Rampspanne in Kaapstad ontplooi

‘n Boom het by die St George-katedraal in Kaapstad omgeval (Foto: Michael Weeder/Facebook)

Rampspanne is reg oor Kaapstad ontplooi ná reën grootskaalse skade aangerig het.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ruimtelike beplanning, het tydens ʼn perskonferensie gesê minstens 133 mm reën is die afgelope 12 tot 24 uur in Stellenbosch aangeteken.

ʼn Maroela-leser se weerstasie in Vredehoek, in Kaapstad se middestad, het oornag tussen Sondagaand en Maandagoggend om 08:30 reeds 294,6 mm reën aangeteken.

“Oorstroomde paaie is die grootste probleem wat ondervind word vir inwoners wat ná die langnaweek wil terugkeer,” het Bredell bygevoeg. “Motoriste word versoek om ag te slaan op enige padtekens van paaie wat gesluit is.”

Volgens hom is 11 mense in die Stanford-gebied gered en sewe gesinne in Grabouw. Die Nasionale Seereddingsinstituut het ook drie mense op ʼn boot gered.

Bredell sê Hermanus is steeds sonder kragtoevoer.

Die Breedevallei is ook swaar getref deur die storm.

Die Botrivierbrug het weggespoel. Een motor was op die brug en is in die vloedwater meegesleur. “Een persoon is gered, maar ʼn tweede persoon wat in die motor was, word nog vermis,” het Bredell bygevoeg.

“In Villiersdorp word twee persone vermis. Reddingspanne is steeds na hulle op soek. Ongeveer 250 gesinne is ontruim.”

Drie mense is dood toe ʼn Golden Arrow-bus op Jakes Gerwelrylaan naby Athlone omgeslaan het.

Bredell sê die opruimingswerk duur voort en almal doen hul bes om bystand te lewer waar nodig. “Die volgende 12 uur gaan moeilik wees,” het hy gesê.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het inwoners versoek om die provinsiale nooddienste te kontak by 0860 142 142. “Ons het ekstra personeel ontplooi om dié noodlyn te beman.”

Motoriste word versoek om hul reisplanne so ver as moontlik uit te stel.

Die N1 tussen Worcester en Touwsrivier is intussen ook gesluit. Alle reisigers sal via Ceres moet ry om dié gebied te vermy.

Padgebruikers op die N2 wat in die rigting van Kaapstad reis, word by Swellendam na die R62 by Ashton via die R60 herlei, en sal van daar via die N1 en Hugenote-tonnel na Kaapstad reis.

Klik hier vir ‘n volledige lys van padsluitings.

  • ‘n Groot eikeboom het voor St George-katedraal in Kaapstad omgeval:

St George's Cathedral, Cape Town THE IMPACT OF THE STORM An oak tree outside the cathedral off was uprooted by the…

Posted by Michael Weeder on Sunday, September 24, 2023

  • Grootskaalse skade is aangerig by Monkey Town:

This storm caused loads of damage at Monkey Town.The roof of our public bathrooms in our braai/picnic area went flying…

Posted by Monkey Town on Monday, September 25, 2023

  • Alle paaie na Bredasdorp is gesluit:

Storm Update: Monday, 25 September 2023 at 10h00Thank you to all the residents and business who opened their heart to…

Posted by Cape Agulhas Municipality on Monday, September 25, 2023

Please stay safe out there ???????? If you’d like to help those affected by the storm across the province, or the homeless…

Posted by Councillor Mikhail Manuel on Monday, September 25, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Die N1 tussen De Doorns en Worcester is gesluit – hoekom herlei Provinsiale Verkeer nie net die hoofroete verkeer via die onder-Rabie pad, deur De Doorns (onderdorp) via Modderfontein/Orchard pad rigting Sandhills, vandaar weer op die N1 nie? Tensy dáár ook padversperrings/verspoelings is. Dis een hengse ompad vanaf die Touwsrivier/Ceres afdraai, oor Mitchell’s Pas, terug via die R46/R43 tot skuins voor Worcester.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.