R70 miljoen se dwelms by Durban-hawe gevind

Die vraghouerterminaal by die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Die ANC het vandeesweek die polisieminister, Bheki Cele, geloof vir sy wetstoepassingsowerhede se ingrypings wat daartoe gelei het dat beslag gelê is op dwelms ter waarde van R70 miljoen by die Durban-hawe.

Mafika Mndebele, provinsiale woordvoerder van die ANC, sê die polisie het ʼn vragskip wat van Brasilië na Suid-Afrika op pad was, fyn dopgehou.

Die owerhede het toegeslaan nadat die skip vasgemeer het en op verskeie 20 liter‑verfhouers afgekom wat altesaam 200 blokke kokaïen bevat het.

Mndebele sê hierdie reusefonds is soortgelyk aan die een waarop wetstoepassingsowerhede in Maart vanjaar by die einste hawe afgekom het. Spanne het destyds op sowat 378 blokke kokaïen beslag gelê. Dié dwelms het ʼn geskatte waarde van R1,3 miljard gehad.

“Ons is bemoedig dat die minister die resolusie implementeer wat aangeneem is tydens die ANC se provinsiale lekgotla wat vroeër vanjaar gehou is. Afgevaardigdes het met een stem gepraat oor die skepping van ʼn misdaadvrye samelewing waar alle gemeenskappe veilig voel,” sê hy.

“As die ANC waardeer ons die feit dat ons wetstoepassingsagentskappe nou op volle gereedheid is.”

Die ANC voer aan dat weens Durban se strategiese ligging word die stad toenemend as ʼn kanaal vir onwettige dwelms gebruik wat dikwels vir nasionale en internasionale markte bestem is.

“Ons grootste bekommernis is dat misdaad wat deur sindikate gepleeg word dikwels in die vorm van dwelmhandel gedoen word of mensehandel wat verband hou met prostitusie, gewapende roof, bankrooftogte, diefstal van voertuie en waardevolle juweliersware.”

Mndebele sê die ANC het onderneem om strenger beheermaatreëls by hawens en grense te implementeer “om dit vir kriminele sindikate moeilik te maak om te werk”.

“In die breë prentjie is die ANC-regering vinnig besig om die oorlog teen dwelmhandel te wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

annie ·

… en dié invoere lewer groot winste vir die vervaardigers. Orals loop en ry en werk mense wat dié produkte gebruik. SA word soos Mexiko en lyk dalk al slegter.

Bolandse Nooi ·

Ag, weet jy annie, hulle hoef dit nie eens in te voer nie. Dwelms word plaaslik vervaardig … kokaiën en heroïen ingesluit. SA het van die grootste
methamfetamien -fabrieke … op dieselfde vlak as Mexiko en ander Suid-Amerikaanse lande en dit dikwels sommer in gewone huise in gewone buurte.

Johan ·

Cele word geloof… hy was waarskynlik nie eers bewus daarvan tot nadat dit gevind is nie. “Ons wetstoepassingsagentskappe nou op volle gereedheid” – Wat n grap! Die berig laat dit na anc beeldpoetsing klink en ons gaan nog vele voor die verkiesing sien.

Nie Verbaas ·

“Afgevaardigdes het met een stem gepraat oor die skepping van ʼn misdaadvrye samelewing waar alle gemeenskappe veilig voel,” sê hy.” Ek gaan eers vanaand seker ophou lag.

Karoo ·

Dankie dat julle julle werk doen, spoel die gees van eiwerigheid asb nou net oor na die ander misdade wat julle nog nie onder beheer het nie.

Hannah ·

Yip. Met die klem op “nog nie”, want hulle het al daaroor gepraat.

Yvonne ·

Wel gedaan…hou asb net aan om misdaad te beveg …dit is hopelik nou weg van die strate af!!
Die spreekwoord sè…een swaeltjie maak nie n somer nie

Snowball ·

Ag asseblief, hier en daar ‘n trefslag teen misdaad wat aan die groot klok gevang word, is soos een groen spriet wat uit ‘n mishoop opsukkel. SA se hoolstatus as misdaadkrot is reeds wêreldbekend; die ANC kan gaan winde opbreek op ‘n plein en dit as parfuum verkoop vir hulle aanhangers, die res van die wêreld ruik die vrot.

Gert ·

‘n Skip meer vas. Dit kom nie aan wal nie????????????
Mense kom aan wal of goedere word aan wal gebring

Wondermaarnet ·

Nou gaan Cele seker ‘n beloning van ‘n paar miljoen kry vir sy “dapper werk”.

SjN ·

Een vraghouer word gekonfiskeer maar die ander 9 gaan deur sonder enige optrede.

Trinity ·

Kan iemand asseblief vir my ook die prentjie wys waarvan hulle praat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.