Private sektor moet grensposte help regruk

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek. (Foto: Departement van openbare werke)

Die regering gaan hom tot die private sektor wend in ʼn poging om die land se chaotiese grensposte te help opknap.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, sê die herontwikkeling en opknappingswerk moet lei tot doeltreffende oorgrensbestuur en die beweging van mense, goedere en dienste; verbeterde administrasie; beter ekonomiese integrasie in die streek; verbeterde inkomste-invordering en ʼn einde aan onwettige invoere; die beskerming van die plaaslike bedryf teen skadelike in- en uitvoere; en doeltreffende migrasiebestuur wat die stuit van onwettige immigrasie insluit.

Suid-Afrika het 72 grensposte waarvan 53 op land is, 11 is internasionale lughawens en agt is hawens wat nou deur die grensbestuurowerheid bedryf word.

Ses van die grootste en besigste grensposte op land wat betref verkeersvolume, is nou vir herontwikkeling geoormerk:

  • Beitbrug (Zimbabwe)
  • Lebombo (Mosambiek)
  • Maserubrug (Lesotho)
  • Ficksburg (Lesotho)
  • Kopfontein (Botswana)
  • Oshoek (Eswatini)

Motsoaledi sê dit is by dié ses grensposte waar die staat die private sektor se hulp inroep om met die herontwikkeling, infrastruktuur- en veiligheidsverbeterings te help.

Die projek word op grond van ʼn vennootskap tussen die staat en die private sektor onderneem en die verkrygingsproses is dus onderworpe aan die bepalings van die tesourie daaroor. Die tesourie vereis spesifiek dat ʼn ooreenkoms tussen die staat en die private sektor bekostigbaar moet wees en verseker dat die regering waarde vir sy geld kry. Groot tegniese, bedryf- en finansiële risiko’s word ook na die private vennoot oorgedra.

Belangstellende private ondernemings is reeds genooi om hul voorstelle in te dien.

“Die Suid-Afrikaanse regering is verbind daartoe om die jongste infrastruktuur en tegnologie te gebruik in pogings om ons grensposte op te knap en te moderniseer sodat dit voldoen aan die internasionale bestebestuurspraktyke van grensbestuur,” sê Motsoaledi.

“Die hoofdoelwit is om dit makliker te maak vir wetsgehoorsame burgers en maatskappye om Suid-Afrika deur ons grensposte binne te kom en te verlaat, terwyl die onwettige beweging van mense en goedere gestuit word.”

Die minister sê Suid-Afrikaanse grensposte is tydens die apartheidsera ontwerp met die hoofdoelwit om veiligheid te verskerp terwyl die doeltreffende fasilitering van streek- en internasionale handel agterweë gelaat is.

Volgens Motsoaledi sal dit ook nie ʼn oordrywing wees om te sê die Suid-Afrikaanse kant “van die grens lyk soos ʼn informele nedersetting terwyl die ander kant soos Sandton lyk” nie.

Sedert die aanvang van demokrasie het al hoe meer mense deur die grensposte gereis en handel in die streek het verhoog, sê Motsoaledi. Gevolglik het grensposte al hoe meer begin opeenhoop en dit het handel gepootjie.

“As jy wil sien waarvan ons praat, besoek net die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek waar jy vragmotors kilometers ver in toue sal sien staan, ure lank, op die N4-korridor.”

Mynmaatskappye in Noordwes, Limpopo en Mpumalanga gebruik hierdie grenspos, eerder as die Richardsbaai-hawe, vir uitvoere. Dit dra by tot die reuseopeenhopings. Motsoaledi sê dit is probleme soos dié wat die regering met die vennootskap met die private sektor uit die weg wil ruim.

Sommige grensposte maak byvoorbeeld nog gebruik van X-straal-tegnologie wat as uitgedien beskou word, sê Motsoaledi.

“Die oproep om die versoek vir voorstelle is gemik op ʼn vennootskap tussen die staat en die private sektor om die nuutste infrastruktuur en tegnologie by ons grensposte te gebruik.”

Motsoaledi het onder meer verwys na ʼn vragmotor, met ʼn besending besems op pad na Mosambiek, wat by die grenspos deursoek is. Nadat die besems afgepak is, is ʼn Ford Ranger ontdek wat vroeër in Sandton gesteel is.

Die minister sê dié soort voorval kan aanhou gebeur omdat voertuie lukraak op grond van ʼn risikoprofiel deursoek word en sommige vragmotors met items soos sigarette, drank en selfs mense deur die stelsel glip.

Die aanvanklike herontwikkeling sal later as ʼn bloudruk vir die opknapping van die res van die grensposte gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

LANA is ELANè ·

Wat doen die regering met al ons belasting gelde as hulle niks self doen nie? Als word nou op gewone mense en die privaatsektor geforseer as ons wil hê dinge moet glad verloop in SA.

Gertdup ·

Baie goeie besluit.Dit sal hopelik al die onwettige imegrante in hul spore stuit.

Elizabeth ·

Waarom dan ook nie polisiedienste afwentel na COCT? ‘Gangsterism ‘ sal aangespreek word?

JohanR ·

Ek dog dan Patricia de Pille het ‘n draad gespan wat R37 miljoen gekos het!

Casper ·

Gertdup,ongelukkig sal niks onwettige immigrante stuit nie.Die grense is hopeloos te lank onherbergsaam by party plekke en korrupte weermaglede en polisie.

Hendrik ·

Baie welkom gee die privaatsektor n geleentheid om n voet in deur te kry. Meer werksgeleentheid vir mense wat ek hoop bevoeg is en integriteit het.

Jo-Anne ·

Tyd vir n nuwe regering. Hierdie huidige regering dien geen doel vir ons land, behalwe om ons belasting gelde te misbruik.

OW ·

Die ANC is in die knyp,die land kan nie meer die oormaat onwettige immigrante hanteer nie.Hulle moet vir Lesufi gaan raadpleeg.Hy het juis so paar jaar gelede gesê dat die ANC staan vir,almal is welkom uit Afrika hier.

Elizabeth ·

Die ‘regering’ wil nie dienste soos polisie en sekuriteit ‘afwentel’ na CT maar wil wel die grensposte ‘afwentel’ na die privaatsekor? Hoe dan nou?????????????????

Samuel ·

Dit is ‘n skande dat die privaat sektor die regering se werk moet doen! Die sogenaamde ooreenkomste tussen die staat en privaatinstansies gaan slegs tot meer korrupsie lei.

Kokerboom ·

Dit kan werk om behoorlike grensbeheer by die grensposte te bewerkstellig solank dit NIE aan korrupte kaders gegee word. Miskien dan kan Polisie en weermagbronne beter aangewend word om lang grense te bewaak MAAR diue spul isa ook so korrup dat dit ook nie gaan realiseer

Marina ·

Solank bekwame mense nie aangestel mag word nie, sal niks verander nie. Die beste stelsels kan geimplimenteer word, maar solank amptenare korrup is, gaan alles n mors van geld wees.

Piet ·

Hierdie is wel die waarheid – Volgens Motsoaledi sal dit ook nie ʼn oordrywing wees om te sê die Suid-Afrikaanse kant “van die grens lyk soos ʼn informele nedersetting terwyl die ander kant soos Sandton lyk” nie.

Hierdie is wel NIE die waarheid – Die minister sê Suid-Afrikaanse grensposte is tydens die apartheidsera ontwerp met die hoofdoelwit om veiligheid te verskerp terwyl die doeltreffende fasilitering van streek- en internasionale handel agterweë gelaat is.

Die rede vir die huidige gemors op die grense – die huidige regering.

Andries ·

En sodra die mense die werk gedoen het en alles loop reg wil hul weer oorneem en alles weer opbogger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.