Ramaphosa getuig Woensdag voor Zondo-kommissie

Pres. Cyril Ramaphosa. (Argieffoto: Kopano Tlape/GCIS)

Cyril Ramaphosa, die president van die ANC, sal na verwagting Woensdag voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig.

Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die kommissie, het gesê Ramaphosa sal omstreeks 10:00 getuig.

John Steenhuisen, die federale leier van die Demokratiese Alliansie, het intussen aangedui dat hy ook die verrigtinge sal bywoon. Die Gautengse leier van die DA Solly Msimanga, die Gautengse voorsitter van die DA Frederik Nel en die DA se skaduminister van staatsdiens en administrasie Leon Schreiber sal ook by Steenhuisen aansluit.

Dit is die eerste keer wat die kommissie Ramaphosa se getuienis sal aanhoor. Die voorsitter van die kommissie, adjunk-hoofregter Raymond Zondo, het vroeër aangekondig dat Ramaphosa op 28 en 29 April sal getuig in sy hoedanigheid as president van die ANC en op 13 en 14 Mei as leier van die regering.

Luidens berigte sal Ramaphosa na verwagting reageer op bewerings deur Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, dat Ramaphosa toegelaat het dat sy sakebelange inmeng met regeringswerk.

Molefe het onder meer aangevoer Ramaphosa was bereid dat Glencore die kragreus as gyselaar aanhou weens sy geskiedenis met die Glencore.

Die burgerregtegroep AfriForum het vroeër ook gevra dat Ramaphosa tydens sy verskyning voor Zondo oor die ANC se kaderontplooiingsbeleid ondervra word. Die organisasie het ook gevra dat AfriForum die kans kry om voorleggings in dié verband aan die kommissie te lewer en self ook die president te kruisondervra.

AfriForum se aansoek spruit uit die feit dat Ramaphosa van 2013 tot 2016 die voorsitter van die ANC se komitee vir kaderontplooiing was. Die organisasie voer aan in hierdie tyd is verskeie individue wat van korrupsie en staatskaping beskuldig word, op grond van hul lojaliteit jeens die ANC in sleutelposisies aangestel.

AfriForum sê die ANC se kaderontplooiingsbeleid was waarskynlik die grootste bydraende faktor tot korrupsie en staatskaping.

Die kommissie hoor vandag getuienis aan van Arthur Fraser, voormalige direkteur-generaal van die staatsveiligheidsagentskap, asook dié van Gwede Mantashe, voormalige sekretaris-generaal van die ANC, oor parlementêre oorsigkwessies.

*Zondo het in Desember tydens ʼn mediakonferensie gesê omdat die kommissie drie maande lange verhoortyd weens die grendelstaat verloor het, sal die kommissie by die hooggeregshof aansoek doen dat sy mandaat met drie maande verleng word tot die einde van Junie 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter J ·

Ja Werner ek stem saam. Hulle sal wel ń liegstorie hê en baie goeie regsverteenwoordigers wat deur die belastingbetalers betaal word.

Edward Donald ·

Sal nie my tyd mors nie. Sodra sy lippe beweeg, lieg hy. Ek sal graag ingelig wil wees in fynere detail hoe het Cyril sy rykdom bekom
Behoort baie interesant te wees

Dries ·

Ek mis hierdie jakkalsdraaie vir geen geld in die wereld nie. Ek dink sy senuwees vreet hom op. Dit is nou nie soos ‘n “my fellow south africans” toespraak waar hy die toespraak lewer en ons sit en vloek nie. Nou is dit slim mense wat vrae vra en hy moet antwoord. Maar ons gaan verseker nogsteeds vloek maar verstom staan vir sy leuens en dalk n bietjie lag ook

Jack ·

Die teaterstuk moet ons nie mis nie. Hy is baie goed met woorde en daar sal mooi geluister moet word hoe hy die inkleurwerk doen en toesmeer soos hy aangaan. Hy het ongelukkig sy geloofwaardigheid verloor weens sy totale onmag om iets te bereik weens teenstand deur sy vyande in die anc. Ek hoop nogtans hy praat die waarheid en trek nie n zuma nie.

Rooikoos ·

Waarom word na Eskom verwys as ‘n “kragreus”? Die instansie is dit allermins.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.