Proteas se drome verpletter

Marizanne Kapp Donderdag in Christchurch. (Foto: Sanka Vidanagama / AFP)

Daar is ʼn ou uitdrukking in sport wat lui dat dit nie saak maak hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig.

Dit het die vrouekrieketspan van Engeland Donderdagoggend in Christchurch in Nieu-Seeland beklemtoon toe hy Suid-Afrika met 137 lopies in die tweede halfeindstryd van vanjaar se Wêreldbeker-toernooi vir vroue uitgeskakel het.

Engeland, wat sy eerste drie wedstryde in die uitklopfase verloor het, het presteer toe dit saak gemaak het en speel nou in Sondag se eindstryd teen Australië.

Dit nadat Engeland 293/8 in sy 50 boulbeurte aangeteken het en die Proteas vir slegs 156 lopies in 38 boulbeurte uitgeknikker het.

Dit was nou ook die derde keer (in 2000, 2017 en vanjaar) dat hulle in die halfeindronde vasval.

Die Proteas, wat in die groepfase net een wedstryd (teen Australië) verloor het, het hul swakste vertoning in agt wedstryde gelewer.

Dit het begin toe Engeland met Danni Wyatt (129) en Sophia Dunkley (60) aan die stuur, die Proteas se boulaanval aan die gorrel geruk het.

Shabnim Ismail (3/46), Marizanne Kapp (2/52) en Masabata Klaas (2/55) het skaflik gevaar, maar hulle het baie min ondersteuning van Chloe Tryon (0/70) en Ayabonga Khaka (1/66) ontvang.

Toe die Proteas se groot lopiemaker Laura Wolvaardt (0) met die tweede bal gevang is en Lizelle Lee (2) weer misluk het, was die slag op 8/2 geslaan.

Mignon du Preez (30), Lara Goodall (26) en Kapp (21) het nie sleg gevaar nie, maar iemand moes Wolvaardt se mantel oorneem en deurkolf, maar nie een kolwer kon die bobaasdraaier Sophie Ecclestone (6/36) baasraak nie.

Dit was voor die hand liggend dat die meesterlike Wolvaardt die een of ander tyd ná vyf 50-talle en 433 lopies in agt kolfbeurte moes misluk, maar dalk het die span te veel op haar staatgemaak en oënskynlik nie ʼn plan B gehad om op terug te val nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

piet ·

Eina. Dis ongelukkig so dat jy moet presteer wanneer dit werklik saak maak.. Die Engelse span is waarskynlik ook baie sterker ( gemeet aan vorm en potensiaal) as die een wat in die begin van die toernooi gespeel het. Hulle spelers speel nou volgens hul potensiaal. Ek weet ook nie hoekom ons kaptein besluit het om eerste te boul nadat sy die loot gewen het nie. In eindstryde is dit gewoonlik beter om die telling daar te stel want daar is meer druk wanneer jy die totaal moet jaag.

Kobus ·

Ons probleem in sport is nog altyd die BMT. Reeds met hulle vorige wedstryd gesien hulle is te angstig en doen dinge oorhaastig. Steeds ‘n prestasie om tot hier te vorder. Geluk dames en byt vas, julle beurt sal kom

Oom Kaspaas ·

So die groot “C” is lyk my nou ‘n algemene SA krieket label, nie meer net vir die mans spanne nie … dis mos hulle 2de semi uit crash …

piet ·

Ek dink ons moet ook maar eerlik wees. Meeste van ons wedstryde was ook maar broekskeur en kon enige kant toe gaan. Die Engelse span is dalk net beter as hulle volgens hul potensiaal speel.

Manie ·

Jy is reg Piet, ongelukkig het ‘n aantal van ons spelers in die toernooi misluk.

Jakes ·

Die vrouespan het eintlik maar net- net in die rondomtalie wedsrtyde deur geskraap. Nes die Protea mansspan hang die choker etiket ook nou om hul nekke. Lee het die hele toernooi teleurgestel en die kaptein moes eerste gekolf het nadat sy die loot gewen het. Die kanse dat SA die Ausies sou wen in die finaal was minder as 1%. Daar is baie talent in die vrouespan maar sielkundig is hulle nog nie gereed om groot bekers te wen nie.

Frans ·

Jammer en teleurstellend.Met Lee wat gesukkel het in die reeks was die druk deurgaans op Wolvaardt om ‘n goeie openingbeurt daar te stel waarop ander kon voortbou.Toe die druk op haar te veel was en sy uit is vir nul het die Proteas soos ‘n kaarthuis ineengetuimel.
Was daar werklik nie ‘n ander openingskolwer wat die plek van Lee kon volstaan nie?

Casper ·

Die waarheid is eenvoudig vir hierdie teleurstelling;
1 Swak boulwerk
2 Swak kolfwerk
3 Swak veldwerk
4 Swak span keuses
5 Swak veldplasings en dan kan Lizelle Lee gerus werk aan haar kondisionering laat sy beweegliker kan wees.

Manie ·

Korrek, hopeloos te veel spelers wat oorgewig is in die span. Swak kondisionering.

Johan ·

Die dag as SA sport op meriete gekies word, daardie dag sal ons ons ware potensiaal kan uitstal. Kwota-spelers is ons ondergang en tot dan weerhou ek om enige SA sport te kyk en te ondersteun. Maar dit pas die regerende misdadigers in pakke klere, hulle is ook maar onder-gemiddeld. Slegs by diefstal is ons amper nommer een in die wêreld!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.