R1,4 miljoen-vlug vir Thabo Bester ‘was goedkoopste opsie’  

Dr. Aaron Motsoaldi, minister van binnelandse sake. (Foto: Siya Duda/GCIS)

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het die besluit om ʼn vliegtuig teen R1,4 miljoen te huur om Thabo Bester en sy vriendin in Tanzanië te gaan haal verdedig en aangevoer dit was die beste opsie.

Motsoaledi het gereageer op vrae oor hoekom ’n “luukse vliegtuig” vir Bester en dr. Nandipha Magudumana se deportasie gehuur is en daar nie eerder van ʼn vliegtuig van die polisie of weermag gebruik gemaak is nie.

Die minister het aan ʼn sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê sy departement was genoop om ʼn vliegtuig te huur aangesien die Tanzaniese owerhede daarop aangedring het dat immigrasiebeamptes Bester en Magudumana moes kom haal.

ʼn Totaal van 14 beamptes van Motsoaledi se departement was by die deportasieproses betrokke aangesien “elkeen van hulle ʼn rol gehad het om te speel”. Volgens die minister sou die beamptes tot in Dar es Salaam moes vlieg en dan twee minibusse moes huur en sowat 600 km ver moes ry na Arusha. Die logistiek daarvan sou nie werk nie en daarom is besluit om ʼn vliegtuig te huur, het Motsoaledi gesê.

Die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester tydens sy hofverskyning (14 April 2023) (Foto: AFP)

Daar is ʼn versoek gerig aan ondernemings vir die verhuring van ʼn private vliegtuig en verskeie aanbiedinge is ontvang. Volgens Motsoaledi was die opsie van R1,4 miljoen die goedkoopste.

Op ʼn vraag aan Motsoaledi oor hoekom daar nie van ʼn kommersiële lugdiens gebruik gemaak is nie, het hy gesê hy glo nie enige kommersiële lugdiens sou toelaat dat “twee mense in boeie met ʼn klomp mense wat seker maak hulle vlug nie” op ʼn gewone vliegtuig vlieg nie.

“Ek kan nie ʼn situasie onthou waar misdadigers van dié aard oor die wêreld gevlieg moes word in ʼn kommersiële vliegtuig nie.”

Motsoaledi het verlede week bekend gemaak dat sy departement geen sleutelrekords van Bester kon vind nie en dat hy “eenvoudig nie in ons stelsel bestaan nie”.

Bester het nie ʼn ID nie, en ook nie ʼn geboortesertifikaat óf paspoort wat deur die departement uitgereik is nie.

Hofsaak

Dr. Nandipha Magudumana tydens haar vorige hofverskyning. (Foto: AFP)

Die vier beskuldigdes wat na bewering ʼn aandeel in die ontsnapping van Bester gehad het, het Maandagoggend in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Magudumana, haar pa, Zolile Sekeleni, en nog twee beskuldigdes, Teboho Lipholo en Senohe Matsoara, het saam in die hof verskyn.

Sekeleni is borgtog van R10 000 toegestaan. Magudumana en haar twee medebeskuldigdes bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 3 en 4 Mei. Dié drie sal dan aansoek om borgtog kan doen.

Die saak is tot 16 Mei uitgestel wanneer Bester ook weer in die hof moet verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

53 Kommentare

Fran ·

Nog ‘n ANC minister wat nie weet of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie!

Sanet ·

En so word die belastingbetalers se geld net verder gemors!!!!! Ek dink die beamptes het ‘n lekker vakansie gevat op ons onkostes!!! DIS ‘N SKANDE!!!

Perdeby ·

Dit sou ‘n baie baie groot risiko gewees het om daardie mense op ‘n gewone vlug terug te bring. Mense moet ook net vir hulle self begin dink wat sou gebeur het indien daar ‘n voorval op die vlug was, wat sou julle kommenetaar dan gewees het. Hulle besluit was die regte besluit gewees. Toe Klippies daardie tyd in SWA vrygelaat was, het PW Botha hom met sy privaatstraler gaan haal. Dit hang af wat die ooreenkoms met die ander land was.

Grens ·

Verkoop maar al die skelm en sy pelle se bates om die geldjies op te maak.

Niklaas ·

Daar is geen tekort aan geld nie. Soveel helpers moes beloon word met die “Africa salute” in hierdie hele verhaal. Dit moes ‘n fortuin gekos het.

Chris ·

Dit is vir my nuus. Geen kriminele op komersiêle vlugte nie. Hoe kom die regerings amptenary en polotikusse oor die weg.?

Laksman ·

hahaha nou maak al daai duuuuuur vlugte van die verlede sin!

TruthDealer ·

Ek kan verstaan dat hulle nie in n kommersiële vliegtuig terug gebring kon word nie maar die weermag het darem seker Een geskikte vliegtuig beskikbaar gehad.

Meinung ·

Goeie punt, maar hét die weermag nog diensbare vliegtuie? Dis seker ook tot in verval wanbestuur.

JvR ·

As jy in Centurion woon, en die hoeveelheid lugverkeer sien wat ons sien, sal jy ook wonder of hulle lieg oor hul finansies

Republikein in die Wes Kaap ·

Is dit SANDF vliegtuie? Kommentators hier skryf dikwels dis Russiese vliegtuie.

Afriperd ·

Ek vlieg self, en kon beslis n goedkoper opsie kry as dit. Daar is baie privaat vliegtuie te huur wat 9 tot 12 mense kan sit vir baie goedkoper as dit. Maar ja iemand het al die pad bank toe gelag.

Piet 6 ·

My vraag is: waar is die lugmag se vliegtuie? Hoe kom die soldate wat diens doen in die DRK en ander lande daar en terug na Suid Afrika?

Iemand in van die regerende party het weer ń vol bruin koevertjie gekry.

Christo ·

Liewe minister. Wys ons asb hoe julle tot die slotsom gekom het dat 1.4m die goedkoopste was. Wys ons die ander pryse wat julle gekry het.

Johanna ·

Moenie worry ons sotte betaal daarvoor. Belastingbetalers

marius ·

Twak man . Gevangenis word wereldwyd op gewone vlugte vervoer !

Johan ·

My vraag is as die persoon volgens die minister nie in “hulle stelsel” bestaan nie hoe kon sy departement n doodsertifikaat uitreik. Die korrupsie loop baie “diep” hier is weereens n bewys.

Alex ·

En so gaan korrupsie voort in alle blom. Een of ander minister het dalk deel van die gemors

Marthinus Johannes ·

Hy lieg soos n tannetrekker, hy en sy maaitjies het lekker in weelde gevlieg en gaan vakansie hou, heel moontlik oor n naweek.

Fran ·

Hulle kon die spul in ‘n C130 vragvliegtuig vervoer het en oor die Sahara uitgegooi het! Maklik!

Shakespeare ·

Motsoaldi ……JY LIEG !!!!!!!!! Ek gaan nie sê jy moet jou skaam nie want die woord kom nie voor in julle korrupte woordeboek nie.

Meinung ·

Die hof behoort te besluit dat die beskuldigdes die onkoste betaal. Waaromoet belastingbetalers dit doen?

Eugene ·

Nog n’ minister wat geld verduister. Maak seker dis die regte thabo bester.

SjN ·

Volgens my het hul tot daar in motor gery, hoe het Bester dan n bestuurslisensie as hy nie op stelsel bestaan nie, hy lieg deur sy tande deur te se dit is die goedkoopste opsie, hul kon die kriminele mos per pad terug vervoer het, geen benul van geld!!

Hannelie ·

Dis seker die grootste nonsens wat ek nog in my lewe gehoor het. Duidelik kan Motsoaledi glad nie somme doen nie.
So word ons belastingbetalers se geld gemors!!! Deur onbevoegde mense

Theunis ·

Hoekom word Bester nou ons probleem want die belasting betalers gaan die rekening vereffen?
Weermaglede wat ‘n veiligheids diens vir die land verrig het, het nie eers in die luuksheid gereis nie.
Die regering bewys dus die stelling as korrek ” crime pays”

Ropp ·

BULL!!!!!!!! dis net ‘n vermors van geld. Hoe lank gaan ons nog al die nonsens van opgedis word opvreet???????

Se maar net ·

Wat ‘n lieg storie, ek het al baie chartered vlugte geboek vir kliente in Afrika in en dit was teen ‘n 1/4 van die prys

Nie Verbaas ·

Ja Motsoaledi, jy is reg. Veertien beamptes om die werk van een te doen. Die keuse van vliegtuig was ook nie die beste opsie nie maar die domste een of is die lugmag se vliegtuie nie betroubaar genoeg nie. Maar moenie vrees nie want die hele wêreld is al bewus van hoe nutteloos en onbevoeg die ANC is.

Laksman ·

Ek neem aan as die een wat wel borg gekry het verdwyn, val die res van die saak ook plat?

domheks ·

een of ander kader was nog nie by die trog nie, nou moet hy gou ‘eet’

Johanncb ·

Thabo is gewoond aan die beste! Ons moet maar net toekyk en daarvoor betaal!

Mariana ·

Ai die gelieg hou net nie op nie. Wie glo hulle nog? Daai krimineel kry ook wragtig te veel aandag. Sit hom nou agter tralies en gooi die sleutel weg. Maar ons het met ANC te doen, verwag niks anders van hulle nie

Perdeby ·

Dit sou ‘n baie baie groot risiko gewees het om daardie mense op ‘n gewone vlug terug te bring. Mense moet ook net vir hulle self begin dink wat sou gebeur het indien daar ‘n voorval op die vlug was, wat sou julle kommenetaar dan gewees het. Hulle besluit was die regte besluit gewees. Toe Klippies daardie tyd in SWA vrygelaat was, het PW Botha hom met sy privaatstraler gaan haal. Dit hang af wat die ooreenkoms met die ander land was.

Niklaas ·

Een of ander Kader besit ‘n vliegtuig en vra dan groot pryse terwyl die kans daar is. Dan voeg hy ook onoffisiële “handling fee” ook by. Wanbesteding is nou sinoniem met cANCer.

piper ·

hulle kon n pilatus pc12 vliegtuig gebruik her wat op arusha kan land. dis n een motorige turboprop en kan 8 of meer pasasiers vervoer. sou baie minder kos.

SomeOne ·

Motsoaldi, :”Ek kan nie ʼn situasie onthou waar misdadigers van dié aard oor die wêreld gevlieg moes word in ʼn kommersiële vliegtuig nie.”” jy lees seker baie min wêreld nuus, amerikaners doen dit gereeld,
watter komerisële vliegtuig het in elk geval by Arusha gaan land
n “BEDREWE LUGMAG VLIEëNIER” sal met die flossie op ‘n rugby veld en ‘n bietjie daar land en opstyg,
duisende rande sou gespaar gewees het, maar nee, solank jul kan geldmors is jul gelukkig

Ronél ·

Hoekom nog enigsins kommentaar lewer, ons weet niks wat uit hul monde kom is tekenend van die waarheid nie.

Elmarie ·

Nou wat sê “rolle” het die 14 wat saam gefoeter het gespeel? Ek is 007 jy is 008, jy 009 en so aan? “Oor die wêreld gevlieg” in boeie? Nee net so trippie op in Afrika en ja, ek wéét van gewone passasiersvlugte waar iemand geboei gereis het. Heel agter tussen net TWEE lyfwagte gesit met nog een ander persoon. Dis niks uitsondeiks, dit gebeur wel. Dat Motsoaledi nou nie van so ‘n geval kan onthou verbaas my glad nie, weet nie wat in die wêreld aangaan nie. En Thabo en kie lag hul seker pap dat hul in luukse spesiaal gaan haal is.

Amelia ·

Hoekom is die geld nie aan slagoffers betaal nie bring hul terug soos hul soentoe gegaan het hierdie klink in elk geval nie reg nie seker wee n lekker VET slang in gras of is dit n VET rot

Nozi ·

Ek is seker enige charter company sou hul kon help en sou baie minder gekos het. Hierdie is nou net nog ‘n krimineel wat met wit handskoentjies gehanteer moet word. Seker weer ‘n groot ou maatjie van Motsoaldi.

Casper ·

‘n Totaal van veertien beamptes van sy departement.Die een moes seker kyk dat die ander een sy werk doen,dit is al rede waaraan ek kan dink.As ek uit ondervinding praat moes die Tanzaniese immigrasiebeamptes Bester en kie by die lughawe aan ons immigrasiebeamptes oorhandig het dan was daar nie 14 nodig nie.

Astrain ·

Die publiek wil ten minste 3 kwotasies sien…besit SAPS geen helikopters/vliegtuie nie? Sê bietjie wie besit die R1.4mil vliegtuig???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.