Pravin Gordhan roep halt

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het aangekondig dat hy binne die volgende paar weke uit die politiek tree.

Die verwagting is dat die 74-jarige Gordhan, ʼn veteraanpolitikus en kampvegter teen apartheid, ná die algemene verkiesing op 29 Mei uit aktiewe politiek sal tree. Gordhan het in sy loopbaan verskeie sleutelposisies in die kabinet en elders in die staat beklee. Hy is onder meer ʼn voormalige minister van finansies, ʼn voormalige minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ʼn voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (tussen 1999 en 2009) en dien tans as minister van openbare ondernemings.

Hy het ʼn leidende rol gespeel in die stryd om apartheid te beëindig en was ʼn aktiewe lid van die ANC ondergronds.

Gordhan het in ʼn onderhoud met Business Day gesê hy wil nou sy gesin en gesondheid prioritiseer en het aangedui dat hy hom nie herkiesbaar sal stel vir die ANC se kandidatelys nie.

“Ek voel dit is tyd om op my familie en my gesondheid te konsentreer. Dit is die einde van 50 jaar van aktivisme, maar ek sal altyd ʼn aktivis bly. Dit was ʼn besonderse voorreg om in verskeie hoedanighede te dien en hopelik kan ek bydra deur dit wat ek weet aan ʼn nuwe en jonger geslag oor te dra,” het Gordhan aan Business Day gesê.

Die ANC se kandidatelys moet Vrydag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien word en Gordhan se aankondiging is moontlik in reaksie op bespiegeling dat hy nie op die regerende party se lys van voorkeur- parlementêre kandidate is nie.

Nie almal sal ʼn traan stort wanneer Gordhan die kantoordeur finaal agter hom toetrek nie; kritici wat meen hy moet die skuld dra vir die volgehoue sukkelvertonings van talle staatsbeheerde instellings waarvoor sy departement verantwoordelik is, sal bes moontlik feesvier.

Mmusi Maimane, leier van Build One South Africa (Bosa), het in reaksie op Gordhan se aankondiging gesê staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) is vandag in ʼn veel meer benarde toestand as die dag toe Gordhan in sy huidige pos aangestel is.

“Die president moes hom afgedank het vir sy mislukkings by Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en verskeie ander SBO’s,” het Maimane op X geskryf.

“Ons sal hom as ʼn sleutelprioriteit terugroep parlement toe om verantwoording te doen.”

Die politieke ontleder Jamie Mighti het op X geskryf Gordhan “se nalatenskap is geheimhouding en versuim om verantwoording te doen”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Willem ·

Perfek, absoluut GEEN verskil gemaak in die departemente waarvoor hy pa gestaan het nie.

Danie ·

Ja sy geld sakke vol geprop nou kan hy heeldag gaan sit en samoosas eet.

Oosieoos ·

Te laat moes dit gedoen het toe hy nog vertou kon word het nou alles opgemors waar hy betrokke was

Mariana ·

Nou ja een of ander tyd moet en sal hulle die sinkende skip verlaat. Hy het nou genoeg bymekaar gemaak vir sy aftrede. Die res is nog besig om te oes aan dit wat oor is….

Republikein in die Wes Kaap ·

Sy enigste sleutelpos was as apteker in ‘n staatshospitaal.

Marthinus W ·

My skoonsuster had n redelik senior pos by SARS, en volgens haar het Pravin SARS tot n wereldklasorganisasie gelei.

My oorlede broer moes Jhb se water- en ligterekenings uitsorteer. Na drie maande is hy ingeroep, en vertel hy het n “wonderwerk” reggekry. Toe word hy ingeroep deur die finansbaas, wat hom gedwing het om op sy kniee te gaan, en om verskoning te vra, want my broer se werk wys nou die vinger na hom. Sy kollega in Braamftn het n verslag opgestel oor al die korrupsie, wat die volgende dag ingedien sou word. Toe hy by sy kar kom, was die verf met n spyker gekrap, daar was n boodskap op die venster: “As jy die verslag indien, verkrag ons jou vrou en dogter, en brand dan die huis met hulle binne-in af. En dan om ons vir jou”. Die verslag is nooit ingedien nie, my broer is haastig verplaas Pmb toe om Umgeni Water se probleme op te los, en die korrupsie het voortgegaan.

Pravin was nie n supermens nie; hy had sy foute, maar die oormag is baie groot.

Gert ·

Hy weet die ANC boot is besig om te sink en sy betrokkenheid by staatskaping weens kader ontplooing maak hom senuagtig.

Jannie van Niekerk ·

Eintlik moet alle politici wat ouer as 55 is aftree. Kyk net na die spul ou fossiele wat oor ons landsake moet besluit. Geen wonder ons land is in sy peetjie nie want ek persoonlik dink die ouderdom het al die helfte se verstand aangetas. Kyk maar net na Tannie Kopdoek en Oom Hoed se onnosel optrede

Windhond ·

Wil hy nie graag vroeer loop nie, sekerlik het sy vrou genoeg om hom by sy huis besig te hou

Andre ·

…ja dankie, jy’t genoeg skade aangerig.
Ek hoor die weer in Dubai is so lekker díe tyd van die jaar.

JohanR ·

Sal hom, NDZ, en Naledi Pandor glad nie mis. As Bheki nou saam met hulle loop dan is dit ‘n lekker lekker 2024. Oe JA en nog beter as die ANC die verkiesing verloor!

Dries ·

Jammer hy’t nie uitgetree toe Andre de Ruiter nog daar was nie. Met sy inmenging in ESKOM en SAA is almal slegter daaraan toe as voor hy betrokke geraak het. Dis maklik om te sê die ANC is alles laat agteruit gaan maar hier het ons darem ‘n naam om aan die huide gemors en toestand te koppel.

Papsak ·

Ja hy goed op gemors lankal tyd bye bye Gordhan mos nou genieg gekd nou word familie en gesondheid voor gegooi

M ·

Vals mens , vet gevreet aan korrupsie en daardeur , 2-gat-jakkals, bedrieër, JY moet onthou JY gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste Skepper kan verduidelik hoe JY gelieg en bedrieg het . Slaap elke nag so onrustig soos wat geen mens begeer nie. Skuus, maar jy gaan dit deurmaak.

Cherokee ·

..kragaap is seker een van (baie van) julle wat hom selfs as staaspresident wou gehadhet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.