Ramaphosa: Terug op vlak 3; alkoholverbod opgehef

Pres. Cyril Ramaphosa (25 Julie 2021) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand die land toegespreek oor verwikkelings in die land se reaksie op die Covid-19-pandemie. Die president se toespraak volg ná vergaderings met die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC), die president se koördineringsraad en die kabinet.

“Ons het die afgelope twee weke ʼn stryd op twee fronte gevoer: diegene wat chaos en onstabiliteit wil veroorsaak aan die een kant en die Covid-19-pandemie aan die ander kant,” het hy gesê. “Ons het al ons hulpbronne ingespan om stabiliteit en orde in KwaZulu-Natal en Gauteng te herstel en seker te maak dat die geweld van twee weke gelede tot ʼn einde gekom het.”

Om dié twee krisisse te takel, moet verskeie stappe terselfdertyd gedoen word:

  1. Die verspreiding van die virus moet beperk word asook die impak van die pandemie op ekonomiese aktiwiteit.
  2. Die inentingsprogram moet versnel word sodat die oorgrote meerderheid van volwassenes teen die einde van die jaar ingeënt kan word.
  3. Vrede en stabiliteit moet in die land volgehou word sonder enige verdere voorvalle.
  4. Ons moet ondersteuning en verligting aan arm huishoudings verskaf om hul lyding te verlig en hongersnood te verminder.
  5. Ons moet ondernemings help om te herbou wat geteiken is deur plunderaars asook diegene wat geraak is deur regulasies om die pandemie te beheer.
  6. Ons moet die implementering van die ekonomiese herstelplan bespoedig sodat ons ekonomie herbou kan word, ons werkskepping kan verseker en inklusiewe groei kan bevorder.

Pres. Ramaphosa het gesê die jongste syfers wys dat ons grootliks verby die piek van die derde golf van infeksies is, maar daar is nog steeds gebiede in die land waar ons besorg moet wees, omdat die koers van infeksie nog nie tekens van vermindering toon nie.

“Die maatreëls wat ons die afgelope 28 dae in plek gestel het, tesame met volgehoue nakoming aan basiese gesondheidsmaatreëls, was doeltreffend om die infeksiekoers te verminder.”

Die gemiddelde getal van nuwe infeksies per dag vir die afgelope week was sowat 12 000 – ʼn 20% afname sedert die vorige week. Die getal infeksies in Gauteng, die episentrum vir die derde golf, het ook geleidelik verminder. “Soos wat ons egter al tevore ook gesien het, is daar beduidende verskille tussen provinsies. Soos wat getalle in Gauteng afneem, neem dit steeds toe in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Daar is ook ʼn kommerwekkende styging in gevalle in die Noord-Kaap ná ʼn periode van relatiewe stabiliteit.

“In al hierdie gevalle, word infeksies deur die Delta-variant aangedryf, wat, soos ons tevore gesê het, baie meer aansteeklik is as ander variante. Nou, meer as ooit tevore, is dit belangrik dat ons aan basiese voorsorgmaatreëls voldoen om die verspreiding van die virus te beperk.”

Gebaseer op aanbevelings van die ministeriële raadgewende komitee oor Covid-19, insette van die president se koördineringsraad en die kabinet, is daar besluit om die land van koronavirusvlak 4 na vlak 3 van die afsonderingsregulasies te skuif. Dit tree met onmiddellike effek in werking sodra die regulasies in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit beteken:

  • Die aandklokreël bly van krag tussen 22:00 en 04:00.
  • Interprovinsiale reise mag hervat (ook vir ontspanning).
  • Nienoodsaaklike instellings soos restaurante, kroeë en gimnasiums mag weer oopmaak. Dié instansies moet egter om 21:00 sluit sodat personeel en kliënte voor die aandklokreël by die huis kan kom.
  • Byeenkomste word toegelaat met ʼn maksimum van 50 mense binnenshuis en 100 mense buite; of 50% van die venue se kapasiteit.
  • Byeenkomste soos godsdienstige dienste, politieke geleenthede en sosiale byeenkomste word weer toegelaat.
  • Die beperking op venue-kapasiteit geld ook vir restaurante, gimnasiums, kroeë en ander soortgelyke plekke.
  • Bywoning van begrafnisse word beperk tot 50 persone en alle sosialedistansiëringsregulasies en gesondheidsprotokol moet streng gevolg word. Nagwake word steeds verbied.
  • Alkohol mag verkoop word vir verbruik weg van die perseel van Maandag tot Donderdag tussen 10:00 en 18:00.
  • Alkohol mag verkoop word vir verbruik op die perseel volgens lisensiëringsregulasies, maar slegs tot 20:00 snags.
  • Skole maak môre, 26 Julie 2021, weer oop volgens streng gesondheidsprotokol en ander maatreëls wat deur die minister van basiese onderwys afgekondig is.
  • Die dra van gesigmaskers wat die neus en mond bedek, bly verpligtend in openbare ruimtes.

Inentingsveldtog

Die president het gesê die inentingsveldtog het goeie vordering gemaak die afgelope paar weke. “Ons dien nou meer as 240 000 dosisse entstof toe elke weeksdag. Ons het ʼn maand gelede sowat 100 000 entstofdosisse per weeksdag toegedien. Ons sal graag dié getal wil verhoog tot 300 000 entstofdosisse per weeksdag.”

Meer as 6,3 miljoen entstofdosisse is reeds toegedien met meer as 10% van die bevolking wat reeds ʼn entstofdosis ontvang het.

Oor die volgende paar weke sal die koers van inenting en getal inentingspersele verhoog word.

Persone tussen 18 en 34 jaar oud mag vanaf 1 September 2021 ingeënt word – dit is buiten die ouderdomsgroepe (persone ouer as 35) wat reeds in aanmerking kom vir die inenting.

Persone kan nou ook sonder ʼn afspraak by ʼn inentingsperseel opdaag om ingeënt te word.

“Die beduidende toename in die inentingskoers word moontlik gemaak deur verbeterings in die verskaffing van entstof. Binne die volgende twee tot drie maande sal ons sowat 31 miljoen bykomende dosisse van Pfizer en Johnson & Johnson ontvang. Die verskaffingsketting beteken dat daar voldoende dosisse entstof sal wees vir die res van die jaar.”

Hy maan alle Suid-Afrikaners om so vinnig as wat hulle in aanmerking kom, vir die inenting te registreer.

Onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng

“Twee weke gelede is KwaZulu-Natal en Gauteng getref deur doelbewuste, beplande en gekoördineerde geweldpleging wat ten doel gehad het om onrus te skep. Die geweld het meer as 300 mense se lewens geëis en winkels, pakhuise en fabrieke is geplunder; kritieke infrastruktuur is beskadig; en die land se ekonomie is ontwrig. Ons is steeds besig om die koste van dié geweld te bepaal en om die verwoesting te verwerk wat gesaai is. Ons het ʼn plig om diegene te ondersteun wat deur dié geweld geraak is en om seker te maak dat dit nooit weer gebeur nie.”

Om seker te maak dat orde en stabiliteit in KwaZulu-Natal en Gauteng voortduur, is die ontplooiing van SAPD- en SANW-personeel verhoog. “Ons het dié ontplooiing volgehou in gebiede wat moontlike brandpunte kan wees asook by sleutel- ekonomiese en regeringsinfrastruktuur, winkelsentrums, pakhuise en fabrieke. Sekuriteitsmagte is ook verantwoordelik daarvoor om kritieke verskaffingsroetes oop te hou en die vervoer van goedere te beskerm.”

Ondersoeke na die geweld en diegene wat daarvoor verantwoordelik is, duur voort deur gespesialiseerde wetstoepassers. Hulle het vinnige inhegtenisnemings en doeltreffende vervolging in die oog. Spesiale maatreëls is ingestel om die groot getal verdagtes te hanteer wat in hegtenis geneem is in verband met voorvalle van onrus.

Die SAPD het ook sy gemeenskapspolisiëringstrategie geaktiveer in gebiede reg oor die land sodat gemeenskappe betrokke kan raak om verdere voorvalle te voorkom.

“Ek wil dit duidelik stel: wet en orde sal volgehou word. Daar sal nog inhegtenisnemings volg – veral diegene wat hierdie optrede uitgedink, beplan en uitgevoer het.”

Herstel van die ekonomie

Die president het ʼn rits maatreëls aangekondig om die herstel van die ekonomie te ondersteun en verligting te bring vir diegene wat kwesbaar is weens die maatreëls wat ingestel is om Covid-19 te hanteer.

  • Die maatskaplike rampverligtingsfonds wat ʼn maandelikse betaling van R350 verskaf, word weer ingestel tot einde Maart 2022. Die getal mense wat vir dié fonds in aanmerking kom word uitgebrei om ook werklose versorgers in te sluit wat tans ʼn kindertoelaag ontvang. Besonderhede oor die toelaag sal binnekort aangekondig word.
  • Buiten voedselverligting deur die departement van maatskaplike ontwikkeling, dra die regering ook R400 miljoen by tot die humanitêre krisisverligtingsfonds wat deur die regering se Solidarity Fund ingestel is om die onmiddellike behoeftes van betrokke gemeenskappe aan te spreek.

Ramaphosa het gesê ʼn onmiddellike behoefte is ook om seker te maak dat ondernemings wat gevandaliseer of geplunder is tydens onlangse geweld, so vinnig as moontlik weer kan herbou en hul deure kan oopmaak. “Ons is een van die min lande in die wêreld wat ʼn staatsbeheerde versekeringsmaatskappy, Sasria, het wat dekking bied teen voorvalle van openbare geweld, stakings, oproer en onluste. Ondernemings wat verseker is, sal deur Sasria gedek word.”

Sasria het onderneem om alle geldige eise so vinnig as moontlik uit te betaal en werk met privaat versekeraars om seker te maak assesserings word so vinnig as moontlik afgehandel.

“Die regering sal seker maak dat Sasria aan al sy verpligtinge voldoen en sal ondersteuning bied op watter manier ook al nodig is in die verband.”

Ondernemings wat nie verseker is nie, byvoorbeeld klein- en mediumgrootte ondernemings (formeel of informeel), het ook alles verloor en sal nie op hul eie kan herbou nie. “Ons sal hulle nie in hul tyd van nood verlaat nie. Ons wil ook ondersteuning bied aan ondernemings wat deur die geweld geraak is, maar nie versekering het nie. Die regering sal toegewyde fondse oormerk vir dié doel en sal binnekort ʼn meganisme aankondig hoe dié ondernemings vir hulp kan aansoek doen.”

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-fonds word ook verleng vir alle bedrywe wat die afgelope 28 dae deur vlak 4 van die inperkingsregulasies geraak is. “Aansoeke vir dié periode is oop, en die WVF sal betalings so vinnig as moontlik fasiliteer om werkers te ondersteun wat nie ʼn inkomste ontvang het nie.”

Die WVF sal ook inkomsteondersteuning verskaf aan alle werknemers wat hul werk verloor het as gevolg van die onlangse oproer.

  • Die belasting-aansporing vir indiensneming word ook vir ʼn periode van vier maande verleng om enige werknemer in te sluit wat minder as R6 500 verdien en om die aansporingsbedrag te verhoog met tot R750 per maand. “Dit sal werkgewers aanspoor om werknemers aan te stel en te behou – veral diegene in die kleinhandel- en gasvryheidsbedryf wat die ergste geraak is.”
  • PAYE-belastingbetaling word ook vir ʼn periode van drie maande uitgestel om bykomende kontantvloei vir ondernemings te verseker met ʼn outomatiese uitstel van 35% van PAYE-aanspreeklikheid vir werkgewers met ʼn inkomste van minder as R100 miljoen.
  • Die betaling van doeanebelasting deur die alkoholbedryf word ook vir ʼn periode van drie maande uitgestel om die las op die bedryf te verlig terwyl hy herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Henri ·

Drie dinge neem ek hieruit, en verskoon my onkunde as ek verkeerd mag wees:
1. Plunderaars is immuun teen COVID. 2 weke is verby en daar is nie ‘n toename nie, maar ‘n afname in infeksies.
2. Die ANC gaan voort met hulle radikale ekonomiese planne, al het die onluste bewys die planne vererger sosio-ekonomiese toestande.
3. Die binne-gevegte in die ANC is vir die regerende party belangriker as die bestuur van die land. Geen kind van die vorige president is in hegtenis geneem vir die aanhitsing tot die geweld nie, wat ‘n bewys is van die president se vrees vir die Zuma-faksie.

Robbie ·

Dieselfde afgesaagde, vae praatjies. Ons word direk geregeer deur ‘n wispelturige junta (kamstig ‘n virusbevelsraad) wat kat en muis met ons speel. Ons is nie sy “fellow South Africans” nie, want ons het niks in gemeen met hom nie. Hy is ingeënt; meeste mense is nie. Sy “people” is “our people”, soos hy hulle noem, en dit is beslis nie ons nie. Hy is skatryk; die meeste mense in hierdie land is brandarm. Hy lyk asof hy gereeld ‘n goeie maaltyd kry; miljoene mense ly honger.

MakersMark ·

Nee, dink selfs Cyril is moeg om die gekerm van dranklustiges aan te hoor…

Baardman ·

Inperkings beperk net die vryheid van wetsgehoorsame burgers. KZN se onluste het dit weereens bewys.

VaalDonkie ·

Nou kan ‘n ou weer lekker braai. Dis net nie dieselfde om koffie te drink terwyl jy tjoppies omdraai nie

Anoniem ·

Hier is wel sommige lesers op die forum wat van ‘n strawberry milkshake saam met braaivleis hou……

Belinda ·

Ek verstaan nie hoekom hy ons terug na level 3 gevat het nie, want sodra die syfers (volgens hulle) daal dan verander hulle die Lockdown level. plaas hulle dit so hou sou dit regtig n verskil gemaak het in die syfers van dodetal en aktiewe sake. En verder gaan die mense weer stroom na die winkels want hulle is mos nie drank gewoond nie….

MakersMark ·

Presies, nou kuier, braai, rook, drink almal weer en gaan lekker aan. Oor drie maande is infeksie tempo deur die dak, hospitale vol, tragedies in families en dan wonder mense hoekom alweer……. En skel die regering as vlak 4 inperkings terugkom, en drankverkope weer gestaak word. En dan die middeleeuse burgers wat glo die inenting is uit die bose…..hul kerm die meeste.

Debby ·

Gaan kruip in n grot en kom uit oor 5 jaar, dan is als verby en die virus weg

MakersMark ·

Dis die flintstone denkers dat CV19 ‘n “scam” is en inentings is “gevaarlik” wat die grot moet bewoon. Wag tot Nov dan haal al die “kuier” ons weer in en golf 4 is in volle swang. Dan weer inperkings vlak 4. Die proses het homself nou al 3 keer herhaal. Selfs ‘n blinde sal dit sien.

Henri ·

Sien my kommentaar heel eerste. Hoekom, met al die onluste (ontmasker en geen sosiale afsondering) het die infeksiesyfer nie begin styg nie, maar aanhou daal? Daar was duisende in klein ruimtes skouer aan skouer besig om te plunder. En ek twyfel of hulle ingeënt was.

Is dit net by familiesaamtrekke en Kerkdienste wat die virus infekteer?

Asseblief antwoord.

Anoniem ·

Weet in elk geval nie wat die Regering probeer bereik deur die “Lockdown” nie. Hul makkers steur hul in elk geval nie aan die Regulasies wat ingestel word nie. Polisie jag om onskuldige plekke/organisasies toe te maak en wanneer dit hul pas op Sosiale Media ten toon te stel maar hul vee hul makkers/broeders en susters se optredes onder die mat in. Belaglik.

SomeOne ·

nog meer miljoene rande wat in kaders se sakke gaan beland, sirrel, ons is nie so dom as wat jy verwag of dink nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.