R1 miljoen vir munisipale vergadering by hotel

So lyk die sportsentrum wat teen sowat R21 miljoen opgerig is. Dit is steeds nie voltooi nie. (Foto: Nombulelo Damba-Hendrik/GroundUp)

Deur Nombulelo Damba-Hendrik en Tsoanelo Sefoloko, GroundUp

Raadslede van die Matatiele-munisipaliteit in die Oos-Kaap het na Umhlanga Rocks, noord van Durban, gereis vir ʼn jaarlikse beplanningsessie wat die klein munisipaliteit minstens R1 miljoen uit die sak gejaag het.

Vanjaar se vergadering, by die Garden Court-hotel, het ses dae lank geduur: van 5 Februarie tot 10 Februarie. Altesame 108 kamers is bespreek – teen R1 500 per dag – en dit het nie spyseniering vir die afgevaardigdes ingesluit nie. Die 54 raadslede en hul personeel kon boonop reiskoste eis tot op ʼn bedrag van R3 000.

Volgens sy webwerf bedien die munisipaliteit ʼn bevolking van sowat 220 000.

Luncedo Walaza, woordvoerder van die Matatiele-munisipaliteit, sê die presiese bedrag sal later vandeesmaand bekend wees, maar R1 miljoen is vir die vergadering begroot. Hy het nie verduidelik waarom die raadslede verkies het om die vergadering in Durban te hou nie. Die stad is etlike ure van Matatiele.

Walaza het wel gesê dat die geld geen munisipale projekte in die wiele sal ry nie en die vergadering was deel van ʼn proses om ʼn beter Matatiele vir almal te bou.

Hy sê die plaaslike owerheid vaar goed.

“Paaie word in stand gehou, vullis word verwyder, gras gesny, die stormwaterdreineringstelsel word verbeter en ons het omtrent alle nedersettings in Matatiele nou geëlektrifiseer,” sê hy.

Die gras word inderdaad gesny en sommige paaie word in stand gehou, maar alles op Matatiele is nie ewe rooskleurig nie. Drie multimiljoenrandse projekte in Matatiele word al jare lank vertraag.

Bouwerk aan die Matatiele-sportsentrum het in Oktober 2019 begin. Die eerste fase moes in Desember 2021 afgehandel gewees het, maar die kontrakteur het die pad gevat voor dit afgehandel is. Daar is ʼn heining en gras, maar nie veel meer nie. Pawiljoene, ʼn waghuisie en spreiligte moet nog geïnstalleer word.

Volgens Walaza is sowat R21 miljoen aan fase 1 van die projek bestee.

Die tweede projek bestaan uit drie graansilo’s waarvan bouwerk in die 2014-’15-boekjaar begin het en veronderstel is om opgaarplek vir boere te verskaf. Altesame R8,4 miljoen is hiervoor bestee en twee silo’s is agt jaar gelede klaar gebou. Die derde moet nog opgerig word.

Geen van die afgehandelde silo’s is egter al ooit gebruik nie.

Walaza sê die tender vir die afhandeling van die sportsentrum en silo het in Julie verlede jaar gesluit. Maar hy sê nie wanneer die twee projekte afgehandel gaan word nie.

ʼn Derde projek – wat agt jaar gelede afgehandel is, maar nie gebruik word nie – is ʼn varsproduktemark. Walaza sê die munisipaliteit het R5,3 miljoen hieraan bestee, maar daar was geen reaksie van “belangstellende partye” om dit te gebruik nie.

Daar is klaarblyklik geen belangstelling om die varsproduktemark te gebruik nie. Dit is teen sowat R5,3 miljoen opgerig. (Foto: Nombulelo Damba-Hendrik)

Lubabalo Mandlamakhulu is ʼn inwoner van Itsokolele en hy sê die plaaslike regering beloof al sedert 2021 dat die sportsentrum voltooi gaan word.

“As ons na hierdie veld kyk, is daar geen manier dat R21 miljoen bestee is nie. Die munisipaliteit beweer egter daar was ondergrondse rotse [wat die proses bemoeilik het]. Ons vraag is hoekom hulle ʼn plek met rotse gekies het, as daar soveel oop ruimtes in die dorp is,” sê hy.

“Die mense woon ʼn vergadering in Durban by, maar ek kan jou verseker as inwoners gaan ons nie die resultate daarvan sien nie.”

DA-raadslid Wonga Potwana sê opposisiepartye was gekant teen die idee om al die pad na Durban af te sit net om ʼn vergadering te hou. “Die vergadering moet plaasvind, maar in Matatiele mors ons geld.

“Ons het 54 raadslede wat elk R3 000 in reiskoste gaan eis. Ons probleem by die Matatiele-munisipaliteit is dat ons nie koste besnoei nie. Daar is verskeie onafgehandelde projekte en weinig word daaraan gedoen,” sê hy.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Harley Davidson ·

Die opposisie moet net leiding neem en bv die vars produkte mark oopmaak sodat boerderye kan baat vind by die mark en die wins wat gemaak word ‘n slagpale te bou en so gaan jy aan todat jy finansiël sterk is om ‘n munisipaliteit ten volle kan bestuur .

Sandra ·

sodra die mense weet hulle kan direk van die boer koop en die middelman uitsny sal die mark floreer

Nommer 7 ·

Net so, As jy inloer by die VVIP (very very important peolple) lounge by Lanseria, sien jy hulle daarbinne sit met hul KFC.

Nie Verbaas ·

Korrek, trek vir hom n pak aan en gee hom n posisie waarvoor hy totaal onbevoeg is en hy is n meneer. Gooi dan nog n Porche Cayenne of Mercedes in dan is hy n groot meneer. Gooi daarby n paar bottels Dom Perignon en Hennessy VSOP in en dan is hy dié meneer.

Suzette ·

Dit is hoekom dit in hierdie land gaan soos dit gaan. Hierdie spul het nie ‘n benul wat hulle aanvang en watter implikasies dit op die einde het nie. Hulle gee ook nie om nie. Solank elke kader net vir hom/haarself kan skep. Dit gaan net oor nou – môre kan vir homself sorg. Die mentaliteit gaan NOOIT verander nie.

Madeleine ·

Hul Het Nie n benul van geld nie, dis nie duisende nie dis miljoene. Vir iemand wat geld nie Ken nie, voel dit dieselfde. Dis n groot Skande.

Elméne ·

Dit is die hartseer waarheid en dit maak ELKE regdenkende mens, wat meer as een breinsel het, die hel in!!! Maar dit is soos jy sê, solank elke CLOWN in die regering net sy pond vleis in die sak het, het hulle GEEN saak eers met hul EIE mense nie, wat nog te sê vir die res van die bevolking en ons eens pragtige land / ekonomie wat TOT NIET is!

Lourens ·

Dis nie die munisipaliteit (m.a.w. die belastingbetalers) se plig om kos te verskaf nie.

TruthDealer ·

So, n Sportsentrum teen 21 miljoen? Mooi man! Suid Afrika HET mos oorgenoeg funksionele ordentlike staatshospitale en oorgenoeg skole!!! Ai weet jy laat ek liewer net stilbly.

Mieke ·

Truth Dealer. En dis die jammerte dat ons almal maar stilbly. Want praat ons, dan word ons geviktimiseer.

Samuel ·

Die munisipaliteit het seker geen begrip van die waarde van geld nie.

Genis ·

Wan besteding, korrupsie en diefstal is aan die orde van die dag. Met geen verantwoording daarby…

Nommer 7 ·

Laat my dink aan my vriend wat vroeg in die 2000’s deel was van ‘n Departement van Onderwys afvaardeging na Amsterdam. Al die swart SA afgevaardiges was op die eerste vergadering teenwoordig, en het hul laptops ontvang wat die Nederlande gasheer vir hulle geleen het vir die week. Dit was die laaste sien. Hierdie mense het toe nooit weer die vergaderings bygewoon nie, en net ge=shop. Volgens my vriend was dit net potte, panne en komberse. Aan die einde van die kongres het hulle ook nie hul laptops ingehandig nie, en die Nederlandse polisie moes dit by hulle gaan haal op die lughawe. Die Nederlandse DvO het daarna ontrek van opvolg kongresse om raad te gee ivm SA onderwysstelsel.

GeloofInGodNieMense ·

Wat n skreiende skande!! Nou dink hulle alle SA’ners is so onopgevoed

Sean ·

Kom niemand agter dat 108 kamer vir 54 raadslede bespreek is nie

Nommer 7 ·

Dis soos by Wingfield militere basis waar die families ook middae na die menasie kom vir ‘n “free meal”. Seker ook by ander militere basisse.

Allop ·

Hulle moes seker elkeen sy persoonlike assisitent of dalk n veiligheidswag saamgevat het

Eclectus ·

‘n Paar jaar gelede het ek by tye toetse gedoen vir ‘n provinsiale regering tydens tenders. Hulle wil dan (kwansuis) die toetse waarneem en dan reis vier of vyf van hulle 300 km om net my laboratorium te kom volsit en hulle Dunning-Kruger mentaliteit ten toon te stel. Dan slaap hulle oor om die volgende dag eers op inkopietog te gaan voor hulle terugkeer om hulle reis en verblyf eise te gaan inhandig.

Nommer 7 ·

Electus, so ook 4 wat reis, en oorslaap, vanaf Kaapstad na Springbok om te gaan besluit of ‘n staatsgebou se deur moet vervang word of nie.

Mnr De Beer ·

Dit is ook skokkend die feit dat niemand doen enige iets aan die wat so verkeerd doen en wegkom met dit. Mense is al gewoont aan dit in Afrika. Maar net nog n dag.

GeloofInGodNieMense ·

Ek wonder ook altyd waarom niemand iets doen. Unbelievable

Kalla ·

Die wat bereid is om iets te doen of te sê kry probleme, dit is die probleem!

Danie ·

Wel 1miljoen nie te veel vergelyke n 8miljoen sona sonder kos en drank.Hulle is mos ons geld se koning.

CRDP ·

En dan sit hulle almal in elk geval en slaap in die vergadering net soos ons ou President gister in parlement gesit en slaap het en nie eers gemaak het of hy omgee nie

Althes ·

Lekker baljaar die kaders in die land van melk en heuning, plunder staatskaste vir ñ lekker gratis reis en verblyf. Ons eis optrede teen hierdie raadslede.

Blomkind ·

Ruik jy dit!!! Dis plastiek wat brand want daai Kaart word gesaag…Daai is mos nou “small change”…Ons soek mos alles verniet…

Nie Verbaas ·

Kan ek nie maar die omheinde grond vir hulle gaan vee met n besem teen n verminderde prys van so R3 miljoen nie? Betaling vooruit, ek vee nie maar sal besem daar los.

Tanniepetoors ·

54 Raadslede vir 220000 inwoners? 4074 inwoners per raadslid (kinders ingesluit). Breed geskat dan sowat 1600 persone bo 18 per raadslid. Wonder hoeveel het in elke wyk gestem?

Republikein in die Wes Kaap ·

Met ‘n minimum salaris van R40 000 per maand plus byvoordele.

Lillian ·

Dis mos nie hul eie geld wat so gemors word vir sulke uitspattighede nie, so waarom sal hulle omgee.

Roek ·

Praat nie eens van die Pensioen mense wat op die Pensioen bestuur nie, hulle vlieg hul hele familie af Kaap toe vir ‘n week en bly in die duurste hotelle, en nie wie nie ons mense !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.