Pres. Cyril Ramaphosa het die provinsiale regering in Noordwes onder administrasie geplaas.
Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het dié nuus bevestig.
Modise het aan African News Agency bevestig dat sy ʼn brief van Ramaphosa ontvang het wat sê die kabinet plaas die provinsie kragtens artikel 100 (1) van die Grondwet onder administrasie om die verskeie probleme binne die provinsie aan te spreek.
Die nasionale uitvoerende gesag kan ingevolge die Grondwet administrasie oorneem indien ʼn provinsie nie sy uitvoerende verpligtinge ingevolge die Grondwet of wetgewing nagekom het of nakom nie, om sodoende te verseker dat daardie verpligtinge wel vervul word.
Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, sê ʼn parlementêre komitee sal nou met ’n proses begin om die gebeure wat hierdie kabinetsbesluit tot gevolg gehad het, te beoordeel.
Noordwes sal volgens hom vir die volgende 180 dae onder nasionale beheer wees. “Die Nasionale Raad van Provinsies moet, soos die Grondwet bepaal, nou onafhanklik sy eie assessering doen en dan binne die volgende 180 dae ʼn gevolgtrekking maak.”
Dit is glo die eerste keer dat die regering totale beheer oor ʼn provinsiale regering neem. Dié aankondiging is glo drastiese stappe teen Noordwes-premier Supra Mahumapelo, wat steeds nie sy amp verlaat het nie ondanks honderde versoeke dat sy kop rol.
Die ANC se provinsiale uitvoerende komitee in Noordwes het Woensdag gesê hy het besluit dat Mahumapelo in sy amp sal aanbly. Die komitee sou daarna in gesprek tree met die ANC se nasionale komitee om dié besluit te bespreek.
Die besluit om die provinsie onder administrasie te plaas is waarskynlik om dié besluit om te keer aangesien Mahumapelo se premierskap in die laaste paar weke tot erge geweld in die provinsie gelei het.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
ANC kan nie eers hulleself administreer nie, Modise kon nie eers haar eie diere en plaasbestuurder “bestuur” nie, rerig julle is ‘n grap.
Een van die interessanter bewegings in hierdie land wat buitendien ook onder administrasie behoort te wees.
Witmense behoort aansoek te doen om onder die administrasie van die Verenigde Nasies geplaas te word … om hulle te beskerm teen die wanadministrasie, onderdukking en teistering deur die ANC regering.
Die hele patetiese onbevoegde regering moet onder admministrasie geplaas word om hulself en die land te red maar julle kan nie want julle het nie vermoens of wil nie.
Wanneer die DA in die Wes-Kaap iets doen of sê wat net 1 millimeter van die ANC se manier van dink en doen verskil, beskuldig dor die ANC dadelik die DA van rassisme en dreig dan om die Wes-Kaap onder administrasie te plaas. So dis voorwaar vreemd en ironies dat die eerste provinsie in SA wat toe wel onder administrasie geplaas is, toe nou juis ‘n ANC-beheerde provinsie is.