Puk-student sterf onverwags: ‘Die Here het anders besluit’

Die sprankelende Charleen Meyer was oral bemind. Foto: Facebook

“Dit is vir ons bitter moeilik, maar die Here het anders besluit,” sê die ma van ʼn 21-jarige Pukkie wie se jong lewe die naweek onverwags kortgeknip is.

Gerda Meyer vertel haar dogter, Charleen, het Vrydag in haar ouerhuis in Primrose aan die Oos-Rand gereed gemaak om Saterdag saam met ʼn vriendin met vakansie te vertrek nadat sy Woensdag vir ʼn liesbreuk geopereer is, toe sy skielik van naarheid en ʼn pyn in haar been begin kla het.

“Die operasie het goed afgeloop en daar was geen probleme toe sy by die huis kom nie,” vertel Meyer van haar dogter wat vanjaar haar derde jaar in forensiese rekeningkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit voltooi het en volgende jaar haar honneurs sou doen.

“Sy het gesê sy voel nie lekker nie,” onthou Meyer. “Ek het maar gedink die pyn in haar been is ʼn kramp. Maar halfvyf se kant het sy ʼn soort toeval gehad, nie ʼn floute nie.”

Charleen se broer, André, volg in haar pa, Eugene, se voetspore en speel rugby vir die Universiteit van Johannesburg. Haar ma, Gerda, werk by haar pa se prokureursfirma. Foto: Facebook

Meyer het ʼn vriendin wat ʼn suster is en ʼn paramedikus-buurvrou laat kom om te kyk wat met Charleen skort. Hulle het ʼn ambulans laat kom. Toe die paramedici haar op die sitkamer se vloer neerlê, het haar hart gaan staan.

Ek dink dit was net te veel gewees vir daai ou liggaampie.

“Hulle kon haar hartjie weer aan die gang kry en het haar na die Life Roseacres-hospitaal geneem,” vertel Meyer. “Daar is sy op masjiene gesit en het weer begin asemhaal.”

ʼn Bloedklont het vermoedelik van Charleen se been af tot in haar longe opgeskiet, maar Meyer vertel sy was te swak om aggressiewe behandeling te kry. “Hulle kon haar nie behandel soos hulle gewoonlik ʼn bloedklont behandel nie omdat hulle bang was vir inwendige bloeding.”

Sondagoggend het Charleen, wat op 4 Januarie 22 jaar oud sou word, gesterf. “Ek dink dit was net te veel gewees vir daai ou liggaampie,” vertel haar ma. “Sy kon nie so iets hanteer nie, want sy was altyd bang vir naalde en goeters.”

Meyer sê hul gesin – haar man, Eugene, en seun, André (20) – se geloof help hulle die verlies van hul geliefde, borrelende dogter en suster aanvaar. “Dit maak nie saak hoe moeilik dit vir ons is nie, ons berus daarin.”

Ons kind het in haar kort lewetjie ʼn geweldige impak op mense gehad.

Volgens haar is die ondersteuning wat hulle van hul kerk, die AGS Primrose-Oos, se lidmate, familie en vriende kry “onbeskryflik”.

Charleen was onderhoofdogter van die Laerskool Oosterkruin. Sy sou volgende jaar haar honneurs gedoen het. Foto: Facebook

Sy vertel Charleen se groot vriendekring is geskok oor haar onverwagse dood, maar “as jy op haar Facebook al haar goedjies gaan lees, dan besef jy ons kind het in haar kort lewetjie ʼn geweldige impak op mense gehad.

“Ons kan net dankie sê dat sy soveel mense met haar Christenskap, haar getuienis en haar voorbeeld bereik het. Sy was nooit skaam om te erken dat sy ʼn kind van die Here was nie en om ʼn pad met Hom te stap en openlik van Hom te getuig nie.”

Sy sê hulle is opreg dankbaar vir die “wonderlike ondersteuning” wat hulle kry.

Sy het seker die grootste glimlag gehad wat jy ooit sal sien.

Past. Dave Strydom van die Meyers se kerk beskryf Charleen as ʼn “sprankelende en vriendelike mens wat bemin is oral waar sy gegaan het”. Hy vertel sy het “seker die grootste glimlag gehad wat jy ooit sal sien en was ewe mooi aan die binne- én die buitekant”.

Strydom, wat Charleen geken het vandat sy aan die Laerskool Oosterkuin was en later in die Hoërskool Dr. E.G. Jansen, sê al is die gemeente platgeslaan deur haar dood, beplan hulle ʼn viering van haar lewe wanneer ʼn groot aantal rouklaers Vrydag 13:00 in die AGS-kerk by Olympiastraat 25, Sunnyridge, verwag word.

“Dis haar graduation na die regte lewe,” verduidelik hy, “want die studentelewe is mos nie die regte lewe nie. Sy is nou klaar met haar eksamens en kan haar lewe in die hemel begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Deloris ·

My hart gaan uit n die gesin en vriende…. julle is in my gebede…

Sterkte ·

Baie hartseer. Ek bid dat die Here nie sulke besluite maak met my familie!

mare ·

sys pragtig die Here het besluit dis wat sal gebeur op daardie oggend

Innige simpatie en baie sterkte ·

Hierdie is baie hartseer. Mag sy die mooiste blommetjie wees tussen al die pragtige Engele wat gekleed is in wit en goud wat op hulle goue harpe speel. Die Here benodig voortdurend nuwe blommetjies en sonnestraaltjies vir Sy tuin.

Bie sterkte en innige simpatie aan die wat agterbly.

Magda Potter ·

Sterkte Gerda Eugene & Andre ons dra julle op aan die Hemelse Vader deur hierdie moeilike tyd, Julle was altyd ‘perfekte gesin.

VanAfrika ·

Dis so jammer, my innige simpatie. Mag die Liewe Heer julle dra in hierdie hartseer tyd.

Andrea ·

Sjoe hoe absoluut tragies. Baie sterkte en genade vir haar geliefdes toegebid.

izette ·

Rus in vrede……dink aan die wat agter gelaat word…stekte…..

Hannelie ·

Rus in Vrede mooie kind. Jesus het sy mooiste blommetjie gepluk vir Sy hemeltuin. Baie sterkte aan haar ouers.

Magaretha van heerden ·

Dit is altyd so n vertroosting om te hoor as iemand wat die Here geken het en in die vrese van die Here grootgemaak is, huistoe gaan. Dit bly seer vir die wat agterbly en ons dink aan hulle in die moeilike dae. Jesus weet die beste en Hy sal julle vertroos.

Magďel ·

Ek bid die vrede en berusting van Jesus Christus oor julle gesin. Mag julle vrede vind in hierdie ongelooflike verlies.
Schimper familie

Marietjie ·

Sterkte aan my nig en neef en Andre. Dit was so skielik en onverwags. Ons sal nie nou verstaan nie maar wel eendag. Sterkte vir die begrafnis vrydag. God het sy mooiste blom kom pluk. ××××

Elzette ·

❤️Wat n voorreg om te sê sy was n bitter baie goei vriendin vir my. Sy sal viraltyd gemis word.
Ek weet nou. Ekt n engel as n vriendin om elke aand me te praat! ?

Ada Steenekamp ·

Liewe Gerda en familie, ek het hoendervleis gekry toe ek die berig lees. Ons is feitlik deur ‘n identiese gebeurtenis. Ons dogter Ilana was pas klaar gestudeer as mediese student en was nog besig met haar interskap toe sy ook heeltemal onverwags oorlede is aan ‘n bloedklont op haar long. Die skok, pyn en verlange is onbeskryflik. Dis vanjaar 8 jaar gelede dat sy oorlede is en ons treur nog steeds. Maar die aanvaarding, vrede en vertroosting wat ons van ons Hemelse Vader ontvang, het ons deur hierdie tyd gedra. Baie baie sterkte met die hartseertyd wat vir julle voorlê.

jakes ·

Medelye met Charleen se familie en vriende. Ons weet sy is in die hemel en jubel saam met al die ander verlostes.

Gesiggie ·

N prag van n Engel kind… Jesus het sy mooiste Roos kom pluk om deel te wees van Sy Hemel Tuin… soveel mooi gedagtes wat gekoester kan word van Charleen… en n mens kan sien dat sy soveel mense se lewens vereik het met haar Glimlag en persoonlikheid. My innige meegevoel aan haar ouers en Familie.

Johan ·

Tyd genees alle wonde. Mag die lig van liefde en verstandhouding oor die familie skyn. Die Opperwese het haar nou op ‘n nuwe inter dimensionele koers. LAVOST.

Harry ·

Nalatige/onbevoegde dokters laat baie mense in SA sterf weens sulke bloedklonte, wat vermy kon word.

DS ·

Johan het jy al ‘n kind aan die dood afgestaan? Dan sal jy weet tyd genees nie daai wond nie. My man se ouma wat op 101 hierdie jaar oorlede is het haar seun op 29 jarige ouderdom aan kanker aan die dood afgestaan en tot met haar dood – 72 jaar later het sy nog steeds oor hom getreur.

Johann ·

Ek het. En tyd genees dit. Dis my positiewe bedrae tot die tragiese dood. DMT genees.

Marika ·

My ma is op 1 Januarie 2014 oorlede nadat sy die 24ste Desember 2013 oor ‘n klein trappie gestruikel het en haar bo-arm gebreek het . Sy is Kersoggend geopereer om die breuk te herstel. Sy het ook ‘n embolus ontwikkel wat deur haar longe is. Niks kan jou voorberei vir so iets nie! My hart gaan uit na almal in die hartseer tyd!

DS ·

Johann Die dood is tragies maar vir my is die positiewe bydrae dat my seun, Charlene en baie ander reeds is waar ek graag eendag wil wees. Glo my mens cope maar die wond genees nie – duidelik is jy een van die “gelukkiges” wie se wond met tyd genees het. Of is dit miskien net moeiliker vir ‘n ma omdat die kind uit haar liggaam gebore word? In elk geval laat ons die gesprek daar los. RIV pragtige Charlene.

Sheila ·

Gerda en Eugene ons wil net se baie sterkte vir vandag ons bid vir julle vandag gaan baie hartseer wees maar ons weet onse Vader sal met julle wees in hierdie tyd en sal julle hier deur dra baie sterkte sheila en gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.