Ramaphosa ‘sterker’ ná beleidskonferensie

Die ANC-president Cyril Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa het dalk “kwesbaar” by die ANC se nasionale beleidskonferensie ingestap, maar hy het Sondag veel sterker daar uitgeloop.

“Dit is ná die naweek se beleidskonferensie vir my duidelik dat Ramaphosa ’n tweede termyn as president van die ANC sal kry,” sê die politieke ontleder Theo Venter.

“Die groot vraag is egter wie saam met Ramaphosa in Desember tydens die ANC se nasionale konferensie tot die topses verkies gaan word.”

Volgens die regskenner Koos Malan is daar tydens die naweek se nasionale beleidskonferensie nie werklik gefokus op beleid nie, maar eerder op die mededinging om posisies binne die ANC. Tog blyk daar in hierdie stadium niemand te wees wat na vore gaan kom om Ramaphosa vir sy posisie uit te daag nie.

“Ramaphosa sal na alle waarskynlikheid onbestrede herkies word. Of hy vir die volle termyn gaan hou, is egter ’n ander saak. Binne die ANC gaan dinge chaoties en onvoorspelbaar.”

Malan hou wel vol dat Ramaphosa se posisie ná die nasionale beleidskonferensie veel sterker is vergeleke met verlede naweek toe hy op ’n kongres in KwaZulu-Natal uitgejou is.

Venter sê Ramaphosa het twee interessante dinge in die week voor die nasionale beleidskonferensie gedoen wat sy posisie verstewig het. Die eerste was sy aankondiging verlede Maandag oor die regering se plan om die land se energiekrisis op te los.

Venter bestempel dit as ʼn baie “slim skuif”.

Carl Niehaus het Sondag saam met verskeie ander by Nasrec opgeruk en Ramaphosa se kop geëis. (Foto: Twitter)

Die tweede is Ramaphosa se verskyning voor die ANC se integriteitskomitee die volgende dag in verband met die Phala Phala-skandaal wat oor sy kop hang.

“Dit was amper of hy gesê het ‘1, 2, 3, blok myself’. Dit was simbolies. Hy wou te kenne gee dat hy as leier van die party die eerste tree sal gee en dit is wat hy van leiers ook verwag.”

Wat die ANC se posisie betref, voorspel albei kenners swarigheid vir die regerende party.

“Op papier is die ANC die nasionale regering,” sê Venter. “Hy bestuur agt van die nege provinsies en het beheer in 80% van alle plaaslike regerings. Op papier lyk die ANC dus geweldig sterk. Máár, daar is ’n duidelike afwaartse trajek in sy steun.”

Die verwagting is dat die regerende party met die volgende verkiesing selfs swakker gaan vaar.

En sou die regerende party nie daarin slaag om met ʼn volstrekte meerderheid in die 2024-verkiesing te wen nie en koalisies moet aangaan, gaan Ramaphosa se posisie drasties anders daarna uitsien.

“Dit is asof die ANC ná 30 jaar op die punt gekom het waar hy as party groot krake in sy mondering wys. Dít is die perspektief waarbinne die afgelope naweek se beleidskonferensie plaasgevind het,” sê Venter.

Malan wys daarop dat daar min geesdrif by die naweek se konferensie bespeur is.

Dit was duidelik uit die leë stoele tydens Ramaphosa se afsluitingstoespraak.

“Dit is duidelik dat die ANC nie ’n party is met bruisende energie vir die volgende verkiesing nie.

“Die ANC se posisie is oor die algemeen afwaarts en die konferensie het niks gedoen om dit te keer nie. Die ANC lyk na ’n moeë en uitgeputte party sonder planne, sonder denke en wat nie eintlik die vermoë het om uit sy spiraal van agteruitgang te kom nie.”

Nóg Venter nóg Malan het hoop dat die ANC homself gaan kan vernuwe soos Ramaphosa tydens die konferensie onderneem het.

“Dit is nie ’n kwessie van vernuwe nie. Dit is ’n kwessie van gesondmaak,” verduidelik Malan.

“Die ANC kan nie gesond gemaak word nie. Hy is eintlik terminaal siek omdat daar nie enige omkeer is nie. Hy is bestem vir verdwyning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Genis ·

In die land van die blindes bly die een of skeel oog koning…

Pietertjie ·

Was daar dan ‘n gimnasium in die omgewing, dat hy sterker is?

Manie ·

Waar is die talle ander wat saam met Careltjie protesteer het? Hy lyk vir my maar redelik afgemat en alleen.

Hennie ·

En daar pitch ou Karel gatkruiper ook toe by die riool rondom talie!

Manie ·

Die oukie het ‘n lekker paar groottoon knobbel kokorot trappers aan.

JohanR ·

JA as jy die kaders al die lekker goed offer dan is jy skielik hulle koning! Ramaphosa sal nou enigeiets se en doen om ‘n tweede termyn te kry. Sy eerste termyn was maar VROT VROT VROT!

Swerwer ·

Kan ‘n mens jou naam sò met ‘n plank slaan soos Carl Niehaus?. Ongelukkig kan daar geen vooraf beplanning/bespiegeling wees waar die kommunis in beheer is nie. 1 Gespuis eis Ramaposa se kop en aan die ander kant soek hul die krimineel Zuma terug. Dan is daar nog die “JEUG” die Ekonomiese Vryheidsvegters wat nie weet wat die woord “Ekonomies” beteken nie. Gaan ‘n heerlike faksie geveg wees. So Ramaphosa moet maar aanhou om die “gimnasium” te besoek wat hom “sterker” maak.

Kobus ·

Moet erken, Carl het nie ‘n tekort aan selfvertroue nie. Om so alleen te staan is seker erg.

Hannes ·

Sonder woorde soos “racism”, “previous regime”, “land expropriation” & “discrimination” kan die ANC eenvoudig nie bestaan nie.

Jacobus ·

Moes mooi kyk, het eers gelyk soos n standbeeld in plek van vlagpaal wat Mtetwa beplan.

Kokerboom ·

Inwoners van SA maak asb die opsystaan reel van toepassing op ANC. Ons verdra nie meer hul gelieg en getjommel nie!!!

Dries ·

Daai foto van ou kareltjie werk ten gunste van Ramapaddapot

annie ·

Mense hoop vir beter veral omdat Cyril ‘sterker’ voordoen. Maar die donker dieptes wink as Mantashe en sy maters hul sin kry en eerstens vir Eskom in Mantashe se matrassie gestop kry want dan is die duiwel los in die duiwelhok. Die ou geswote kommunis ken net een deuntjie en dit is: Jack and Jill went up the hill… And all came tumbling down….

Johan ·

As ‘n skelm nie eers uitgedaag kan word nie moet jy weet hoe skelm is die ander!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.