Pravin Gordhan gooi knuppel in Gupta-hoenderhok

Pravin Gordhan. Argieffoto

Pravin Gordhan. Argieffoto

Pravin Gordhan, minister van finansies, het hofstukke ingedien om uitsluitsel te kry oor sy verpligting as minister om die Guptas by te staan in hul stryd teen die land se banke.

Die respondente in die hofstukke is 14 geregistreerde maatskappye in die Oakbay-groep van maatskappye wat bande met die Guptas het sowel as Absa, Standard Bank, Nedbank, FNB, die president van die reserwebank en die Finansiële Intelligensie Sentrum (FIC).

Gordhan verwys in die hofstukke na ʼn dokument wat hy in Augustus van die FIC ontvang het met besonderhede oor “verdagte” transaksies van meer as R6,8 miljard wat Gupta-maatskappye tussen 2012 en Junie 2016 gedoen het.

Die hofstukke verwys na Oakbay wat in April aangekondig het dat bogenoemde vier banke hul bankrekeninge gesluit het en dat ander maatskappye soos KPMG en Sasfin hul verhouding met die maatskappy beëindig het. Dit het gevolg ná bewerings van beweerde staatskaping waar die Gupta-familie glo ʼn invloed gehad op regeringsaanstellings.

Volgens Gordhan het Oakbay hom hierna genader en versoek dat hy as minister van finansies tussenbeide moet tree aangesien die besluite van die bank en ander maatskappye volgens hulle politiek gemotiveerd was. Daar is ook kommer uitgespreek oor die moontlike werksverlies wat dit tot gevolg kon hê.

Volgens Gordhan was hy bekommerd oor die werksverliese wat die besluit tot gevolg kon hê en het hy besluit om te kyk hoe hy die situasie wetlik kon beredder. Gordhan het hierna vergaderings met Oakbay se verteenwoordigers gehad en kommunikasie is by verskeie geleenthede tussen die partye gevoer. Gordhan het regsadvies ingewin en dit het duidelik geword dat hy nie by magte was om in te meng nie. Oakbay het egter voortgegaan om Gordhan se hulp te vra en hy het verdere regsadvies ingewin. Gordhan het ook aan die registrateur van banke en die direkteur van die FIC geskryf waarna hy die dokument van die FIC ontvang het.

Gordhan verwys in die hofstukke ook spesifiek na een transaksie van R1,3 miljard rakende die rehabilitasietrust van die Optimum-myn. Die R1,3 miljard was volgens die prokureurs van Optimum se ondernemingreddingspraktisyns veronderstel om van ʼn Standard Bank-rekening na die Bank van Baroda oorbetaal te word. Dit is egter nie duidelik of dit wel gedoen is nie.

“Dit is belangrik dat die betaling van fondse aan ʼn mynrehabilitasietrust in beginsel kwalifiseer vir ʼn belastingaftrekking in die hande van die belastingbetaler. In ruil is die mynrehabilitasietrust vrygestel van belasting. As daardie geld aan enigiets anders as ware mynrehabilitasie bestee is, stel dit die fiskus nie net aan ’n verlies aan belastinginkomste bloot nie, maar word die las van mynrehabilitasie ook op die fiskus geplaas.”

Gordhan vra vir uitsluitsel van die hof aangesien hy meen die persepsie dat geregistreerde banke sonder rede opgetree het is skadelik vir die reputasie en integriteit van Suid-Afrika se finansiële- en banksektore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois Marais

Ja, nou gaan die poppe begin dans……

Ouman

Wie het toestemming gegee dat die fondse in die rehabilitasie trusts vrygelaat kon word. Verstaan dit vereis toestemming van departement verantwoordelik vir mynwese.Watter minister is in beheer van mynwese? Ek vra maar net

Hasie

Lyk tog of die wiel draai.

Peet Schabort

Het ons destyds (2007/8) vir Gordhan gehad as minister van finansies toe Deon Basson sy stryd aangehad het met Sharemax en daardie tyd se ministers van finansies en van handel en nywerheid nie na hom wou luister, dan sou sake ook heelwat anders gelyk het met Sharemax. Gaan tik “Deon Basson en Sharemax” in op die internet en kyk hoe Deon vooruit geweet het van wat aan die gebeur was. Maar nee, ministers dink mos hulle weet alles of sou dit dalk wees dat in hierdie geval hulle nie sou verstaan wat Deon Basson hulle aan die verstand wou bring?… Lees meer »

Buitestander

Nou begin dit duidelik word waarom die OB verslag nie dirrek ooenbaar mag word nie! Sit jou slim kind.