Pta-bestuurders woedend ná bloulig-brigade glo ongeluk veroorsaak

Die kruising waar die ongeluk plaasgevind het. Foto: Verskaf

Die kruising waar die ongeluk plaasgevind het. Foto: Verskaf

Die polisie sal ʼn voorval ondersoek nadat twee Pretorianers in ʼn motorongeluk betrokke was, wat na bewering deur ʼn bloulig-brigade veroorsaak is.

Mariana Bester, wat een van die motors bestuur het, het aan Maroela Media gesê die ongeluk het Woensdagoggend by die kruising van Francis Baard- en Gordonstraat gebeur. Volgens Bester was sy in die regterkantste baan van die vier bane in die eenrigtingstraat. Langs haar in die derde baan was ʼn Toyota Hilux bakkie.

“Die verkeerslig het oorgeslaan na groen en ons het begin om oor die kruising te ry. Die volgende oomblik het ʼn motorfietsryer, wat deel was van die bloulig-brigade, van links af gejaag gekom en skielik reg in die middel van die kruising en reg voor die bakkie tot stilstand gekom,” het sy verduidelik. “Die bestuurder in die bakkie het na regs uitgeswaai om te verhoed dat hy die motorfietsryer tref en hy het hard teen die linkerkant van my motor gebots. Hy kon niks doen om die ongeluk te verhoed nie. As hy nie teen my vasgery het nie, sou hy die motorfiets getref het.”

Volgens Bester het die motorfietsryer die ongeluk sien gebeur, maar glad nie gereageer nie. Intussen het ongeveer agt motors en ander motorfietsryers wat deel was van die bloulig-brigade, verbygejaag voordat die motorfietsryer hulle agternagesit het.

Mariana Bester se motor na die ongeluk. Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Hy het nie eens van sy motorfiets af geklim om te kyk of iemand seergekry het of iets nie, ten spyte daarvan dat hy die direkte oorsaak van die ongeluk was,” het Bester gesê. “Ek verstaan ook nie waarom ons gewone burgers nie ʼn ongelukstoneel mag verlaat voordat vasgestel is niemand is beseer nie, maar ʼn beampte wat deel is van ʼn bloulig-brigade mag maar net wegjaag?”

Bester het gesê die skade aan haar motor is meer as R35 000 en die bakkie het ook skade opgedoen. Beide sy en die ander bestuurder het ʼn verklaring by die polisie afgelê waarin albei aandui dat die ongeluk deur die motorfietsryer veroorsaak is, maar hulle het sedertdien nie weer iets van die polisie gehoor nie.

“Dit was net ʼn ligte ongeluk, maar daar is soveel ongelukke wat deur bloulig-brigades veroorsaak word wat soveel erger is,” het sy gesê. “Hulle jaag net soos hulle wil met geen agting vir die veiligheid van ander motoriste of verkeersreëls nie.”

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die saak sal ondersoek word.

“As niemand in die ongeluk beseer is nie en ʼn staatsvoertuig nie beskadig is nie, sou die polisie nie op die toneel reageer het nie. Verdere ondersoek sal nou gedoen word om te bepaal wie of wat die ongeluk veroorsaak het en dan sal ons dit van daar af vat.”

Naidoo kon nie bevestig of die motorfietsryer ʼn polisiebeampte of ʼn verkeersbeampte was nie en het gesê dit sal deel vorm van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jaco ·

Woedend help niks. Waarom ry die Toyota nie die motorfiets te pletter nie?

joe ·

Leke leke nuwe SA dit gaan soos dit wil wet en orde verval totaal

joe ·

Leke leke nuwe SA dit gaan soos dit wil wet en orde verval totaal

marie viljoen ·

Ek was toevallig op pad Pretoria toe hierdie brigade op die N14 verby gejaag kom. Die motorfiets ryers sowat 4-5 het met handseine vir die motoriste beduie om links te gaan terwyl hierdie blou-lig motors met n baie vinnige spoed verby gejaag het.

MM ·

Marie ek was ook op daardie stadium op die N14 gewees, want ek ry elke oggend die N14 en dan was daar nog ‘n taxi of iets wat die vermetelheid gehad het om agter aan te jag om nie in die verkeer te staan nie.

Hy moes die Metrolid raak gery het, want hy reg voor hom gestop in die middle van die kruising. Kan jy dink wat dan sou gebeur het die die sognoemde VIP’s LMGA

Ursula Marx ·

As jy minister van rioolwerke is moet jy ook maar vroeer op staan as jy laat is vir jou daaglikse “ring sitting” soos die res van die land se belastingbetalers.

Prit ·

Bring hulle sommer terug stad toe en gee vir hulle uniforms, sal n beter job doen.

Jakes ·

Dis maar net magsvertoon van tipiese sg banana republic. Hulle is altyd laat. Het al vir minister en premier gewag en dan daag hulle ure laat op. Hulle sal nooit jaag om betyds te wees nie

Peet. Schabort ·

My IK-kommentaar is verwyder maar my IK sê dat die foto die regterkant van die Toyotabakkie is en nie Mariana Bester se motor se linkerkant.

sarie van heerden ·

As jy Cow boys wil sien moet jy laatmiddag op die R21 OR Tambo se rigting ry. As hulle jou nie teen die muur vasdruk omdat jy NIE links kan gaan omdat jyself verby die volgende motor wou kom, hou hul aan ligte flikker en handgebare maak. Hulle is ‘n absolute gevaar op die pad.

Priscilla Naude ·

Het hulle gisteroggend net na 11uur met loeiende sirenes in Noordrandweg in Boksburg voor die Birchwood Spur verby sien jaag teen ‘n hoë spoed. Klomp motorfietse en swart SUV’s met hulle donker vensters. Later oor nuus gehoor Zuma het daar een of ander groep mense toegespreek. Almal moet gee pad en koes vir hulle.Dis verregaande!!!!!!

Peet Schabort ·

Deesdae is ‘n aanboord-kamera (dash cam) ‘n absolute moet. Dis nou een ding wat nie lieg nie.

Theresa ·

Julle kan maar alles op julle mae skryf. Hiervan gaan niks kom nie. Dis die untouchables. Onthou hulle mag doen wat hulle wil.

Christie Joubert ·

“Lead by example”. Gaan lees dit op, studeer dit, verstaan dit en pas dit toe, bloulig brigade en regering!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.