R9 miljoen onregmatig van Krugersdorp-munisipaliteit oorgeplaas

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die burgemeester van Mogale City- plaaslike munisipaliteit se dogter het glo voordeel getrek uit R9 miljoen wat by die munisipaliteit verdwyn het.

Solly Msimanga, woordvoerder van die DA, sê die Demokratiese Alliansie in Gauteng het betroubaar verneem dat die munisipaliteit ʼn faktuur van R9 miljoen vir Aqua verwerk het vir dienste wat aan die munisipaliteit gelewer is.

“Terwyl hulle besig was om die betaling te maak, is ʼn e-pos aan die munisipaliteit gestuur met opdrag dat die geld na ʼn ander rekening oorbetaal moet word as dit was op die oorspronklike Aqua-rekening verskyn,” het Msimanga bygevoeg. Die R9 miljoen is toe oorbetaal sonder dat die rekeningbesonderhede geverifieer is.

“Die tweede rekening behoort glo aan Motlatsi Attorneys. Nadat die R9 miljoen oorbetaal is, is dit dadelik oorgeplaas na verskillende rekeninge. Dit het agterdog by die bank gewek en die munisipaliteit se hoof- finansiële beampte is in kennis gestel.”

Die munisipale bestuurder en ʼn ander bestuurder, wat saam met die finansiële hoof werk, het die oorplasing goedgekeur sonder dat die hoof- finansiële beampte in kennis gestel is.

“Die finansiële hoof het in Julie verlede jaar ʼn saak by die Krugersdorp-polisiestasie aanhangig gemaak oor die vermiste geld. Die saak is later na die Palm Ridge-handelsmisdaadhof oorgeplaas.”

Die geld is in twee transaksies oorbetaal, met R5 miljoen op 10 Julie 2020 en R4 miljoen op 14 Julie 2020 na ʼn Absa-rekening.

Die burgemeester se dogter was glo ook ʼn begunstigde van die vermiste R9 miljoen.

“Dié optrede deur die munisipaliteit is ʼn growwe oortreding van behoorlike praktyk wat staatsgeld betref. Indien ʼn diensverskaffer ooit die bankbesonderhede vir ʼn betaling wil verander, moet ʼn formele brief by die munisipale bestuurder ingedien word met besonderhede oor die verandering van bankbesonderhede. ʼn Verifiëringsproses word ook vereis om seker te maak die rekening behoort wel aan die diensverskaffer en daar moet bepaal word of die diensverskaffer aan belasting- en ander regulasies voldoen voor enige betaling gemaak kan word. Die feit dat die munisipale bestuurder en nog ʼn bestuurder magtiging gegee het vir dié transaksie, is ʼn bewys dat hulle aandadig is en hulle moet rekenskap gee vir dié R9 miljoen,” het Msimanga bygevoeg.

Nege maande het reeds verloop sedert die saak aanhangig gemaak is, en tog is niemand nog in hegtenis geneem nie en die geld is ook nie teruggekry nie.

“Geldwassery, finansiële wanbestuur en korrupsie is ernstige misdade wat daartoe gelei het dat verskeie ANC-munisipaliteite landswyd ineengestort het. Mogale City gaan gebuk onder skuld en dienslewering is in ʼn haglike toestand terwyl miljoene uit die staatskas gesteel word om ʼn paar individue te verryk.”

Die DA sal die premier, David Makhura, en die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, skriftelik versoek om ondersoek in te stel oor die vordering van die saak en om te bepaal of ʼn forensiese ondersoek van stapel gestuur is oor die saak en hoekom niemand aanspreeklik gehou is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chris dupreez ·

En so gaan die korupsie maar voort , sonder dat n haan daaroor kraai.

Henry ·

As SARS hul werk behoorlik gedoen het, sou hierdie ongeruimdhede nie opgetel word nie? So is SARS dan nie maar ook kop on een mus met die ANC en korrupsie wat plaasvind in staatsinstellings nie?

pompies ·

DA praat en praat en niks gebeur nie. Hoelank weet julle al van hierdie storie maar nege maande later wil julle nou antwoorde kry. Ek sou se roer die polisie wat die saak moes ondersoek dit is hulle werk en dit is nie gedoen nie.

Janee ·

Pompies…..not going to happen. Vandag se polisie kan niks doen….nevermind “geroer” word.

Kokerboom ·

Die ANC is in sy hele wese inherent absoluut verrot en korrup. Hul word in posisie gehou deur goedgelowige oningeligte massas wat stem op grond van ras en kleur en as dinge dan nie volgens hul sin verloop dan verwoes en vernietig hul nog die bietjie wat oorbly na 27 jaar van wanregering. Geld het vir die mense GEEN waarde!!!

Yvonne ·

Kokerboom stem 100% saam en die verrotting is erger as enige virus of kanker….as ek kyk na die arrogansie is dit om van naar te word…..lieg en bedrieg

JohanR ·

My rekening is bietjie baie leeg, net in geval iemand R9 miljoen daar wil insit?

Cherokee ·

‘ Dit het agterdog by die bank gewek en die munisipaliteit se hoof- finansiële beampte is in kennis gestel.,’
Daar is meer mense wat gekomplimenteer moet word. Ek raai dìt is hoe dit aan die lig gekom het. Indien wel, verdien hulle komplimente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.