President moet grondwetlikheid van NGV toets

(Foto: pixabay)

Pleidooie om die grondwetlikheid van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te toets voordat dit enigsins bekragtig word, is opnuut aan pres. Cyril Ramaphosa gerig.

B4SA en Business Unity South Africa (Busa) het die president Sondag onder meer versoek om die omstrede wetsontwerp, wat in November in die parlement aanvaar is, na die Nasionale Vergadering terug te stuur.

Dié organisasies, wat Suid-Afrika se sakesektor verteenwoordig, sê hulle ondersteun wel ʼn beleid wat universele gesondheidsorg betref, maar nie in die huidige formaat nie.

“Wat die land nodig het, is ʼn NGV wat deur die Grondwet ondersteun word en wat bekostigbaar en uitvoerbaar is. Hierdie wetsontwerp voldoen nie aan hierdie kriteria nie en is nie gereed om as wetgewing onderteken te word nie,” sê Cas Coovadia, Busa se uitvoerende hoof.

Die sakegroepe het deurgaans gewaarsku dat die wetsontwerp, soos dit vandag staan, toegang tot universele gesondheidsorg wesenlik sal vertraag, tot disinvestering in die gesondheidsorgsektor sal lei, Suid-Afrika se reeds brose ekonomie verder sal beskadig en aansienlike risiko’s vir die land sal skep in terme van die beskikbaarheid, gehalte en bestuur van gesondheidsorg.

Martin Kingston, voorsitter van B4SA, meen die aanvaarding van die NGV-wetsontwerp in sy huidige formaat sal verwoestende gevolge hê vir die land en sy mense wat oor geslagte heen sal strek.

Kingston sê dit is dus uiters belangrik dat die president verseker dat die wetsontwerp grondwetlik is voordat dit enigsins ingestel of stuk-stuk geproklameer word, soos voorgestel is.

B4SA en Busa het verskeie tekortkominge met die wetsontwerp uitgelig, onder meer ʼn onvoldoende prosedurele proses en ander problematiese prosedures; ʼn mening van die parlementêre regsdienste oor die ongrondwetlike dele van die wetsontwerp wat bloot geïgnoreer is; die proses wat deur die Nasionale Raad van Provinsies se komitee oor gesondheid en maatskaplike dienste gevolg is; risiko’s verbonde aan die enkelfondsmodel; die onbeperkte mag wat aan die minister van gesondheid verleen sal word; risiko’s vir die private én openbare sektor en botsings met ander wetgewing.

NGV ‘juis nie oplossing’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het Maandag sy steun vir dié sakelui gegee. Solidariteit, wat gereed is om die wetsontwerp in die hof te beveg, het die wetsontwerp uit die staanspoor teengestaan en stem saam dat dit ongrondwetlik en onwerkbaar is.

“Dis ʼn ideologiese wet en die ANC se ideologiese blindheid gaan die wet onderteken. Ideologie hou nie rekening met die werklikheid nie.

“Solidariteit is gereed vir die moeder van alle hofsake oor die NGV. Ons toets eerstens die wettigheid van die poste wat reeds gevul is om die NGV in werking te stel. Tweedens toets ons die grondwetlikheid van die sertifikaat van behoefte wat vir mediese praktisyns wil voorskryf waar hulle praktiseer. Dit is ʼn kernpilaar van die NGV.

“Stamp ons dit om, ontwrig ons hul pogings. Vir albei hofsake het ons al hofdatums.”

Hermann sê Solidariteit se derde groot hofsaak is teen die NGV-wet self, en hulle sal hul hofstukke hieroor indien sodra Ramaphosa die wetsontwerp dalk onderteken.

“Hy [Ramaphosa] is reeds op terme geplaas. Indien hy voortgaan, sal hy wetende roekeloos wees en dan beplan ons om ʼn kostebevel teen hom in sy persoon te vra.

“Solidariteit is een van die enigste instellings wat, teen groot koste, ʼn behoorlike kosteontleding van die NGV gedoen het. Ons kosteontleding is beter as enige berekenings van die staat. Dit wys duidelik die land kan nie die NGV bekostig nie.

“Ons doen ook gereeld opnames om mediese praktisyns se gevoel oor die NGV te toets. Dit het oor die jare verander en bykans 100% is nou al negatief.”

Volgens Hermann is Solidariteit se stryd nie teen die NGV nie, maar ten bate van gesondheidsorg.

“Om die NGV stop te sit is goed vir openbare en private gesondheidsorg. Hoe meer privaat, hoe meer vermoë word vir die staat geskep. Ons werk ook hard om ʼn bekostigbare hoëgehalte-gemeenskapsantwoord buite die staat te vind.

“Suid-Afrika smag na ʼn alternatief tussen die winsgedrewe privaat sektor en die swak openbare sektor. Die NGV is juis nie dít nie. Dit gaan alles laat inplof. As ons teen die NGV veg, ontken ons nie die uitdagings van die privaat sektor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

George ·

Die gaan Cyril se pockets net nog dieper maak, hy en sy pelle sin, so natuurlik gaan hy dit goedkeur.

Pieter ·

As julle, julle job gedoen het in 2007 dan sou mediese pryse nie so hoog gewees het nie… Julle kon nie eers die tariewe se pryse onderhou nie, hoe gaan julle die res doen? So saam PMB. Julle breek al af van daai tyd af sodat julle kan implementeer wat julle wil.
Dis hoe dit staat maak. Breek en wil dan die hero wees…

Wakkerslaper ·

Hoekom sal kommuniste die geleentheid verby laat gaan om beheer nog meer te sentraliseer, die elite nog ryker te maak en die res nog armer…?

OW ·

Goeie en uitstekende werk Solidariteit.Wag net vir goedkeuring en dagvaar die daglig uit die regering uit.

Andre ·

…soos altyd, gaan die A en C weer doen wat hy wil.
Hy regeer dan oor skape!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.