Prins Buthelezi sterk stadig maar seker aan

Mangosuthu Buthelezi (Foto: Bongani Mbatha /African News Agency (ANA)

Dit gaan beter met prins Mangosuthu Buthelezi, voormalige leier van die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) en tradisionele premier van die Zoeloes, nadat hy sowat twee weke gelede weer in die hospitaal opgeneem is.

Dit volg ná hy ’n komplikasie ontwikkel het nadat hy ’n prosedure vir rugpyn ondergaan het.

Volgens Buthelezi se familie gaan dit elke dag beter met hom, maar hy bly vir eers nog in die hospitaal se intensiewesorgeenheid (ICU).

Die familie sê hoewel die prins nog intensiewe sorg ontvang, is hulle bemoedig deur die vordering wat hy tot dusver gemaak het. Hy sal in die hospitaal bly totdat hy ten volle herstel het.

Buthelezi word later vandeesmaand 95 jaar oud.

Maroela Media het vroeër berig die prins is ná die rugprosedure uit die hospitaal ontslaan. Hy is egter weer opgeneem vir verdere behandeling en herstel nadat sy rugpyn nie genoegsaam opgeklaar het nie.

Hy het daarna ’n komplikasie ontwikkel en sal vir eers in die hospitaal bly om die nodige mediese sorg te ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.