Pype wat teaters van water voorsien, óók gesteel

Die ingang na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. (Foto: Thabiso Makelo/Panoramio)

Koperpype wat twee chirurgiese teaters by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto van hoëdrukwater voorsien, is óók vandeesweek afgesny en gesteel. Dié diefstal het die werking van die teaters se verkoelingstelsel belemmer.

Die departement van gesondheid sê verpleegsters in teaters 15 en 16 het Woensdag skielik opgemerk dat daar water uit die teaters se outoklaafstelsel (die masjien wat toerusting in die teater steriliseer) loop. Amptenare het ondersoek ingestel en vasgestel dat daar ook met dié koperpype in ’n aanlegvertrek gepeuter is.

Dít volg nadat daar Maandagoggend met ’n koperpyp gepeuter is wat suurstof aan verskeie dele van die hospitaal se waakeenheid verskaf.

Die departement sê nou daar blyk ’n doelbewuste poging te wees om die Chris Hani Baragwanath-hospitaal te destabiliseer en sodoende die lewens van duisende pasiënte in gevaar te stel wat afhanklik is van die openbare gesondheidsdiens.

“Die Gautengse provinsiale regering sal binnekort maatreëls aankondig wat ingestel gaan word om die situasie daadwerklik te hanteer,” sê Tshepo Shawa, woordvoerder van die departement.

Nóg ’n saak is intussen by die Diepkloof-polisiestasie aanhangig gemaak.

Shawa sê die 24 pasiënte wat Maandag inderhaas vanaf die waakeenheid na ander sale met suurstof oorgeplaas moes word, word sedert Woensdag weer in die hospitaal se waakeenheid behandel nadat ’n kontrakteur die gesteelde koperpyp vervang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.