Ramaphosa dien verslag oor Zondo-kommissie in

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

President Cyril Ramaphosa het Sondag sy verslag oor die implementering van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se bevindings en aanbevelings ingedien.

Volgens Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, het Ramaphosa die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Maphisa-Nqakula, in kennis gestel dat hy die verslag indien.

“Die dokument van 76 bladsye sit die benadering tot die kommissie se bevindinge en aanbevelings, die metodologie vir die ontwikkeling van die reaksieplan en die implementering van die reaksieplan uiteen,” sê Magwenya.

Die kommissie, wat deur hoofregter Raymond Zondo gelei is, is aangestel as deel van die remediërende optrede vervat in die verslag van die Openbare Beskermer (OB) wat op 2 November 2016 vrygestel is.

In ooreenstemming met die remediërende optrede vervat in die OB se verslag en soos vereis deur die uitspraak van die Gautengse hooggeregshof op 23 Februarie vanjaar, het Ramaphosa sy voornemens met betrekking tot die implementering van die kommissie se aanbevelings uiteengesit.

“Die president se reaksieplan gee ’n uiteensetting van die stappe wat die regering doen om die kommissie se aanbevelings te implementeer met betrekking tot optrede teen die plegers van staatskaping en hervormings om ʼn herhaling van staatskaping te voorkom, sowel as breër sistemiese hervormings wat voortspruit uit die werk van die kommissie.”

Ramaphosa sal binnekort die dokument bekend maak. Hy sal na verwagting Sondagaand die nasie toespreek om meer besonderhede te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.