‘Geen reddingsboei kan onverantwoordelikheid aanspreek’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf/Transnet)

Die DA is geensins beïndruk met die jongste reddingsboei wat die nasionale tesourie aan die sukkelende Transnet toegestaan het nie.

Die amptelike opposisieparty voer aan dat geen waarborggerief “die ondoeltreffendheid en fiskale onverantwoordelikheid [by Transnet] kan aanspreek nie”.

“Trouens, die regering se vangnet sal verseker dat die chaos voortduur, terwyl dit ʼn aansienlike las op ons nasionale begroting plaas en ons skuld verder opblaas,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies.

Die nasionale tesourie het Vrydag ʼn waarborggerief van R47 miljard aan Transnet toegeken en dit dadelik beskikbaar gestel “ter ondersteuning van [Transnet se] herstelplan, en om sy onmiddellike skuldverpligtinge na te kom”.

Gegewe Transnet se geskiedenis met finansiële bestuur, is die DA egter nie hoopvol dat dié reddingsboei veel goed gaan doen nie.

Transnet se bestaande skuld beloop in die omgewing van R135 miljard, waarop jaarliks rente van sowat R13 miljard gehef word. Die maatskappy het boonop ʼn finansiële verlies van R5,7 miljard in die vorige boekjaar aangeteken en ʼn verdere finansiële verlies van R556 miljoen aangedui “weens onreëlmatige uitgawes”.

“Sou Transnet nie hierdie skuldverligting van die regering af ontvang het nie, sou hy nie sy herstelplan kon implementeer om sy treurige bedryf- en finansiële prestasie om te keer nie. Transnet het self só gesê, en die verwagting van skuldverligting duidelik gemaak, toe hy sy herstelplan voorgelê het,” sê George.

Die DA het al voorheen gewaarsku dat Eskom se skuldoorname ʼn gevaarlike fiskale presedent sal skep, aangesien “ander onlewensvatbare staatsbeheerde organisasies vir belastingbetaler-gefinansierde verligting sal kom vra”.

“Die DA is gekant teen die opname van Eskom se skuld, aangesien dit belastingbetalers roekeloos aan die finansiële gevolge van regeringswanbestuur blootstel. Dieselfde geld vir Transnet en elke ander wanfunksionele staatsinstansie.”

Die DA stel voor dat uitvoerders wat kapasiteit het eerder onvoorwaardelike toegang tot Transnet-korridors moet hê om hul produkte te vervoer.

“Innoverende openbare en private vennootskappe moet ook gesoek word om Transnet te help bestuur,” sê George.

“Versuim om stiptelik by betekenisvolle privatisering betrokke te raak en die mark vir private beleggings oop te stel, sal Suid-Afrika tot ewigdurende ellende verdoem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Waar kim al die geld vandaan wat die regering so rond gooi? Maar daar is niks om voir te wys nie! Eskom kan nie die ligte aan hou nie want bonusse is belangriker, die hawens is in sy kanon in want die lot kan nie organiseer nie en nou wil transnet nog geld hê, wat waarvandaan kom? Maar daar is nie geld vir belangrike goed nie, soos die slaggate, die sinkgate wat op party plekke al jaaaaare daar is, genoeg skole en nog baie meer. MAAR daar is geld om te steek!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.