Pretoria-waterprobleme duur voort

Argieffoto van Pretoria-middestad (Foto: Clayton Majona/Pixabay)

Inwoners in Pretoria word versoek om die munisipaliteit te help om water so spaarsamig as moontlik te verbruik, omdat die watertoevoer van Rand Water nog nie na wense is nie.

Maroela Media het vroeër berig die voortslepende waterkrisis in die ooste van Pretoria het daartoe gelei dat sommige gebiede al vir sewe tot tien dae sonder water sit en inwoners is meer as moedeloos. Waterlekkasies, beurtkrag en leë reservoirs kry skynbaar die skuld dat sommige dele nou al tien dae lank sonder water sit en amptenare van die Tshwane-metro spook om die veelvuldige waterprobleme saam met Rand Water op te los.

Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit, sê die Garsfontein-reservoir het oornag geleidelik verbeter en staan tans op ʼn gemiddeld van 39%. Daar is nie ʼn sterk vloei van Rand Water na Garsfontein nie, en dit het aanleiding gegee tot die effense herstel.

Die Elarduspark-reservoir staan op 32%, omdat Garsfontein nie meer uit dié reservoir pomp nie. Die aanvraag by die Garsfontein-reservoir is egter groter as die aanbod.

Daar is geen beweging by die Mooikloof-reservoir nie, en dit staan tans leeg op 1,98% weens ʼn gebrek aan voorsiening van Rand Water.

Parkmore-hoogvlak (HL) en -laagvlak (LL)-reservoirs, wat Menlyn en omliggende gebiede bedien, is in ʼn relatiewe goeie toestand op onderskeidelik 62% en 69%.

Daar is ook nie enige beweging by Grootfontein-reservoir nie, met die huidige vlak op 4,16%. Dit is ná die munisipaliteit dié reservoir Sondag en oornag grootliks afgeskakel het om water in die reservoir te behou.

Bokaba sê Rand Water se Bronberg-reservoir het herstel en is tans op ʼn gemaklike 65%.

In die weste is die Heights-reservoirs ook in ʼn goeie toestand op 97%.

Die Laudium-reservoir het oornag van 5,21% na 25% verbeter. “Dit is steeds egter kommerwekkend, omdat dié reservoir oornag gewoonlik tot meer as 50% kan herstel. Die verskaffing van die Rand Water-stelsel is dus steeds minimaal.”

Die Atteridgeville HL-reservoir, wat ook Kalafong-hospitaal bedien, is tans leeg, omdat daar nie voldoende druk van Rand Water af is om die reservoir te bereik nie. ʼn Toegewyde watertenker is ontplooi om die hospitaal van water te voorsien.

Lotus Gardens-reservoir het oornag van 21% na 28% toegeneem, wat beteken daar is ook hier baie min vloei van Rand Water na die reservoir.

Die Magaliesberg- en Rosslyn-reservoirs staan tans onderskeidelik op 34% en 53%. “Dit is onrusbarend, maar dié vlakke behoort verbruikers deur die dag van water te kan voorsien.”

Bokaba sê inwoners word gemaan om water baie spaarsamig te verbruik om dié reservoirs te help.

Daar is steeds onvoldoende verskaffing van Rand Water na die Soshanguve-reservoirs en dit het deurnag slegs van 4% na 13% gestyg. Rand Water se Hartebeeshoek-reservoir, wat die Soshanguve-reservoirs bedien, het intussen van 14% na 27% verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wildemien ·

Ek wil ook weet – WAT is die rede vir die “onvoldoende verskaffing” vanaf Rand Water?
Pype seker stukkend. Of gedurige wanbetaling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.