Potch-beesboer se moord: ‘Ons kan nou afsluiting kry’

Marietjie en Koos van der Leeuw (Foto: Verskaf)

“Ek kan nou uiteindelik hierdie nare hoofstuk probeer afsluit.”

Só vertel Marietjie van der Leeuw (73) nadat drie verdagtes skuldig bevind is aan die moord op haar man, Koos (68).

Koos, ’n bekende beesboer en sakeman van Potchefstroom in Noordwes, is in Augustus 2015 by die dorp se slagpale deur aanvallers oorval en in die kop geskiet. Hy was vroegoggend saam met Marietjie by die slagpale om ʼn transaksie met ʼn man van Krugersdorp te beklink. Die aanvallers het op die toneel aangekom en Koos is geskiet. Hy is later in ’n Johannesburgse hospitaal dood.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, is Bibi Ngcamphalala, Idah Lebaka en Samuel Motsi, verlede maand in die rondgaande hof in Klerksdorp skuldig bevind aan moord asook op twee aanklagte van gewapende roof.

’n Vierde verdagte, Tefo Mohua, het nie vir die hofverrigtinge opgedaag nie en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy is vroeër borgtog toegestaan. Ngcamphalala, Lebaka en Motsi sal na verwagting op 4 November gevonnis word.

Marietjie vertel sy was verslae oor die skuldigbevinding. “Eers was ek verslae omdat ek besef het hulle is ook net mense met kinders en gesinne. Maar daarna het ek besef hulle het my man nie eens ’n kans gegee nie.”

Koos van der Leeuw (Foto: Verskaf)

Sy weet nie wat om tydens die vonnisoplegging te verwag nie, maar weet die skuldiges sal kry wat hulle toekom.

“Ons laat dit in die hand van die gereg. Die skuldiges se vonnis staan my eintlik nie aan nie, want ek weet die groot straf lê eendag by die Hoër Hand.”

Die afgelope vyf jaar was ontsaglik moeilik vir die familie omdat hulle nie afsluiting kon kry nie.

“Al waaraan ons kon dink, was die hofsaak. En dit het vir baie lank gesloer omdat die saak gedurig uitgestel is. Nooit sal daardie afsluiting regtig daar wees nie, maar vir nou kan ek net probeer aangaan met my lewe.”

Marietjie moes leer om sonder Koos aan te gaan en bestuur sedert sy dood die beesboerdery.

“Ons mis hom veral met elke verjaardag en Kersfees. Sy dood voel steeds onwerklik. Ek voel heeltyd dat hy gaan terugkom of dat ek hom in sy werkkamer op die plaas gaan kry. Dis maar nog bitter seer.”

Marietjie vertel daardie dag by die slagpale speel steeds soos ʼn rolprent in haar kop af. Sy en Koos was in 2015 48 jaar getroud en het beplan om vir hul 50ste huweliksherdenking na die VSA te gaan.

Van links voor: Rita van Rensburg (skoonsuster), Karli van der Leeuw (kleindogter), Karien van der Leeuw (skoondogter), Marietjie van der Leeuw (vrou)
Van links agter: Willie van Rensburg (swaer), Karlo van der Leeuw (kleinseun), Karel van der Leeuw (seun) (Foto: Verskaf)

“Ons het op die ouderdom van 17 begin uitgaan. Ons het mekaar help grootword en het saam uitdagings in die lewe deurgemaak.”

Marietjie sê hul seun Karel mis ook veral sy pa omdat hy twee tot drie keer per dag met hom oor die foon oor boerdery gepraat het. Haar dogter, Mornette Schonfeld, het twee jaar ná Koos se dood ná ’n operasie verlam geraak, wat verdere uitdagings vir die gesin tot gevolg gehad het.

Op die dag van Koos se moord het vier mans in ʼn blou Subaru, sonder ʼn registrasienommer, omstreeks 05:45 by die slagpale stilgehou. Die bestuurder het in die motor bly sit en drie gewapende mans het uitgespring en die sakevennoot oorval. Hulle het hom gedwing om op die grond te lê en hom van die kontant wat in sy besit was beroof.

Marietjie het in die bakkie agter die stuurwiel gesit. Koos het die mans gesien en sy vuurwapen gegryp. Net nadat hy dit oorgehaal het, het hulle altesaam vier skote op hom en Marietjie afgevuur.

Marietjie het gesê Koos was ʼn held omdat sy optrede haar en die vennoot se lewe gered het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Alle sterkte tannie en die familie mag God julle dra!

Kyk hulle in die gesig en moet nie eers jammer wys nie, want hulle dink nie eers aan dit nie. Sinnelose moorde op ons as blankes…

Celeste ·

Elke dag word daar nog mense genoem wat sterf in plaasmoorde en elke dag sing mense dieselfde liedtjie van “die regering moet wakkerskrik”. As mense teen die tyd nog nie besef dat boere op hulle eie is nie gaan jy dit nooi besef nie. Die regering voel n veer, hulle is besig om staats grond vir swart boere te gee met die idee dat wit boere nie meer nodig gaan wees nie. Belaglik ek weet. Maar hoe minder wit boere hoe meer geleenthede vir swart boere. As boere nie gaan opstaan en hulle self beskerm nie gaan hulle slagoffers word. Om kruise te plant help niks, hulle breek dit af, om n klomp motorfietse bymekaar te kry en te ry, help niks, dit beskerm nie die boer nie. Bewapen jouself en wees bereid om terug te baklei anders gaan hulle die laaste se he. Daar moet nou minder gepraat word en meer opgetree word, regtig opgetree word

Stefnie ·

Ek stem 100% saam en ons moet begin werk verskaf aan ons eie mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.