

Planne om die Postbank in ʼn volwaardige staatsbank te omskep, is niks anders nie as nóg ʼn opportunistiese poging van die ANC om ʼn voertrog vir sy kaders te skep, sê die VF Plus.

Die parlement het Dinsdag die Wysigingswetsontwerp op die Postbank aanvaar.

Die stap baan die weg vir die fasilitering van ʼn oordrag in aandeelhouding van die Poskantoor na die regering en die skep van ʼn bankbeheermaatskappy vir Postbank. Dit beteken die bank skuif onder die toesig van die Poskantoor na dié beheermaatskappy en dít val weer onder die toesig van die departement van kommunikasie en digitale tegnologie.

Die Postbank het tien jaar gelede al aansoek gedoen om as bank geregistreer te word en in 2017 het hy sy aansoek vir ʼn banklisensie ingedien.

“So ʼn staatsbeheerde bank sal onhoubare druk op die fiskus plaas wat dit nie meer kan bekostig nie,” sê Wouter Wessels, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor kommunikasie.

Volgens hom is dit net nog ʼn “voertrog vir kaders” van die ANC.

Selfs voor die rampspoedige gevolge van Covid-19 en beurtkrag op Suid-Afrika se ekonomie en finansies, het die nasionale tesourie dit duidelik gestel dat ʼn staatsbeheerde bank ʼn onbekostigbare las sou wees, sê Wessels.

Volgens pres. Cyril Ramaphosa is so ʼn bank noodsaaklik aangesien ander ontwikkelende lande ʼn soortgelyke bank het. Suid-Afrika moet opsluit daarom ook een hê.

“Hierdie redenasie is net so absurd as om willens en wetens ʼn mafiabaas in die kabinet toe te laat.

“Dit is algemeen bekend dat geen staatsbeheerde onderneming in die land behoorlik funksioneer nie. Daar rus ʼn vloek van vernietiging op alles waarop die ANC sy hande lê vanweë wanadministrasie en korrupsie. Soos die Postbank tans daar uitsien, is hy reeds een van die vele mislukte staatsondernemings. Sy onreëlmatige besteding in die afgelope finansiële jaar het met R118 miljoen toegeneem,” sê Wessels.

Die bank kon nie eens ʼn veilige stelsel instel met bankkaarte vir Sassa-begunstigdes nie en R68 miljoen is in die proses verlore. Dit was boonop die heel armstes wat hieronder gely het, sê Wessels.

Postbank se IT-stelselopknapping sal na verwagting teen die einde van April afgehandel wees as deel van sy pogings om ʼn volwaardige staatsbank te word, het Khumbudzo Ntshavheni, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, vroeër gesê. Volgens die regering gaan die amptelike staatsbank ʼn belangrike rol in die ekonomiese transformasie van die land speel.

Die VF Plus stem nie hiermee saam nie.

“Die doel van die bank is bloot om geld wat tans deur private en handelsbanke geadministreer word, na ʼn staatsonderneming te skuif waar kaders maklike toegang daartoe sal hê. Die ANC het hierdie resep al vervolmaak. Die Postbank sal ongetwyfeld katastrofiese gevolge inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Postbank gaan miljarde rande silwerskoon was.

Shakespeare ·

Gee vir Klaas wat in jou tuin werk die bestuur van jou plaas oor. Tendens in RSA. CADRES YOU ARE USELESS, HYENAS AND DISPICABLE !!!

melaney ·

Jan publiek gaan ‘n stokkie voor hierdie voorneme moet plaas. Die hele land is nou behoorlik die duiwel in.

Michael ·

“Hierdie redenasie is net so absurd as om willens en wetens ʼn mafiabaas in die kabinet toe te laat”. Dis ongelukkig nie absurd nie-die mafiabaas is al jare daar-hy word die president van die land genoem

Harley Davidson ·

Die persoon wat sy geld aan die poskantoor bank toe vertrou moet regtig vreeslik dom of naïef wees .

Johan ·

Postbank = Pastbank = “die lewe is n lied met n ander man se geld.”

Vrede & vreugde

Waarom ·

Gaan staats amptenare gedwing word om hulle salaris inbetalings oor te plaas na die staats beheerde bank. Ek sien groot bedrog en moeilikheid kom.

Mariana ·

Tata Postbank. Mense moet hul geld daar onttrek. Die kaders het nie genade nie, hulle wil als vir hulself hê eb sal vat en terugkom vir nog….

Jacobus ·

Die hele kabinet is n terroristiese mafia en het klaar n mafia baas in CR. Laat CR hierdie bank begin met die miljoene dollers in sy rusbank.

annie ·

… ‘n katastrofe word dan juis beplan… Gelykmaking is mos die Marxistiese kaders se doelwit: Vernietig eers alles en bou dan daaruit ‘n paradys van die grond af op waarin almal gelyk en ryk is. Dit is die teorie. Hul werk nog aan ‘n praktiese metode van hoe nadat alles vernietig is…

Papsak ·

Ag en daar nog n lekker vreet trog vir anc en kaders eskom nou leeg geeet nou weer ander plek soek

Lillian ·

Nee hier is weer iets ongehoords aan die broei. Ek sal nie my geld by julle los nie. Kyk na VBS en waar sit daai mense wat hul geld daar gebank het nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.