Reddingsboei van R47 miljard vir Transnet

Een van die terminale by Transnet se Richardsbaai-hawe. (Foto: Transnet)

Die ministers van finansies en openbare ondernemings het vandeesweek ooreengekom om ʼn waarborggerief van R47 miljard aan die sukkelende Transnet toe te ken.

Dié bedrag is dadelik beskikbaar aan Transnet “ter ondersteuning van sy herstelplan, en om sy onmiddellike skuldverpligtinge na te kom”.

Die nasionale tesourie sê Transnet speel ʼn belangrike rol in Suid-Afrika se ekonomie en as sodanig is dit sy plig om die maatskappy in sy verskeie finansiële en bestuursprobleme by te staan.

“Weens die erns van hierdie uitdagings het die nasionale tesourie en die departement van openbare ondernemings samesprekings met Transnet gevoer om ʼn oplossing vir die maatskappy se onmiddellike en langtermynprobleme te vind. Die besluit om die waarborggerief toe te staan ​​is die gevolg van hierdie besprekings,” lui ʼn gesamentlike verklaring oor die besluit.

Die finansiële ondersteuningspakket behels altesame R47 miljard, waarvan R22,8 miljard dadelik onttrek word om van Transnet se skuld te vereffen.

Die regering het nie ʼn kontantinspuiting aan Transnet oorweeg nie, aangesien die begroting vir die 2023-’24-boekjaar gesluit is en omdat “die minister van finansies vol vertroue is dat hierdie reddingsboei, tesame met die implementering van Transnet se herstelplan, voldoende sal wees om Transnet se uitdagings te bowe te kom”.

ʼn Waarborg-raamwerkooreenkoms is tussen die tesourie, die departement van openbare ondernemings en Transnet aangegaan. Dit bevat streng waarborgvoorwaardes wat deurlopend hersien en gewysig sal word, indien nodig.

“Enige verdere onttrekkings sal onderhewig wees aan Transnet wat aan die voorwaardes voldoen.”

Die tesourie sê die regering gaan intussen voort om “diepgaande, breër hervormings van Transnet en die logistieke sektor in die geheel na te streef. Sonder omvattende hervorming van die sektor kan ons in die toekoms voor soortgelyke uitdagings te staan ​​kom”.

Reddingsboei ‘een van vele’

Hoewel die jongste reddingsboei bestempel word as ʼn positiewe stap om Transnet reg te ruk, is die Padvragvervoervereniging (RFA) nie oortuig dat dit nie net verkwis gaan word nie.

“Transnet het al voorheen reddingsboeie van die tesourie ontvang en die vraag bly of die bestuur, operasionele visie en beheer wat al jare lank benodig word, nou gesien gaan word,” sê Gavin Kelly, uitvoerende hoof van RFA.

“Dit het nog nie voorheen gebeur nie, so nou moet ons kyk of dit ‘skielik’ gaan gebeur. Of gaan Transnet dieselfde lot as die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) hê, waar ontelbare reddingsboeie sonder die gewenste resultaat toegestaan is?”

Kelly sê hy besef infrastruktuur- en toerusting-ingrypings is nodig en dat dit kapitaal vereis, maar hy bly oortuig dat ʼn houding- en bestuursverandering binne Transnet en die sektor in geheel nodig is.

“Die reddingsboei is ʼn stap in die regte rigting, en die RFA sien uit daarna om ʼn nuwe doeltreffendheid by die hawe- en spoordienste wat deur Transnet beheer word te sien en te ervaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sean ·

Nou gaan die geld rol Almal kry verhogings en self awarded bonusses Geseende kersfees anc

Boatsie ·

Die vraag is nie soseer die R47miljard nie; al die ander SOE’s het dit al gekry; die geld word iewers “gedruk”.
Die kritiese ding hier is die betalingvoorwaardes wat gereeld hersien moet word.
Gaan dit gebeur of gaan die geld maar weer in daai bodemlose put ( lees: karre, huise, verhogings, pakette, “perks) beland?

SwartBees ·

Toertjie vir die dag:

Hoe laat jy R47miljard verdwyn?
….Jy gee dit vir ‘n staats instansie.

Van daai R47miljard gaan R100 000,00 werklik gebruik word deur transnet en die res gaan velore raak in die groot swart karre se kattebakke,

Wondermaarnet ·

Seker net 7 miljard sal aangewend word en die res beland in ander se sakke.

Wielspore ·

Dit is nou die regte tyd om die geld beskikbaar te stel, die kaders kan nou duur geskenke vir hulle vriende, familie en ondersteuners koop vir die feestyd.

electricmango ·

Huff n puff sous trein is weer lopend. Kry die emmers reg die trog vreters is op pad….

Johann ·

Bloot geen verandwoording vir ‘n sent nie. Onbevoegdheid en vergrype word beloon met miljarde.

Sobymykoolkop ·

Glo my vry.Geen uitsondering op die reël nie. Ons belastingbetaler SAL dit betaal.

Sobymykoolkop ·

Jy is verkeerd Sean.Ons verhogings is reeds vir 3 jaar onderhandel.Ons betaal al van Jan tot Des ń bedrag vir die belasing sodat ons IETS van die bonus kry.Wat die base doen is totaal ń ander saak. Maar daai 47 milj is vir ons as belastingbetalers se rek.

Oosieoos ·

Probeer gryp wat hulle kan voor verkiesing want dsn gaan die prentjie verander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.