Ralph Rabie se spoor loop deur die nagkantoor

Ralph Rabie as Johannes Kerkorrel tydens Kaktus op die Vlaktes by die KKNK (Foto: John Wassenaar)

Op Dinsdag 12 November 2002 het die son helder geskyn in die Kaap. Maar vir een persoon kon die son nie langer die donkerte verdryf nie. Vir hom het die lewe se gewig uiteindelik te swaar geword om verder te dra. Ralph Rabie het op daardie somersdag in sy kar geklim en na Kleinmond gery. In ʼn woudagtige gebied het hy stilgehou, sy polse gesny en homself daarna aan ʼn boom opgehang. ʼn Kosbare lewe het ophou bestaan. Afrikaanse musiek was meteens veel armer.

Verlede jaar in November was dit reeds die 20ste herdenking van hierdie gebeurtenis wat die hele Suid-Afrika diep geruk het. Ralph Rabie was natuurlik veel beter bekend onder sy verhoognaam Johannes Kerkorrel. Maar vir sy vriende en eertydse kollegas sal hy altyd Ralph bly.

In ʼn plasing wat op 12 November 2022 op Nagkantoor gemaak is, vertel Anelia Heese, hoedat daardie dag vir haar skerp uitstaan, juis oor haar pa se reaksie op die dood van Rabie. “Ek weet nie, maar daai sonnige Dinsdag in November was die dag wat my pa vir my sy eie man geword het. ʼn Man wat kon huil oor Ralph,” skryf Anelia in haar plasing. “Die dag toe ʼn stukkie van ONS musiek gesterf het,” reageer Robert Kieser in ʼn opmerking by hierdie plasing.

‘In die nagkantoor raak jy bietjie menssku en introverties’ 

Irna van Zyl

Wanneer ʼn mens op Rabie se spoor terugloop, kom jy agter dat hy self die vier mure van ʼn nagkantoor goed geken het. Die oudjoernalis en skrywer Irna van Zyl het juis vir Ralph in Die Burger se nagkantoor leer ken. Dit was die vroeg 1980’s en die land was aan die brand.

“Ek was vir ʼn jaar met ʼn rugsak oorsee en toe ek terugkeer het ek weer by Die Burger ingeval. Kort na my terugkeer is ek nagkantoor toe. Ralph het vanuit die noorde na Kaapstad verhuis saam met sy vrou, Anne Grobler, en seuntjie, Reuben. Hy is later van haar geskei. Ek het in Woodstock gewoon en die drie se blyplek was net in die volgende straat. Dit was gou vir my duidelik dat hy uitstekende werk as vertaler en sub gedoen het, ʼn vaardige woordkunstenaar. Die mense van die nagkantoor het vieruur in die middae begin werk en dan eers gewoonlik so teen een uur, twee uur die nag ophou werk. Omdat jy sulke snaakse ure werk, sosialiseer jy nie juis met ander mense nie, maar wel met jou vriende in die nagkantoor. Jy raak amper ʼn bietjie menssku en introverties omdat jy nie ʼn normale lewe lei nie. Dit was nogal bietjie tough op ons almal wat nog jonk was,” vertel Irna.

Aan die einde van 1985 het sy haar pos by Die Burger bedank toe sy aangestel is as die redakteur van De Kat-tydskrif, ʼn nuwe glanstydskrif wat heerlik gewaagd was en nie altyd by die voorskrifte van Naspers gehou het nie. ʼn Rukkie later het Ralph ook Johannesburg toe geskuif nadat hy ʼn aanstelling by Rapport gekry het. Hier het hulle weer die vriendskapsbande opgetel. Irna en ʼn paar vriendinne was in daardie tyd besig met ʼn kabaret waarvoor hulle liedjies en musiek geskryf het. Omstrede liedjies wat die establishment uitgedaag het. Hulle het Ralph genooi om by hulle aan te sluit want hy en ʼn ander vriendin het toe reeds suksesvolle, uitdagende kabaretvertonings in die Kaap aangebied. Ralph het gehelp om liedjies te skryf en het ook die klavier gespeel in die kabaret. Dit is een aand in die Black Sun, ʼn kabaretteater, opgevoer. Die teater was daardie aand volgepak met vriende en kollegas en dit was ʼn groot sukses.

In dieselfde tyd het Ralph ʼn artikel vir Rapport gedoen oor Andre le Toit, of te wel Koos Kombuis. In sy boek, In die tyd van die kombi’s, vertel Koos dit soos volg: “In die Johannesburgse kantore van die Sondagkoerant Rapport het ʼn jong verslaggewer van my kasset (Ver van die ou Kalahari) gehoor en vir sy baas gesê dat hy ʼn onderhoud met my wil doen vir die tydskrifafdeling. Dit sou nie net ʼn kort beriggie wees nie maar ʼn hele bladsy met foto’s. ʼn Persoonlike profiel… Die jong verslaggewer was Ralph Rabie; later beter bekend as Johannes Kerkorrel. Ek het hom al een keer tevore ontmoet, by die Skrywersgildeberaad van 1981 op Gordonsbaai, toe hy nog ʼn student aan Potchefstroom se universiteit was. Teen hierdie tyd was hy self ʼn protessanger, en het al hier en daar begin optree. Saam met ʼn meisie met die naam Lieze Stassen, in verskeie ‘underground’-plekkies in die Kaap. Dit sou ek uitvind, heeltemal per toeval, die aand voor die groot onderhoud, toe ek en my girlfriend op besoek was by bruin vriende in Woodstock wat toevallig besig was om te luister na ʼn bootleg-kasset van een van Ralph se kabaretvertonings.

Irna van Zyl en Ena Jansen in die kabaret wat hulle saam met Ralph Rabie gedoen het.

“Ek het na die bootleg geluister en onmiddellik geweet: Hierdie ou gaan nog ver kom. Hierdie ou is die volgende groot ster van Afrikaans.

“Natuurlik was ek toe al ʼn bietjie jaloers op hom. Maar dit het my nie gekeer om hom die volgende dag, toe ons bymekaarkom vir die onderhoud, te vra om ʼn show saam met my te doen nie. Hy het die aanbod aanvaar,” skryf Koos.

Irna vertel dat Ralph na die klomp wat besig was met die kabaret as die Melville Susters verwys het. Dit was onder meer Irna, Ena Jansen, Marlene van Niekerk en Mariaan de Jongh. Nadat Ralph saam met Koos begin optree het, het die Melville Susters se tweede kabaret nooit plaasgevind nie, maar het sy loopbaan vlerke gekry.

“Ralph het al hoe meer musiek gemaak, maar steeds sy dayjob by die koerant gehou,” vertel Irna. “In daardie tyd het hy baie geworstel oor of hy nog langer by die koerant wou wees. Ons almal het die politiek in daardie tyd geháát, al was dit ʼn plek om in Afrikaans te kon werk. Ons was jonk en rebels, maar destyds in die nagkantoor kon ons niks laat deurlaat wat die nagnuusredakteur nie sou goedkeur nie. Ons wou dus wegkom uit daardie omstandighede, ek dink Ralph ook. Hy het seker nog ʼn jaar by Rapport gebly, maar toe is hy weg om ʼn voltydse musikant te word. Daarna het die Voëlvry-toer plaasgevind en het al hierdie amazing goeters gebeur.”

Ralph Rabie (Foto: Facebook)

Wat sou gebeur het indien Ralph Rabie bloot ʼn joernalis, of redigeerder gebly het, wonder ʼn mens. Tog dink Irna dat hy, selfs terugskouend, waarskynlik weer dieselfde pad sou gekies het.

“Ek dink Ralph het homself deur sy musiek uitgeleef op ʼn kreatiewe manier wat hy nie in die joernalistiek kon doen nie. Hy het vryheid gehad en hy het iets vir die land gedoen. Dat hy so ʼn leidende figuur geword het in die hele bevrydingskultuur in die land, sou hy nooit kon voorspel het nie, maar ek dink hy was baie trots op die sukses wat hy behaal het. Ek luister vandag nog baie na Kerkorrel, dan dink ek: Sjoe, dis musiek waarna enigeen kan luister! Daar is soveel diepte daarin, veral sy laaste musiek wat so ʼn bietjie weg van die protesmusiek was. Sy eerste musiek was baie kabaretagtig, wat natuurlik die perfekte medium was vir politieke stellings of om ʼn bietjie anargisties te wees, maar sy loopbaan het veel meer as dit geword.

“As ek nou aan Ralph terugdink, onthou ek sy entoesiasme, hoe hy so ondeund kon lag. Hy het ʼn grap gemaak en dan so half binnensmonds daaroor gelag, dit was vreeslik mooi om te sien. Tog was hy met tye nogal depressief, ek dink nie dit was die musiek wat hom so donker gemaak het nie, hy het altyd ʼn bietjie van ʼn donker kant aan hom gehad. Soms dink ek hy het gesukkel om te cope met die roem van Kerkorrel, maar dit is my persoonlike mening. Dis onmoontlik om te weet hoe sy lewe sou uitdraai indien hy ander keuses gemaak het. Tog dink ek selfs met hindsight sou hy dieselfde pad geloop het. Hy was uiteindelik baie trots op sy musiekloopbaan en ʼn mens wonder vandag maar net wat dit was wat hom uiteindelik daartoe gedryf het dat hy nie meer die toekoms kon sien nie.”

‘Die Ralph wat ons geken het, was heeltemal anders as Kerkorrel’ 

Martie Swanepoel

In die tyd wat Ralph as joernalis en sub by Rapport gewerk het, het hy ook vriende gemaak met Johan Pieterse wat toe die hoofsub by Rapport was. Johan het ʼn besonderse musiekkennis gehad, en Ralph het baie aanklank daarby gevind. Johan is in 2008 oorlede. Sy weduwee, Martie Swanepoel, is self ʼn bekroonde joernalis, en vir haar lê die vriendskap met Ralph Rabie baie na aan die hart. Sy vertel hoedat hulle baie aande daar by die Black Sun in Berea gekuier het, juis daar waar Ralph saam met die Melville Susters en Koos Kombuis opgetree het. Dit was ʼn baie gewilde kuierplek, eintlik ʼn soort teaterrestaurant waar joernaliste en kunstenaars graag uitgehang het.

Een kuier staan vir haar uit. Sy en Ralph het feitlik deurnag by die Black Sun gekuier, en vroeg die volgende oggend, ʼn Saterdag, het Johan hulle wakker gebel en kantoor toe ontbied, veel vroeër as wat hulle eintlik daar moes wees. Daar was groot drama: die Helderberg-vliegtuig het geval en hulle moes dadelik kantoor toe kom om die volgende dag se Sondagkoerant gereed te kry.

“Ons was behoorlik groen om die kiewe, maar ons moes maar werk. Johan was nogal ʼn streng baas,” lag Martie. “Die Ralph wat ek geken het, was heeltemal anders as Kerkorrel. Johannes Kerkorrel was vir my ʼn vreemdeling in baie opsigte. Soms is ek spyt dat ons hom so aangemoedig het om hierdie loopbaan na te jaag. Sy musiekloopbaan, het Ralph vernietig. Dit het op die einde sy einde beteken. Ek dink nie Ralph het die regte persoonlikheid gehad om te cope met die druk wat op hom gewag het nie. Hy het ʼn soort kinderlikheid aan hom gehad. Aanvanklik, toe hy al hierdie bekendes ontmoet het deur sy werk, was hy in totale verwondering.”

Martie onthou ook die aand wat hy sy eerste groot vertoning by die Sterrewag-teater in Bloemfontein gaan doen het. ʼn Hele paar van sy vriende het deurgery van Johannesburg af om hom te ondersteun. Sy sê kort voor die vertoning was hy byna paniekbevange by die gedagte dat hy op die verhoog moet gaan. Die donkerbril waarmee hy daardie aand, en baie kere daarna opgetree het, was om homself te beskerm, byna soos ʼn masker waaragter hy kon wegkruip.

Ralph Rabie en die kunsskrywer Andrea Vinassa in Maart 1988 (Foto: Marius Bakkes)

“Ongelukkig het sy naïwiteit hom soms duur te staan gekom. Coenie Slabber het ook op Ralph ingezoem, eers baie subtiel. Coenie het natuurlik baie bekende mense geken, en dit het juis vir Ralph aangetrek. Ons het hom teen Coenie gewaarsku, veral toe hy vertel dat Coenie hom saamgenooi het Amerika toe. ‘Coenie gaan sy pond vleis eis,’ was Johan se woorde aan Ralph. Ons weet nie wat in Amerika gebeur het nie, maar Ralph het baie ontsteld teruggekom. Hy was behoorlik in ʼn toestand gewees.”

Martie sê sy rebelsheid teen die regering was altyddeur onderliggend teenwoordig. In daardie opsig het hy en haar man ook aanklank bymekaar gevind. Sy onthou toe Johan ʼn plakkaat in die subkantoor opgesit het wat gesê het: Troepie, wat soek jy in die township? Bob van Walsem, die adjunkredakteur van Rapport, het Johan beveel om dit af te haal. Sy voel ook dat Bob van Walsem vir Ralph geboelie het, juis omdat hy nie net altyd wou inval by wat vir hom gesê is nie. Ralph, sê sy, was nooit iemand wat die massas gevolg het nie. As hy verdrink het sou hulle hom stroomop moes gaan soek het.

“Ná sy dood het baie mense hulle voorgedoen as baie goeie vriende van Ralph, maar waar was hulle toe hy regtig swaargekry het? Daar was baie mense wat ná sy dood met biggelende trane gesels het oor hom en wat geklou het aan Johannes Kerkorrel se roem. Eintlik het hulle nie regtig die Ralph geken wat ons geken het nie. Die sagsprekende, skaam outjie. Baie min mense het hom regtigwaar op daardie manier geken.

“Die nuus van Ralph se dood het my en Johan verslae gelaat,” onthou Martie. “Johan het gesê hy dink Ralph kon nie meer saamleef met die mens wat hy geword het nie. Vandag voel ek dit was eintlik Johannes Kerkorrel wat vir Ralph Rabie doodgemaak het.”

‘Die oomblik wat Ralph Rabie op die verhoog gestap het, het hy ʼn ander mens geword’

Die Gereformeerde Blues Band in 1988. Van links: Gary ‘Piet Pers’ Herselman (baskitaar), Jannie ‘Hanepoot’ van Tonder (dromme & tromboon), Johannes Kerkorrel (stem & klavier), Willem ‘Mr Volume’ Moller (kitaar)

Iemand wat ʼn baie nou pad saam met Ralph geloop het, is Willem Moller, die kitaarspeler van die Gereformeerde Blues Band.

“Ek het vroeg in 1988 gaan kyk na een van Ralph en Koos Kombuis se shows en ek het baie gehou van wat hulle doen. Ons het begin gesels oor die moontlikheid om ʼn band te begin sodat hy sy musiek na groter venues kan vat. So is die Gereformeerde Blues Band gestig waarin ek, “Mr Volume”, Gary “Piet Pers” Herselman en Jannie “Hanepoot” van Tonder gespeel het. Uiteindelik het die Voëlvrytoer gevolg wat lewensveranderend was. Dit was ʼn dramatiese episode en het ʼn wonderlike effek gehad op ʼn hele geslag van veral jong Afrikaanse studente. Hulle het so half vermoed daar is fout in hierdie land, maar was nog altyd bang om hulself uit te druk. Tot vandag toe ontmoet ek mense wat sê hulle het van daardie konserte bygewoon en dit het hulle hele lewe verander,” sê Willem.

Hy sê die oomblik wat Ralph Rabie op die verhoog gestap het, het hy ʼn ander mens geword. Hy was dan welsprekend en hy was die ideale boodskapper om die boodskap uit te dra.

“Daar was ʼn hele geslag wat so lank deur die Broederbond gebrainwash is dat hulle nog hulle koppe in die sand gehad het, en die boodskap moes by hulle uitkom. Ons was maar net rock ʼn’ rollers en global citizens wat musiek gebruik het om die boodskap uit te stuur. Die musiek was heel spesifiek en heel bedoeld rock ʼn’ roll clichés omdat die mense dit geken het. Dit was ʼn effektiewe manier om die boodskap uit te kry. Die kuns was om ʼn lawaai te maak, maar ook ʼn groot element van humor in die musiek in te sit. Mense wou hulleself geniet by ons konserte. Hulle wou saamsing en lag en ons het dit so aangebied dat hulle dit wel kon doen.”

Koos Kombuis en Ralph Rabie in April 1995 op die trein na die eerste KKNK (Foto: John Wassenaar)

Willem sê hulle was maar altyd bewus van die donkerte wat Ralph in hom rondgedra het. Hy glo dit het baie te doen gehad met sy grootwordjare omdat hy altyd half verwerp gevoel het. Hy was fyngevoelig en sensitief en dit het juis van hom ʼn goeie liedjieskrywer gemaak. Tog kry sulke sensitiewe mense swaar, juis omdat hulle in die kollig moet wees om die boodskap oor te dra. Hy vertel hoedat die media veral vir Ralph gejag het en almal wou onderhoude doen. Dan wou hy net wegkruip. Terwyl hulle in Amsterdam was, kon Ralph net homself wees, weg van die mense wat altyd op sy spoor was en wat hom gekritiseer het omdat hy gay was. Sy band het hom altyd hiervan probeer beskerm.

Willem vertel dat hy tot vandag toe nie die liedjie “Hillbrow” kan speel sonder om te wil huil nie. Al het hy en Ralph se paaie in die laaste paar jare uitmekaar geloop, was sy dood vir hom ʼn geweldige groot skok.

“Ek mis hom juis omdat ons hom nou ook nodig het,” sê Willem. “Hy kon dinge wat hom pla so goed stel, op ʼn nie-konfronterende manier. Hy het ʼn manier gehad om met mense oor dinge te gesels, sonder om te preek, maar op ʼn manier wat respek afgedwing het. Mense het ha hom geluister. Mense soos Ralph Rabie is raar, hy was sensitief, het maklik seergekry, en dis tragies hoe dinge vir hom uitgedraai het. Tog is ek dankbaar dat ek saam met hom deel kon wees van die hele Voëlvry-beweging. Dit was so belangrik want dit was bevryding vir baie mense op ʼn kritiese tyd in ons land.”

‘Kleinmond koebaai’ – Koos Kombuis, Valiant Swart

Wie wou jy naby aan jou hê?

By wie wou jy vir oulaas lê?

By wie gooi jy jou laaste draai?

Kleinmond koebaai, Kleinmond koebaai.

Toe jy jouself voëlvry verklaar, destyds in ons swartste jaar,

Toe jy opstaan met jou stem en jou klavier,

En jou songs

oor verraad en anargie.

Het jy iets in ons kom wakker maak.

Het jy mense met mekaar laat praat.

Ons iets gegee om aan vas te klou,

Jou hart vir Hillbrow

En ons vir jou.

Wie wou jy naby aan jou hê?

By wie wou jy vir oulaas lê?

By wie gooi jy jou laaste draai?

Kleinmond koebaai, Kleinmond koebaai.

Ja, dit was die dae van rewolusie en games

saam met Hanepoot en Volume en James.

Pap tyres in die wildernis,

vinger in die lug ʼn rebel in die mis.

En toe verloor jy ons deur die krake in die pad

Toe jou engele jou op ander paaie vat.

En toe verloor ons jou op die lange duur,

Nou mis ons jou en wens jy was hier.

Wie wou jy naby aan jou hê?

By wie wou jy vir oulaas lê?

By wie gooi jy jou laaste draai?

Kleinmond koebaai, Kleinmond koebaai.

Ja as rock ʼn’ roll eenvoudig was,

En die mense net nice

dan was hierdie aarde,

ook jou paradise.

Kleinmond koebaai

Kleinmond Koebaai.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanniepetoors ·

Dankie vir hierdie pragtige huldeblyk. My gemoed te vol vir meer woorde.

Alexander ·

Vir die eerste keer na die hele ‘Eet Kreef!’ album geluister en dis sekerlik die beste Afrikaanse album ooit :D Die lirieke is vandag nog relevant…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.