Pretoria-huisvrou en dogter reis om die wêreld

Renske en Amike saam op die wêreldvaart tydens Kersfees laasjaar. (Foto: Verskaf)

Deur Michelle Hammann

ʼn Bootreis van 274 aande, wat besoek aflê by 65 lande, 11 wêreldwonders en sewe vastelande. Dit is die avontuur wat Renske Lammerding van Die Real Housewives van Pretoria en haar dogter, Amike Oosthuizen wat al self ʼn bekende op TikTok is, nou aangepak het.

Hul gesin is aan boord die Serenade of the Seas, ʼn skip wat deel van die Royal Caribbean se nege maande lange wêreldvaart vorm.

Die avontuur het op 10 Desember in Miami, Florida, afgeskop en sal op 10 September, ná nege maande, weer daar anker gooi.

Renske se man, Heinrich Lammerding beplan hierdie wêreldvaart al vir twee jaar lank. Hy het dit as die ideale gesinsvakansie beskou en ʼn fantastiese manier om sy aftrede uit die landboubedryf te vier. Dit is Royal Caribbean se langste vaart ooit met die skip se roete wat Italië, Frankryk, Antarktika, Hawaii, Australië, Suid-Korea, Griekeland, die Bahamas, Doebai en ʼn verdere 40 hawens, wat skaars of nog nooit deur hulle besoek is nie, insluit.

Gelukkig kan Jan Alleman die hele bootreis beleef deur Amike se daaglikse TikTok- video’s, want om self op die skip te wees, kos ʼn arm en ʼn been: tussen R1,1 tot R2,2 miljoen per persoon.

Amike se TikTok-rekening staan tans op meer as 275 000 volgelinge waarvan die meeste by haar aangesluit het sedert sy video’s van haar pakkery vir die reis begin deel het. “Ek was geskok oor hoe vinnig my rekening gegroei het en ek is opgewonde oor die deure wat dit vir my vorentoe kan oopmaak,” vertel sy aan Maroela Media oor die geleenthede wat reeds deur handelsmerke aan haar gebied is.

Die boot se personeel het Amike en die groep TikTok-beïnvloeders met ʼn deftige sesgangmaaltyd en ʼn spesiale sushi-klas bederf vir die groot hoeveelheid belangstelling wat hul plasings aanlyn lok. Die wêreldvaart se hutsmerke #WorldCruise en #CruiseTok het al meer as 248 miljoen trefslae op TikTok gekry, en volgelinge beskou dit as ʼn regstreekse werklikheidsreeks van nege maande waarin al die “karakters” aanlyn video’s plaas. “Dit is ongelooflik, want mense herken my al in party lande waarheen ons reis.”

Ruim see-uitsig kamer met ‘n balkon waarin Amike bly op die skip. (Foto: Verskaf)

Haar video wat die meeste kykers tot nou toe gelok het, met meer as 6,3 miljoen kykbeurte, handel oor die Drakedeurgang. Dit is ʼn onstuimige stuk oseaan van Suid-Amerika na Antarktika waar die golwe hoogtes van meer as 20 meter kan haal. Sy was verlig toe die kaptein die roete verander het om die gevaarlikste deel daarvan uit te sny, maar teleurgesteld dat hulle weens slegte weer nie by Frans-Guiana of die Falkland-eilande kon afklim nie.

Renske vertel dat die beste deel van die skip is dat ʼn mens glad nie enige tasse hoef saam te dra terwyl jy plekke verken nie, omdat jy heeltyd op die boot woon.

“Dit is soos Sun City op die see: daar is alles,” vertel dié Pretoria-huisvrou aan Maroela Media.

Die passasiersboot spog met 13 verdiepings, 12 enorme sitkamers en kroeë, twee swembaddens en drie buitelugborrelbaddens. Reisigers geniet graag piekelbal, vasvra-aande, rotsklim en kompetisies by die swembaddens aan boord.

Renske meen die luukse reis is die vinnigste en goedkoopste manier om die hele wêreld te verken, want alles wat ʼn reisiger benodig is reeds by die prys van die vaart ingesluit. Alle pakkette sluit komplimentêre geriewe in soos vervoerkoste na uitstappies in die binneland, besigheidsklasvliegkaartjies na die vertrekpunt van die boottog, toegang tot ʼn spesiale gala die dag voor die vertrek, met oornag hotelverblyf, gratis onbeperkte hoeveelheid kos, drankies en alkohol aan boord, internet en wasgoeddienste in.

@renskelammerding

#royalcaribbean #serenadeoftheseas #cruising #travelling #aroundtheworld #ultimateworldcruise #ultimateworldcruise2023 #9monthscruise @amikeoostuizen

♬ original sound – Renske Lammerding

“Die wêreld is soos ʼn boek en elke bestemming is ʼn hoofstuk,” vertel Renske opgewonde. Sy was baie bedrywig in die tydperk ná haar deelname aan die Real Housewives-reeks. Renske het verlede jaar die Mrs Globe-skoonheidskompetisie bestuur, maar het intussen uitgetree weens “politiek agter die skerms”. Dit was vir haar ʼn groot teleurstelling, aangesien mentorskap en om ander vrouens te help haar groot passie is.

Renske noem ook dat sy steeds goeie vriende is met van die vroue wat saam met haar op Real Housewives verskyn het soos Rhona en Marié, maar dat sy die ander min sien.

Amike, haar man Gustav Oosthuizen, Renske en haar man Heinrich Lammerding voor “Christ the Redeemer” in Rio de Janeiro in Brazilië. (Foto: Verskaf)

“Ek het geleer om meer versigtig te wees oor wie ek toelaat in my kringe na Real Housewives.”

Verder het sy baie tyd daaraan spandeer om te reël vir die oorweldigende 18 visums wat hulle elkeen aan boord as Suid-Afrikaners benodig het. “Dit was ʼn nagmerrie en ons het nou nog nie visums vir Engeland, China of Japan nie.”

Sy en Amike het ook glo vooraf geoefen om hulle eie naels op die boot te kan doen.

Renske sien uit daarna dat haar seun ook in April by hulle gesinsvakansie sal kan aansluit. Op haar beurt, kan Amike nie wag om Australië, Denemarke, Nieu-Seeland en Swede vir die eerste keer te beleef nie. Argentinië en Uruguay se asemrowende skoonheid het hulle aangenaam verras, en die skip het onlangs direk verby pikkewyne en walvisse in Antarktika gevaar. “Dit is ʼn eens in ʼn leeftyd ervaring!”

Amike reken elkeen moet die geleentheid aangryp om die wêreld op ʼn boot te toer – mits jy nege maande se medikasie, ʼn goeie kamera, internasionale produkte wat maklik vervang kan word én die energie het om soveel moontlik te doen as wat jy kan, is jy reg vir hierdie bootreis, meen sy.

“Ek is bly om dit te kan beleef saam met my beste vriendin, my dogter,” deel Renske trots.

  • Volg Renske hier op TikTok, en Amike hier om dop te hou wat dié ma en dogter op hul maande lange wêreldvaart aanvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is beslis geld in landbou. Vra sommer vir Ramaphosa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.