R90 miljoen-slag vir Denel oor salarisse

Denel sukkel reeds maande lank net om sy salarisse te betaal. (Foto: Denel)

Die arbeidshof het beveel dat Denel binne die volgende tien dae byna R90 miljoen aan Solidariteit oorbetaal om die agterstallige salarisse van sy lede te betaal – die grootste bedrag nóg wat ʼn hof vir uitstaande salarisse teen die staat toegeken het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond sal die balju opdrag gee om beslag op Denel se bates te lê indien die wapenvervaardiger versuim om gehoor te gee aan die hofbevel. Die arbeidshof het beveel dat Denel Solidariteit se regskoste dek.

Die sukkelende wapenvervaardiger skuld Solidariteit se lede R88 985 297,79 weens agterstallige salarisse.

Solidariteit het hom vroeër tot die arbeidshof in Johannesburg gewend om dié skuld namens sy lede – onder andere werknemers van Denel Dynamics en Denel Pretoria Metal Pressings (PMP) – in te vorder.

Dít nadat Solidariteit verlede jaar ook sukses behaal het toe die vakbond lasbriewe van R12 miljoen van eksekusie bekom het en Denel, enkele dae voor beslaglegging, uiteindelik betaal het.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Verskaf)

Hermann sê nou die jongste hofbevel is ʼn reuseoorwinning vir Solidariteit se lede van wie sommige al sedert Mei 2020 nie hul volledige salarisse ontvang het nie.

“Ons is ongelooflik dankbaar oor die verligting wat hierdie bevel vir ons lede bied. Ons lede moes te midde van die geweldige onsekerheid en uitdagings wat die Covid-19-pandemie meegebring het bykans deurlopend hul werk sonder volle betaling verrig.”

Hermann sê hoewel Solidariteit natuurlik verheug is oor die uitkoms, bly dit “ʼn skreiende skande” dat die vakbond die hof deurlopend moet nader om staatsinstellings te dwing om hul pligte teenoor werknemers na te kom.

“Ons kan nie toelaat dat ons lede en gewone belastingbetalers langer die spit moet afbyt vir die wanbestuur van die staat, terwyl die plunderaars maar net straffeloos voortgaan om te steel nie. Ons moet dit nou verder voer. Ons gaan nou voort met litigasie en die indiening van strafregtelike klagte om seker te maak dat diegene wat hierdie gemors veroorsaak het, nou daarvoor aanspreeklik gehou sal word,” sê Hermann.

Denel sukkel reeds twee jaar lank om werkers se volle salarisse te betaal. Dít nadat die wapenvervaardiger eens die hoeksteen van Suid-Afrika se plaaslike verdedigingsbedryf was. Denel was in 2015 nog ʼn winsgewende en groeiende staatsbeheerde instelling, met R1,9 miljard in die bank en R35 miljard in bestellings op sy boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

domheks ·

Kan nie salarisse betaal nie, maar verhoging is op pad na die kaders se sakke! Het hulle (die kaders) geen skaamte nie???

JM ·

Dankie Solidariteit! Mag die Here uitkoms gee vir hierdie ANC-beheerde land, dat ‘n positiewe keerpunt sal aanbreek!

FrikkievV ·

Alles waaraan ‘n kader raak verander in poef.
Dank aan Solidariteit wat die spul aanspreelklik hou, hopelik slaan hulle ag op die hof uitspraak en betaal die mense die salarisse wat hulle toekom

philippus ·

Dalk moet solidariteit beslag lê op die bate en dit self begin bedryf en besguur…die regering se broek Sal bewe as ONS toegang tot wapen produksie het. Onthou die slim mense gaan loop as daar nie werk is nie

Nie Verbaas ·

Stem. Dit sal dan weer in n winsgewende besigheid verander.

Anel ·

Die staat betaal nie sy mense nie maar verwag van die privaatsektor om sy mense dubbeld te betaal met verhogings. Verstaan nie. Hiip nou net die mense van Denel kry al hulle geld. Skande dat mense moet baklei en hofsake moet maak om betaal te word. In 5 jaar bankrot gespeel.!!!!

SlinkseKoljander ·

Lekker ons BEE maatjies by die ANC, daar stuur julle nog n groot mpy in sy maai!!

Derick ·

Hulle kan mos die 50 miljoen van Kuba towards hierdie gebruik…..

PieterJ ·

En more gaan regering ‘n R90m “reddingsboei” vir Denel gee met ons komplimente. Soos altyd betaal ons vir ander se gemors.

Misky ·

Skokkend!!!! En dan kry die slegte ministers 450 miljoen vir sit op hulle dik g@tte en ons skenk 50 miljoen vir Kuba.

Lekker man, die geld rol mos in.

Boon ·

Denel se ondergang is seker die treurigste van almal wat wanbestuur is en onderkorrupsie ban die Zuma-regering deurgeloop het. Al daardie hoogsopgeleide werknemers is vir die land verlore, nes Eskom, Atoomkragraad, Weermag, SAL, Spoorweë en ander

JohanR ·

Nog ‘n oorwinning vir Solidariteit. Jammer die sake moet altyd in die hof eindig.

Christine ·

Solidariteit, asb neem dit hof toe dat alle SOEs oorgeneem word deur die privaatsektor, asb.

Eerlik ·

Welgedaan. Ek wens solidariteit het soveel moeite in enkele lede se sake ook ingesit.

Nie Verbaas ·

Ek is seker die fat cat kaders het elke maande hulle salarisse gevat.

Althes ·

Dankie Solidariteit dat jy veg vir die regte van gewone landsburgers in die werkplek.
Die lidmaatskapfooi val op vrugbare grond.

Herman ·

Hahaha. Die balju gaan niks kry nie. Miskien klomp stukkende of half vervaardige “equipment”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.