Ramaphosa: Geen verdere inperkings nie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand die land toegespreek oor verwikkelings in die land se reaksie op die Covid-19-pandemie.

Omikron

“Ons wetenskaplikes het vroeër vandeesweek ʼn nuwe variant van die koronavirus geïdentifiseer. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het dit Omikron gedoop en gesê dit is ʼn ‘kommerwekkende variant’,” het die president gesê. “Die Omikron-variant is eerste in Botswana beskryf en daarna in Suid-Afrika. Wetenskaplikes het reeds ook gevalle geïdentifiseer in onder andere Hongkong, Australië, België, Italië, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Oostenryk, Denemarke en Israel.”

Hy het gesê dit is danksy die uitstekende werk van wetenskaplikes en ons gevorderde genoom-waarnemingstelsel in Suid-Afrika dat dit so vinnig geïdentifiseer kon word.

Volgens Ramaphosa weet ons reeds dat Omikron baie meer mutasies het as vorige variante; dat dit opgespoor kan word met bestaande Covid-19-toetse en mense wat dus Covid-19-simptome wys of met iemand in kontak was, moet steeds getoets word; ons weet dat dit anders is as ander variante – dit is nie direk verwant aan die Delta- of Beta-variant nie; en ons weet dat die variant verantwoordelik is vir die meeste van die gevalle in Gauteng die afgelope twee weke en dat dit nou ook in ander provinsies ʼn verskyning maak.

“Daar is egter steeds baie wat ons steeds nie weet nie en ons sal oor die volgende paar dae en weke verder ondersoek instel na Omikron. Ons weet byvoorbeeld nie of dit meer aansteeklik is as ander variante nie. Ons weet nie of dit die risiko van herinfeksie verhoog nie. Ons weet nie of dit erger siektesimptome veroorsaak nie. Ons weet nie wat die doeltreffendheid van bestaande entstowwe teen Omikron is nie.

“Die persentasie van positiewe Covid-19-toetse het van 2% tot 9% toegeneem in minder as ʼn week. Dit is ʼn baie skerp styging in gevalle oor ʼn kort periode. As gevalle bly styg, kan ons ʼn vierde vlaag gevalle binne die volgende paar weke verwag, indien nie vroeër nie. Dit is geen verrassing nie. Epidemioloë het vir ons gesê dat ons ʼn vierde golf vroeg in Desember te wagte kan wees. Wetenskaplikes het ook gesê dat ons nuwe variante moet verwag. Daar is steeds baie kommer oor die Omikron-variant, en ons weet nie presies hoe dit in die nabye toekoms gaan optree nie. Ons het egter al die middele tot ons beskikking om onsself daarteen te beskerm.”

Middele tot ons beskikking

Die eerste hiervan is inentings. “Dit is ʼn kragtige instrument. Dit verminder dramaties erge siekte, hospitalisasie en sterfte. Entstowwe werk, dit red lewens en dit is veilig.” Altesaam 41% van die volwasse bevolking het reeds minstens een entstofdosis ontvang en 35.6% van volwasse Suid-Afrikaners is ten volle ingeënt. Altesaam 57% van mense ouer as 60 is ten volle ingeënt en 53% van mense tussen 50 en 60 is ten volle ingeënt. Hy maan almal wat nog nie ingeënt is nie, om dit so vinnig as moontlik te laat doen.

Suid-Afrika, net soos talle ander lande, ondersoek reeds die moontlikheid van versterkerdosisse vir mense wat ʼn groter risiko het. Gesondheidsorgwerkers in die Sisonke-proeflopie, wat al meer as ses maande gelede ingeënt is, word Johnson & Johnson-versterkerdosisse aangebied.

Pfizer het ook reeds ʼn aansoek by Suid-Afrika se medisyne-reguleerder, Sahpra, ingedien vir ʼn derde dosis wat toegedien moet word ná die eerste twee dosisse.

“Die ministeriële raadgewende komitee oor entstowwe het reeds aangedui dat hy ʼn gefaseerde vrystelling van versterkerdosisse sal aanbeveel.”

Ramaphosa sê as individue, as maatskappye en as die regering het ons almal ʼn verantwoordelikheid om seker te maak dat alle mense in die land veilig kan werk, reis en sosialiseer.

“Ons het dus in gesprek getree met maatskaplike vennote en ander belanghebbendes om maatreëls in te stel wat inenting ʼn voorwaarde sal maak vir toegang tot die werksplek, openbare byeenkomste, openbare vervoer en openbare instellings. Dit sluit gesprekke in wat by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) plaasvind tussen die regering, vakbonde en die sakegemeenskap waar daar in die breë saamgestem word oor die behoefte aan sulke maatreëls.”

Ramaphosa sê die regering het ʼn taakspan aangestel wat konsultasies sal hê om inenting verpligtend te maak vir sekere aktiwiteite en plekke. Die taakspan sal terugvoer gee aan die interministeriële komitee oor inentings, onder voorsitterskap van die adjunkpresident, en aanbevelings sal gemaak word aan die kabinet oor ʼn regverdige en volhoubare benadering tot entstofmandate.

“Ons besef dat die instelling van hierdie tipe maatreëls ʼn baie moeilike en ingewikkelde kwessie is, maar as ons dit nie ernstig en dringend bespreek nie, sal ons kwesbaar bly vir nuwe variante en sal ons nuwe golwe bly beleef.”

Die tweede middel tot ons beskikking is die dra van maskers in openbare plekke en wanneer ons mense buite ons huisgesin ontmoet.

Die derde middel is die goedkoopste en vrylik beskikbaar: vars lug.

Die vierde middel is om groot byeenkomste te vermy – veral binnenshuise byeenkomste met nabye kontak met klomp ander mense oor ʼn uitgerekte tyd. “Hierdie tipe byeenkomste moet eerder aanlyn plaasvind. Matriekafskeidpartytjies en jaarafsluitingspartytjies moet eerder uitgestel word of vermy word. Dink twee keer voor jy ʼn groot byeenkoms reël of bywoon.”

Vlak 1-beperkings bly van krag

Die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) het die onlangse toename in gevalle oorweeg asook die moontlike impak van die Omikron-variant. Dit is opgevolg deur vergaderings met die president se koördineringsraad (wat bestaan uit die premiers, die NCCC en metro-munisipaliteite se burgemeesters) en ʼn kabinetsvergadering.

“Die besluit is geneem dat die land vir eers op vlak 1 van die inperkingsmaatreëls sal bly en die ramptoestand bly ook van krag. Ons gaan nie enige verdere beperkings in dié stadium instel nie. Dit sal egter nie volhoubaar wees nie, tensy almal die bogenoemde vier stappe volg.”

Die volgende maatreëls bly dus van krag:

  • Die aandklokreël geld steeds van 00:00 – 04:00.
  • Nie meer as 750 persone by ʼn binnenshuise geleentheid nie en ʼn maksimum van 2 000 mense buite, of 50% van die venue se kapasiteit.
  • Nie meer as 100 mense by ʼn begrafnis nie.
  • Die dra van maskers bly verpligtend.
  • Die verkope van alkohol geld volgens lisensiëringsvereistes (maar mag nie tydens die aandklokreël verkoop word nie).

“Ons sal die getal gevalle en hospitalisasie bly monitor en oor ʼn week weer die besluit oorweeg om te bepaal of dit voldoende is en of enige veranderinge gemaak moet word,” het die president gesê.

“Ons het ook begin om ons gesondheidsregulasies aan te pas sodat ons die gebruik van die Wet op Rampbestuur kan hersien om ons reaksie op die pandemie te bestuur sodat ons uiteindelik die nasionale ramptoestand kan ophef.”

Sluiting van grense

Die president het sy teleurstelling uitgespreek oor lande se besluit om ʼn reisverbod teen Suid-Afrika in te stel. “Dit is absoluut ongeregverdig en teenstrydig met die lande se ooreenkoms by die G20 in Rome. Hulle het onderneem dat internasionale reise op ʼn veilige en ordelike wyse sal hervat sodat ekonomieë kan herstel. Hulle diskrimineer nou egter uiters onregverdig teen ons land en ons buurlande. Ons doen ʼn beroep op die lande, wat ʼn reisverbod ingestel het, om dringend en dadelik hul besluit te heroorweeg voor enige skade gedoen word. Daar is geen wetenskaplike regverdiging om die reisverbod in te stel nie.”

Ramaphosa het gesê in plaas daarvan om ʼn reisverbod in te stel, moet die ryk lande eerder nog entstowwe beskikbaar maak sodat daar gelyke toegang tot entstowwe sal wees.

“Die verskyning van die Omikron-variant moet ʼn wekroep wees vir die wêreld dat entstof-ongelykheid nie kan voortduur nie. Totdat almal ingeënt is, sal almal in gevaar wees. Totdat almal ingeënt is, kan ons nog variante verwag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Tubac ·

Die skuld is alweer iemand anders se weerhouding van entstowwe. Die probleem het begin by die onrus. Baie duidelik dat finansies n probleem is. Swak dissipline en patetiese beheer.

Flip ·

Toe miljoene in rye gestaan het om te stem, was dit nie n probleem nie maar nou kom die Desember vakansie mos weer nader…..

LD ·

Die besluit is vir “nou”…… Oor ñ week of twee kan hulle als verander en dis dan steeds voor kersfees. Moet nie nou al té bly raak nie!

Truman Burbank ·

Presies. Hulle het altyd n agterdeur. Paai die goyem. En skroef hulle dan met die “beste intensies”

Papsak ·

Ek sal die ent vat maar as ek verseker kan word dat die virusdan my nie sal siek maak of dood nie anders vat ek hom glad nie wil nievan nou af oor twee jaar in my graf le nie en niemand wil waarheid praat oor die entstof nie so tot en met hou verby

madels ·

Ons almal weet nou al dat al is n persoon ingeënt jy kry nog steeds die virus :-(

Dirk Mostert ·

Die 4 gevalle in Botswana het almal hul dubbele dosis gehad.

Samuel ·

Eintlik het CR niks gesê nie, behalwe om ons voor te berei vir verpligte inentings. Pffffffft

Anonymouse ·

En ek hoop hulle gaan nie daarmee sloer nie. Hoe vinniger dit verpligtend is, hoe beter vir almal.

Petrus Klipkop ·

Solank as wat daar saam met die verpligte inentings, ook die reg om ingeënt te word met die entstof van jou keuse saamgaan. Daar is baie wat graag geënt wil word, maar met die entstof van hul keuse. Moenie iets verpligtend maak en dan die middele om dit te bereik nie beskikbaarstel nie. Ek is en bly ‘n voorstander van die vryheid van keuse, selfs die keuse om in te ent al dan nie, en om ander se keuses oor hulle eie gesondheid, finansies, ens. te respekteer. As Jesus self niemand dwing nie, maar eerder mense inlig deur die openbaarmaking van Sy karakter, wie dink die mens is hy deur ander te wil dwing of anders…

Elsie ·

Gaan julle maar want ek sal glad nie gaan vir dit nie. Net siek mense word ingespuit. Ek is nie siek nie en na amper 2 jaar het ek nog glad nie covid gehad nie. Sterkte vir die van julle wat te die vax kry maar nie kan dink aan die na gevolge van dit nie

Genis ·

“Daar is geen wetenskaplike regverdiging om die reisverbod in te stel nie.” Maar vir die in-enting wel? Help my uit hier asb, ek verstaan nie???

Nico ·

Kyk na al die optogte en stakings waar byna geen maskers gedra word nie, die polisie doen niks daaromtrent nie, hulle is self skuldig.

Dirk Mostert ·

1. Die derde middel: vars lug. CR moet vir Dlamini daarvan vertel, sodat ons nie weer onder huisarres geplaas word nie.
2. Hy bevestig wat ons reeds weet en wat Factscheckers fopnuus noem: Dat die entstof se immuniteitseffek taan. Volgens navorsing 50% binne 4-6 maande. Daarom die beplande versterkerdosisse, wat sal begin by die gesondheidswerkers wat 6 maande gelede geent is. Die Europese Kommissie het reeds voorgestel dat entpaspoorte net geldig gaan wees vir 9 maande na jou laaste enting. CR beplan om entings verpligtend te maak, dws met alle versterkerdosisse na die eerstes. Gee jou pinkie en die staat gryp jou hele hand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.