R24-miljard se verlies vanjaar, maar Eskom wil nuwe logo hê

(Foto: Dirk Hermann/Facebook)

Korporatiewe dissonansie is Dinsdag blootgelê toe Eskom – met ʼn oop tender vir ʼn nuwe logo – aangekondig het dat hy ʼn netto verlies van R24 miljard vir die jaar gely het.

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê deur nog ʼn gekwalifiseerde oudit te kry, “het Eskom net weer bewys dat hy geen plan het om die bloedlating te stuit nie”.

“Die voorlegging van Eskom se finansiële state het net weer bevestig wat ons nog heeltyd weet – Eskom is bankrot en geen bedrag of belastingbetaler-gefinansierde reddingsboei sal ooit weer help dat die organisasie winsgewend is nie.

“Tog is die ANC-regering onbesorg om aan te hou om belastingbetalersgeld op hierdie mislukte entiteit te verkwis en sy doodspiraal te subsidieer,” sê Cachalia.

Maroela Media het vroeër berig die DA het, “met die minagting wat dit verdien”, ʼn tender deur Eskom verwerp om ʼn nuwe logo en korporatiewe identiteit vir die instelling te ontwerp.

“Ten spyte van ʼn verlies van miljarde rand, het Eskom die vermetelheid om ʼn tender uit te reik waarin diensverskaffers gevra word vir die ontwerp van ʼn nuwe logo asook die ontwikkeling van ʼn nuwe korporatiewe identiteit vir Eskom en sy filiale.

“Hierdie korporatiewe dissonansie is ʼn duidelike bewys dat die organisasie die pad byster geraak het en sy strategiese doel – dit is om elektrisiteit te voorsien – uit die oog verloor het.

“Dít is ʼn onnodige ydelheidsprojek wat niks bydra tot die oplos van Suid-Afrika se beurtkragkrisis nie en ook nie verbruikers help wat steier om hemelhoë kragrekeninge te betaal nie,” sê Cachalia.

Hy meen die mislukking om beurtkrag in toom te hou, beteken dat daar geen verandering aan Eskom se finansiële krisis sal wees nie, selfs al kry hulle elke jaar dubbelsyfer- en inflasietariefverhogings.

“Eskom se ongeordende finansies maak dit duidelik dat die oplegging van ʼn tariefverhoging van 31,4% oor twee jaar niks anders as ʼn vyandige aanval op verbruikers se sakke was om die entiteit se verliese te subsidieer nie,” sê Cachalia.

“Suid-Afrikaners het Eskom se slagoffers geword omdat hulle gedwing word om hoë tariewe vir elektrisiteit te betaal wat hulle net elke nou en dan ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Oom Charles ·

Ek weet regtig nie. Klink my ons het met besluitnemers te doen wat dink dat ‘magiese denke’ hier toegepas kan word : jy gee ‘n ding net ‘n nuwe naam of emblem en ‘woeps’ het jy iets nuuts geskep. Dit werk nie so nie. Hoeveel dorpe en strate is al hernoem, en dit het nie gewerk nie. Hierdie rondte ook nie, al spandeer jy wat jy wil.

Charles ·

Soos die dorpe en stede, die plekke val uitmekaar maar die naam moet verander word.

Daisy ·

Om nie eers te praat van straatname nie – dieselfde hier; paaie is onrybaar, maar o ja die name moet verander word

Danie ·

Gee hulle n nuwe naam en logo. Hulle verdien dit. Ek stel voor die naam moet LOOSERS wees en die logo kan n hand wat diep in n beursie gesteek word wees.

Martie Smartie ·

Die DA moenie so gou die idee om Eskom se logo en korporatiewe identiteit te verander, afskiet nie. Die naam v Eskom behoort ook verander te word. Dit sal ‘n gewaande nuwe entiteit skep wat weer vir die volgende 10 jaar of so onder ‘n nuwe naam miljarde Rande kan leen om deur hulle agterste kante te kan trek. Dis ‘n ou ding van besigheid, as jou maatskappy vou, maak ‘n ander een oop en leen van voor af.

ES ·

Die net net die verlies van die jaar nie, dis die grap van die jaar ook!

hpven ·

Ja vervang die logo met een wat die volgende uitbeeld. Die ANC kleure as agtergrond, ‘n trog met geld daarin, diepsakke, en die nag met ‘n kortgebrande kers!

Ore ·

Tipies, daar is net R1 in die till maar hulle wil R 10 spandeer. Kul jou hier, kul jou daar en siedaar nuwe naam teen ‘n astronomiese koste tower sommer alles reg, Geen beurtkrag, geen korrupsie. Mooi so

CHRISTINE ·

Ja natuutlik. Beurtkrag (die weerhouding van krag waarvoor ons betaal) is die grootste ANC hoax. Daar is genoeg krag – ek het nie meer load shedding van Augustus af – vir een of ander rede – die ANC skelms het in 2008 presies dieselfde gedoen. Hulle het nou so oop en bloot arrogant geraak dat die anc stemmende volk, dit ook raaksien. Ek hoor dit gereeld in die gym se badkamers.

Stoffeltjie ·

Ek voel soos ‘n kind wat ‘n tantrum wil gooi en op die grond rondval in angssweet. Kan die Eskom ons nog armer maak en die land verder vertrap as wat hulle doen? Ek weet van Eskom werkers wat nie wil hê mense moet weet hul werk vir Eskom nie. Hoe moet ‘n land gered word met sulke spandabelrigheid? Is daar dan niemand oor wat darem ‘n greintjie verstand oorhet nie?????????

Estelle ·

Julle moet onthou dat Desember kom nog. Bonusse en “performance” bonusse.
Dis regtig ‘n grap vir die land.

Bertie ·

Ek het nie woorde nie; dis belaglik, hoewel ons weet dat dit ‘bonus’ tyd is. Kaders het min geld vir Kersgeskenke vir hulle hordes kinders en egte sjampanje.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.