Eskom wil glo miljoene betaal vir nuwe logo

(Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die DA het, “met die minagting wat dit verdien”, ʼn tender deur Eskom verwerp om ʼn nuwe logo en korporatiewe identiteit vir die instelling te ontwerp.

“Dít is ʼn onnodige ydelheidsprojek wat niks bydra tot die oplos van Suid-Afrika se beurtkragkrisis nie en ook nie verbruikers help wat steier om hemelhoë kragpryse te betaal nie,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings.

Die party het ʼn beroep op Calib Cassim, waarnemende hoof van Eskom, gedoen om die tender dadelik op te skort omdat dit “onbenullige” besteding is.

Suid-Afrikaners is nou al sowat ʼn week lank kwytgeskeld van beurtkrag, met die stelsel wat na verwagting weer Sondagmiddag sal inskop.

“Eskom se reaksie op verbruikers se pleidooie dat hulle nie meer die instelling se hoë tariewe kan bekostig nie – nadat ʼn 31,4%-tariefverhoging vroeër vanjaar ingestel is – is om lyne in die water te gooi vir ʼn vars nuwe voorkoms om by hul meevaller te pas.”

Ghaleb sê Eskom hou die land aan ʼn lyntjie met die gereelde waarskuwing dat beurtkrag op kort kennisgewing ingestel kan word. “Dit is verstommend dat hul prioriteit in hierdie stadium ʼn logo-verandering is.

“Pleks daarvan om maniere te soek om opwekkingskapasiteit te verhoog en permanent met beurtkrag weg te doen, dink Eskom dit is nodig om sy strategie te fokus om sy beeld te verfris.”

Suid-Afrikaners gaan gebuk onder die grootste lewenskostekrisis in jare – en ʼn gedeelte daarvan kan aan Eskom se hemelhoë tariewe toegeskryf word, sê Cachalia. Dít nadat belastingbetalers meer as R180 miljard in ʼn reddingsboei aan Eskom moes betaal, met geen verbetering in die kragsituasie nie.

“Vroeër vanjaar is Eskom se skuld van R254 miljard deur die regering oorgeneem. Dit is nou die las van oorspanne belastingbetalers.”

Ghaleb sê ʼn mens sou verwag dat Eskom minstens verantwoordelik met belastingbetalers se geld sou omgaan en dat die verwagte miljoene wat waarskynlik vir die tender beskikbaar gestel is, elders beter bestee kan word.

“Cassim moet die regte ding doen en die tender as ʼn saak van dringendheid opskort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sêmanet ·

Die logo gaan seker ook krag opwerk. Daar sal nou gelukkig nie meer ‘n tekort wees aan krag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.