Ramaphosa vra eenheid maar opposisiepartye kritiseer sy plan

Pres. Cyril Ramaphosa (Oktober 2020) (Foto: The Presidency/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag in die parlement ‘n beroep gedoen op die land om te verenig om sy ekonomiese herstel- en groeiplan, maar hy het onder baie kritiek deurgeloop.

Opposisieleiers het nie veel regmerkies of goue sterretjies gehad vir Ramaphosa se plan nie.

Die waarnemende DA-leier, John Steenhuisen, het gesê dit is nie die koronavirus waarvan Suid-Afrika moet herstel nie, maar eerder die regering se besluite rondom die grendelstaat, sowel as dekades van ANC-wanbestuur.

Steenhuisen het uitgewys dat dit die ANC se gebrekkige landbestuur is wat, nog voor die koronavirus-grendelstaat, daarvoor gesorg het dat die land na rommelstatus afgegradeer word.

Volgens Steenhuisen is die ekonomiese reddings- en groeiplan wat Ramaphosa verlede week aangekondig het, nie ‘n plan nie maar ‘n brief aan Kersvader, want daar is geen stappe aangekondig waarvolgens die plan ‘n werkbare werklikheid kan word nie, daar is geen meetbare riglyne vir suksesbepaling gestel nie, en daar is geen tydraamwerk vir implementering gestel nie.

Steenhuisen sê die plan mag ‘n wenslys wees, maar dis darem ‘n goeie wenslys – as sommige van die doelwitte in die praktyk omgesit kan word sal dit goed wees, byvoorbeeld die oopstel van breëband-spektrum.

Maar die waarnemende DA-leier het gewaarsku dat niks van hierdie planne gaan kom solank as wat die arbeidstelsel nie hervorm word nie. As die arbeidstelsel nie verander nie, kan werk nie geskep word nie, want net die private sektor kan werklik werk skep.

Steenhuisen het voorts gesê ‘n behoorlik uitgewerkte werkskeppingsplan moet aangekondig word, anders gaan daar dadels kom van die president se ondernemings.

Kaderontplooiing en korrupsie ondermyn volgens Steenhuisen die president se beste planne, want te veel mense in die ANC is ten diepste ideologies gekant teen die markgerigte hervormings wat die president beoog, soos die minister van finansies, Tito Mboweni, al aan eie bas gevoel het.

Steenhuisen het onderneem die DA sal Ramaphosa steun as hy die regte ding doen, deur byvoorbeeld korrupsie en kaderontplooiing te beveg en die ekonomie te hervorm, en hom gevra om die land vir ‘n slag bo die ANC te stel.

Namens die EFF het die party se onderleier, Floyd Shivambu, nie veel na die ekonomiese plan verwys nie, maar eerder ‘n algemeen-ideologiese aanval op Ramaphosa geloods.

Shivambu het gesê Ramaphosa was doodstil oor die grondkwessie want hy is bang vir wie Shivambu die “skobbejakke van Senekal” genoem het. Die EFF meen Ramaphosa is doodgemaklik daarmee dat wit mense die ekonomie beheer.

Die EFF-onderleier het voorts aangevoer Ramaphosa glo nie werklik in onteiening sonder vergoeding nie, en het die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) aangehaal oor die nasionalisering van grond, minerale en banke.

Hoewel Shivambu toegegee het werkskepping is belangrik, is werkskepping sonder eienaarskap vir hom nie genoeg nie.

Na sy mening moet die staat wegbeweeg van die subsidiëring van industrialisering en die staat moet eerder die leiding neem met beleggings in veral die vervaardigingsektor sodat Suid-Afrika minder goedere van byvoorbeeld China af kan invoer.

Die IVP se parlementêre leier, Mangosuthu Buthelezi, het gesê die koronavirus-tydperk is soos oorlogstyd, met baie pyn en verlies vir die land en sy mense.

Volgens Buthelezi moet Suid-Afrikaners nou saamstaan, en die president doen sy bes, maar sy planne vir ekonomiese groei is onhaalbaar solank 30% van staatsinkomste gaan aan toelaes, 30% aan die staatsdiens se salarisse en 10% aan rente op skuld – om van korrupsie nie eens te praat nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het aangevoer daar is niks nuuts in Ramaphosa se ekonomiese plan nie, en Suid-Afrika pluk juis tans die wrange vrugte van dekadeslange swak ANC-bestuur, veral in munisipaliteite.

Volgens Groenewald is sowat twee derdes van die geld wat die regering vir beskermende mediese drag begroot het, gesteel of wanbestee. Boonop is die ANC vasgevang in ideologieë soos sosialisme en kommunisme.

Groenewald het gesê die omvang van Ramaphosa se penarie word daarin saamgevat dat sy plan daarop berus dat die private sektor meer likiede besteebare bates moet hê terwyl die staat se geldknyp waarskynlik dui op komende belastingverhogings, wat presies daardie nodige likiditeit aan bande gaan lê.

In sy repliek op die debat het Ramaphosa alle Suid-Afrikaners wat die afgelope week aan die diskoers oor die ekonomiese plan deelgeneem het, vir hul insette bedank, en gesê baie goeie idees is ontvang, wat in die plan ingewerk sal word.

Hy het toegegee sy plan is nie perfek nie, maar het gesê dit was nou tyd om wel ‘n plan te finaliseer en op die tafel te plaas sodat die land in een koers en rigting vooruit kan gaan.

Wat hom opgewonde maak is dat die vakbonde, staat en groot ondernemings die plan breedweg steun.

Ramaphosa het gevra dat Suid-Afrikaners vasbyt en die plan kans gee om te werk sodat die swaarkry van die afgelope tyd nie onnodig sou wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Maria ·

Dankie mnr Joubert. ‘n Mens wens die president verklaar die EFF ‘n onwettige instansie , die terreur, hongersnood en lyding smeek daarna. Ons sal graag eerder by die president wil hoor hoe ons saam vorentoe kan beweeg na oplossings en genesing

Jywilwat ·

Sorg dat korrupsie, kader aanstellings, nepotisme en blatante rassisme(eff en BEEEEEEE) aangespreek word. Sonder dit het jy geen hoop op ekonomiese groei nie.

Politikus ·

Wat ek ongelooflik vind is dat sedert Donald Trump homself soos ‘n psycho begin gedra het…wat hy is….Maroela Media opgehou het om artikels oor hom te plaas…hoekom? Of moet ek die antwoord ook gee?

Anoniem ·

Jou ‘naam’ vertel ons meer van jou as wat jy graag wil hê ons moet weet.

henndrik ·

So lank as daar BEE is sal dinge net erger raak, nie beter nie

Riana ·

Nou hoebeel kanse wil jy nou nog hê. Daar is geen maar geen vertroue van my kant nie

Jakes ·

Soos gewoonlik is die president gou om planne aan te kondig maar weinig van hierdie planne het in die laaste 26 jaar gestalte gekry. Droom maar voort meneer, om enige plan uit te voer moet jy eerstens bevoeg wees daarvoor en hier druip die ANC al klaar met lof. Dis lagwekkend.

Alleen Wolf ·

Hy wat Ramaphosa is het die verwoesting in samewerking met sy kopdoek vennoot en ander ministers teweeg gebring en nou verwag hy eenheid van die opposisie partye en meeste van alles, die bevolkings groep wat hulle so slaafs te nakom, ek is sprakeloos.

koos10 ·

Dis waar, hoeveel belasting het hulle laat verlore gaan deur die onsinnige drank en rook inperkings?

pieter ·

Net wanneer dit hom pas word daar gevra vir ondersteuning , nee wat , ons moet vir onself voorsien en MEKAAR ondersteun.
Het geen vertoue in die anc/eff regering nie.

Kokerboom ·

Nuwe plan bo 26 jaar se soortgelyke planne wat nie gewerk het!!Hoe dan nou mnr die President? Wie gaan u glo behalwe vakbonde, u staat en groot besighede(NEDLAC) laasgenoemde wat witvoetjie soek en klein en medium besighede versaak!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.