Quinton gaan ook sy kolf in dié formaat wegpak

Quinton de Kock op volle vaart. (Foto: Twitter.)

Quinton de Kock sal ná die Wêreldbeker-toernooi in Indië nie meer vir Suid-Afrika in eendagkrieketwedstryde beskikbaar wees nie.

Die aankondiging is gemaak net nadat die Protea-groep vir die internasionale uitkloptoernooi by Grey Kollege bekend gemaak is.

Die 30-jarige De Kock is ongetwyfeld een van Suid-Afrika se handjievol hedendaagse supersterre. Hy het reeds 5 966 lopies teen ʼn gemiddeld van 44,85 in sy 140 wedstryde aangeteken, terwyl hy ook 183 vangskote en 14 stonkkanse agter die paaltjies benut het.

Hy het onlangs ʼn kontrak met die Melbourne Renegades onderteken om in Australië se Big Bash League (BBL) te speel.

Cricinfo berig dat sy BBL-pligte met sy Protea-verantwoordelikhede sou gebots het: Suid-Afrika speel in Desember teen Indië; juis wanneer die mik-en-moker-aksie op sy warmste in Australië is.

“Quinton de Kock het krieket in Suid-Afrika goed gedien. Sy aanvallende kolfwerk was toonaangewend in wêreldkrieket en hy was vir ʼn hele paar jaar een van die span se sleutelspelers,” het Enoch Nkwe gesê.

Volgens die nasionale direkteur van krieket het Krieket Suid-Afrika (KSA) begrip vir sy besluit om afstand van sy internasionale eendagkrieketpligte te doen.

“Ons wens hom alle sterkte toe vir die toekoms en ons sien uit om hom nog in die kleure van die Proteas se T20-span te sien.”

De Kock het in 2021 ook skielik besluit om sy toetskrieketuittrede aan te kondig omdat hy meer tyd saam met sy jong gesin wou deurbring.

Eendagkriekethoogtepunte is egter volop in sy krieketgetuigskrif: Daar was die drie honderdtalle op ʼn streep teen Indië en sy briljante 178 teen Australië op SuperSportpark; dan praat ʼn mens nog nie eens van sy 17 honderdtalle en 29 vyftigtalle nie

Ja-nee, Quinton de Kock gaan beslis in dié formaat gemis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jr ·

Quinton de Kock = SAL HY, SAL HY NIE? . SAL HY SAL HY NIE?. Moenie sy vorige belofte debakel met csa. Ons het gedink hy het krieket balle gehad en TOE NIE?

Sobymykoolkop ·

Verlaat die sinkende krietetskip terwyl jy nog hoog in aanvraag is jongman.

kragaap ·

Watter wêreld klas speler wil vir die verlepte veldblomme speel ? Politiek en kwota kapteinskap het die blommetjies laat verlep. Nou ‘n “backwaters” oefenlopie vir spanne soos Indië, NZ, Aus en England.

George ·

AB, FAF, Smith, Steyn, Morkel, Dondal, Fanie ens het almal vir die “verlepte veldblomme” gespeel.

kragaap ·

Nee dit was die Proteas. Baie meer kompeterend en gevrees deur opposisie as die politiek spulletjie vandag. Wie is Dondal ?

JohanR ·

Jou Quinton ek sou ook terugstaan. Die Proteas is nou net ‘n verleentyd!

George ·

Ongelukkig, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, is hy deel van die verleentyd. Dis tog n span sport.

kragaap ·

Quinton kon waarskynlik in enige internasionele span inloop op sy paaltjiewagter of kolf vorm. Kan jy dit van Bavuma sê ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.