Prokureurs pak ‘krisis’ by Padongelukkefonds

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Prokureurs van tien verskillende regsverenigings eis ingryping by die Padongelukkefonds (POF) nadat dit nou reeds geruime tyd – in die woorde van LP’s – ʼn “nasionale ramp” is wat slagoffers van padongelukke in die steek laat.

Die POF spook al jare lank om die magdom eise van slagoffers te verwerk en sy finansiële verpligtinge na te kom.

Die onderskeie verenigings skryf dit toe aan “onbevoegdheid” en “nalatigheid” by die fonds en nie weens die prokureurs wat die fonds in die hof vasvat nie.

Lede van onder meer die Gautengse Prokureursvereniging, die Regsvereniging van Suid-Afrika, die Pretoriase Prokureursvereniging, die Suid-Afrikaanse Vroueprokureursvereniging en die Wes-Randse Regspraktisynsvereniging, het in ʼn skrywe uitgestippel hoe die POF en sy uitvoerende hoof Suid-Afrikaners faal – en presies wat die nadelige uitwerking daarvan op slagoffers is.

Die verenigings het die brief saamgestel namens “al die slagoffers van padongelukke”, en as beamptes van die hof en bewakers van die Grondwet.

Die skrywe kom kort nadat die skuld vir die “krisis” by die POF voor die deur van prokureurs gelê is. Lisa Mangcu, adjunkminister van vervoer, het in ʼn onderhoud met eNCA die regsverteenwoordigers blameer vir die teëspoed by die fonds.

Mangcu het onder andere aangevoer dat prokureurs wat slagoffers verteenwoordig, die rede is vir die groot agterstand in die verwerking van eise asook lang vertragings om slagoffers te vergoed.

Die POF is ʼn statutêre liggaam wat daarvoor verantwoordelik is om die koste wat deur slagoffers van padongelukke aangegaan is, te dra. Die fonds word grootliks gefinansier met geld van die brandstofheffing, maar sukkel nietemin al jare lank om kop bo water te hou.

In die memorandum sê die prokureurs die “narratief” wat die skuld op prokureurs pak vir die POF se probleme, is bedoel om die aandag af te lei van wat werklik by die fonds gebeur.

Die prokureurs sê die POF versuim om slagoffers se eise stiptelik af te handel omdat dit grootliks wanfunksioneel is, nie basiese administrasie kan baasraak nie en by onnodige litigasie betrokke is. Boonop word daar nie eens aan hofbevele gehoor gegee nie.

Die POF het glo al so ver agteruitgegaan dat slagoffers van padongelukke “letterlik verhoed word om eise teen die fonds in te dien”.

Ingryping nodig

Die prokureurs het die skrywe aan die minister van vervoer en haar adjunk gerig, asook aan die minister van justisie, die POF-raad, die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer en die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), die ouditeur-generaal en die regspraktykraad.

Hulle voer aan dat die meeste van die POF se probleme spruit uit die bestuur daarvan deur sy uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, en die regslui vra dat min. Sindisiwe Chikunga hom met ʼn bekwame leier “met die nodige regsagtergrond” vervang.

Letsoalo het glo al self toegegee dat hy slegs ʼn basiese begrip van die regstelsel het. Dit is by verskeie hofsake bevestig waar hy en die POF se raad gekap is vir hul optrede.

In ʼn onlangse hooggeregshofuitspraak in Mpumalanga is die POF beskryf as “ʼn bus met geen rigting nie” en dat die “chaotiese situasie” by die fonds deur sy uitvoerende hoof en raad veroorsaak is.

Die prokureurs voer verder aan dat die POF se besluit om weg te doen met die paneel van prokureurs wat voorheen eise ondersoek en litigasie en skikkings bestuur het, “rampspoedig” was. Die POF maak nou gebruik van staatsprokureurs vir verteenwoordiging, maar die prokureurs sê hierdie “uitkontraktering aan die departement van justisie” het tot onnodige vertragings gelei. Baie uitgawes word ook aan litigasie verkwis in gevalle waar ʼn skikking eintlik bereik kon word.

Die prokureurs wys ook daarop dat die nuwe vereistes om eise in te dien daartoe gelei het dat baie van die eise geïgnoreer word. Dit ten spyte van ʼn beslissing deur die hooggeregshof in die Oos-Kaap dat die POF die nuwe vereistes moet skrap.

In die memorandum word beweer dat basiese kantooradministrasie by die POF ontbreek. Dit skets ʼn kommerwekkende prentjie van ʼn organisasie wat nie op navrae reageer nie, e-posse onbeantwoord laat, eise verontagsaam, dokumente wanbestuur en die hulplyn onbeman laat.

Boonop “versuim [die POF] gereeld om betyds betaling [aan slagoffers] te doen” wat die balju noop om in te gryp en op die fonds se bates beslag te lê.

Die ondertekenaars van die memorandum eis ʼn dringende vergadering met diegene verantwoordelik vir die bestuur van die POF. Die prokureurs eis onder meer dat –

  • Chikunga ʼn nuwe raad en uitvoerende hoof aanstel;
  • die prokureurpaneelstelsel hersaamgestel word of genoeg staatsprokureurs aangestel word om al die fonds se sake in die hof te hanteer;
  • ʼn toegewyde POF-hof in Pretoria op die been gebring word;
  • die fonds sy stelsel vir die hantering van eise verbeter en sakebeginsels instel waar telefoonoproepe en boodskappe beantwoord en ontvangs van kommunikasie erken word;
  • die POF hofbevele respekteer; en
  • die fonds eise en rekeninge betyds betaal.

Die POF-raad se ampstermyn het reeds geëindig, maar die raad bly van krag totdat ʼn nuwe raad aangestel kan word.

Dit is onbekend of die prokureurs al enige terugvoer op hul memorandum ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.