R47 miljard-reddingsboei ‘’n kritieke toets vir Transnet en die land’

(Foto: Transnet)

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversendings (SAFV) het Transnet se ondersteuningspakket van R47 miljard wat deur die tesourie gewaarborg is, verwelkom. Die SAFV sê egter dié geld sal ʼn toets van kritieke belang vir Transnet en die ganse land wees.

Maroela Media het vroeër berig die ministers van finansies en openbare ondernemings het vandeesweek ooreengekom om ʼn waarborggerief van R47 miljard aan die sukkelende Transnet toe te ken.

Dié bedrag is dadelik beskikbaar aan Transnet “ter ondersteuning van sy herstelplan, en om sy onmiddellike skuldverpligtinge na te kom”.

“Die dringendheid waarmee die regering hierdie besluit toegepas het en die interministeriële belyning deur die minister van finansies sowel as die minister van openbare ondernemings, stuur ʼn  bemoedigende boodskap,” lui ʼn verklaring van die SAFV.

“Dit is inderdaad aan elke rolspeler in die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn bevestiging van die regering se voorneme om die vervoer-, logistiek- en breër voorsieningskettingsektore as ʼn topprioriteit te stabiliseer en te herbou.”

Dr. Juanita Maree, uitvoerende hoof van die SAFV, sê die reddingsboei kan sonder twyfel tot die herstel van Transnet bydra en kan mettertyd die posisionering van ʼn doeltreffende, ten volle funksionerende multimodale logistieke stelsel verseker.

“Die fasiliteitswaarborg sal help om moeisame herfinansieringsrisiko’s te verminder, terwyl dit ook op kort tot medium termyn sal help met likiditeitskrisisse.

“Die Transnet-herstelplan is noodsaaklik vir die nasionale ekonomie en sal as ʼn stimulus dien om breër ekonomiese herstel en groei aan te wakker.

“Die huidige infrastruktuurkrisis en swak dienslewering by die hawens het ʼn ernstige invloed op nasionale en internasionale rolspelers in ons ekonomie. Die aankondiging van die waarborgfasiliteit is duidelik ook ʼn reaksie op oproepe deur internasionale konglomerate vir die regering om die kwessies reg te stel,” sê Maree.

Sy meen die wêreld hou ons nou dop en soek tekens van bevoegdheid en gerusstelling van die Suid-Afrikaanse regering aan die nasie en die internasionale gemeenskap.

“Die regering se optrede ter versagting van die risiko’s is nie tans opsioneel nie; die ondersteuning aan Transnet is op hierdie stadium ʼn noodsaaklikheid.

“Dit is nou die perfekte geleentheid vir Suid-Afrika om te wys dat ons ʼn vinnig ontwikkelende ekonomie is wat in bestuurskwessies leiding neem deur lesse wat geleer is toe te pas.

“Op hierdie stadium in ons geskiedenis kan en sal hierdie aksie ons land se reputasie en risikoprofiel in globale markte definieer en verseël.

“Ons sien die aksie as die eerste bousteen vir ʼn getransformeerde logistieke stelsel waar die private sektor en Transnet tot voordeel van almal in Suid-Afrika sal saamwerk,” sê Maree.

Die DA is egter geensins beïndruk met die jongste reddingsboei wat die nasionale tesourie aan die sukkelende Transnet toegestaan het nie.

Die amptelike opposisieparty voer aan dat geen waarborggerief “die ondoeltreffendheid en fiskale onverantwoordelikheid [by Transnet] kan hokslaan nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Barney ·

Dis vir my net baie ironies dat die regering altyd geld in die hande kry vir reddingsboeie en hulp aan ander lande terwyl daar jong dokters wat volgende jaar hulle gemeenskapsdienjaar moet doen in spanning wag vir plasings omdat daar nie geld beskikbaar is om hulle te betaal nie.

Yvonne ·

Oeeee we…nou gaan partymense lekker kers inkopies doen….praat nie eers van die verkiesings veldtogte wat nou opgeskerp gaan word nie…
Swaar en tragies dat ek so sinies geword het

Karina ·

Julle is almal 100% in die kol. Ongelukkig weet ons almal wat met sulke groot somme geld gebeur. Mag ons land volgende jaar verlos word van die ANC se korrupsie tydens die verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.