Proteas gee hul alles teen Wallis

Van die Protea-spelers waai vir hul ondersteuners in Kaapstad. (Foto: Twitter/Netball SA)

Die Proteas het hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-netbaltoernooi gewen en mensig, dit was omtrent vir jou ʼn partytjie in Kaapstad.

Die grondslag vir die Suid-Afrikaners se uiteindelike sege van 61 – 50 is ongetwyfeld in die eerste kwart gelê toe hulle die wedstryd soos ʼn wegholveldbrand begin het.

Die een prag aangee na die ander is deur gewillige hande raakgevang en Ine-Marí Venter se doelsirkelvaardighede het gesorg dat die telbord aan die gang gebly het.

Arme Wallis het waarskynlik vir die eerste 15 minute van die kragmeting aan bomskok gely: Elke liewe Protea-beweging was luidkeels deur die tuisskare aangemoedig en die toeskouers was inderdaad die agtste Protea-speler op die baan.

Gʼn wonder die telling was 18 – 9 ná die eerste kwart nie.

Tog het Wallis nie gaan lê nie en ondanks Karla Pretorius en Phumza Maweni se uitstekende verdedigingswerk het die Feathers ook begin wys waartoe hulle in staat is.

Die Proteas het egter steeds met ʼn paar seepgladde bewegings vorendag gekom en as hulle vir die res van die toernooi met dieselfde vuur en passie as in die eerste kwart kan speel, kan die podiumplekdroom ʼn werklikheid word.

Daar moet egter nog eers baie water in die see loop.

Protea-netbalspan: Ine-Marí Venter (doel), Elmeré van der Berg (hulpdoel), Bongi Msomi (kaptein en aanvallende vleuel), Khanyisa Chawane (senter), Shadine van der Merwe (verdedigende vleuel), Karla Pretorius (hulpverdediger) en Phumza Maweni (verdediger). Plaasvervangers: Lenize Potgieter, Nichole Taljaard, Izette Griesel, Jeanté Strydom en Nicola Smith.

Saterdag se bepalings:

09:00: Nieu-Seeland teen Uganda en Zimbabwe teen Fidji

11:00: Jamaika teen Wallis en Australië teen Tonga

16:00: Suid-Afrika teen Sri Lanka en Skotland teen Barbados

18:00: Engeland teen Malawi en Trinidad en Tobago teen Singapoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.