R3 miljoen se koperkabels teruggevind

(Foto: SAPS)

Vier mans is Dinsdag in hegtenis geneem nadat sowat 4,5 ton gesteelde koperkabels ter waarde van R3 miljoen teruggevind is. Die koperkabels behoort glo aan Telkom.

Volgens lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het die polisie in die Noord-Kaap se georganiseerde misdaadeenheid inligting oor gesteelde koperkabels opgevolg. Dit is in ’n Toyota-minibus op die N12-pad vervoer.

“Die eenheid het in samewerking met die polisie in Bloemhof en Transnet Security (SESS) die voertuig op die N12 by Bloemhof van die pad afgetrek,” sê Kock.

“Die multidissiplinêre span het op sowat twee ton koperkabels in die voertuig afgekom.”

Ondersoeke het die span na ’n woongebied in Kimberley gelei waar polisielede op een van die verdagtes se huis toegeslaan het. Daar het die polisie op nog 2,5 ton koperkabels afgekom en vier mans is in hegtenis geneem.

“Die polisie het beslag gelê op die Toyota-minibus en ’n wit Isuzu-bakkie wat na bewering in die uitvoer van die misdryf gebruik is.”

Een van die verdagtes is ’n skrootmetaalhandelaar in Kimberley. Die verdagtes, tussen 23 en 40 jaar oud, is oorspronklik van Gauteng en Malawi.

“Die verdagtes word aangekla van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, die besit van vermoedelik gesteelde koper en diefstal. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.”

Lt.genl. Koliswa Otola, die provinsiale polisiekommissaris in die Noord-Kaap, het gesê een van die polisie se prioriteite is om die vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur en koperdiefstal te bekamp, wat ’n grootskaalse uitwerking op noodsaaklike dienste en die ekonomie van die land het.

“Ons betuig ons waardering aan die gemeenskap en doen ’n beroep op hulle om voort te gaan om inligting te verskaf van misdadigers wat noodsaaklike infrastruktuur vernietig,” het Otola gesê.

Sy het ook die ondersoekspan geloof vir hul toegewyde en harde werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Solank die skroothandelaars mag aankoop en daar n afset is, sal dit nie stop nie.

john ·

hulle moet daai crooks aankla vir terorisme en lewens lank gee

Di ·

In ongeveer ELKE berig oor misdaad is uitlanders betrokke!! Wanneer gaan hierdie korrupte regering hierdie miljoene wat nie hier hoort, terugpos waar hulle vandaan kom. Dis vandat hierdie hordes so oor die grense gestroom het, dat transito rooftogte, moord, verkragtings en diefstal drasties toegeneem het. Die ANC regering is so besig met hulle eie misdade dat HIERDIE kriminele wat die ekonomie lamle nie aandag geniet nie. Mafia hoed skitter in sy afwesigheid, te besig met TV verskynings en rond jakker op ons belasting betalers se geld. Tyd dat hierdie korrupte spul summier verwyder word uit die Parlement.

Adri ·

Dit bevestig ons almal se vermoede oor die btrokkenheid van die handelaars in skrootmetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.