‘Rassediskriminasie swaai septer by rasmal universiteite’   

(Foto: AfriForum Jeug)

Rasseklassifikasie vier, ten spyte van ʼn skynbare verbintenis tot nierassigheid en gelykheid, hoogty by Suid-Afrikaanse openbare universiteite.

Dít meen AfriForum Jeug bevestig die deurlopende rassediskriminasie waaronder minderhede by dié instellings gebuk gaan. AfriForum Jeug het Donderdag ʼn omvattende verslag oor die stand van nierassigheid aan Suid-Afrikaanse universiteite bekendgestel en onder meer die geweldige omvang en verreikende implikasie van rassebeleid wat tans by dié instellings geld, ontbloot.

Die verslag, getiteld “The status of non-racialism at South African universities”, spruit uit inligting wat AfriForum Jeug in Maart vanjaar van al 26 openbare universiteite aangevra het. Dit is gedoen ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA).

Vyf elemente van nierassigheid aan dié instellings word in die verslag ondersoek, naamlik die vereiste van rasseklassifikasie in universiteitsaansoeke; die gevolge indien aansoekers sou weier om hul ras te openbaar; die onderskeie beleidsbepalings of prosedures wat gebruik word om ras mee te bepaal; die aantal beleidsdokumente wat na ras verwys; en universiteite se standpunte oor die grondwetlike waardes van nierassigheid en gelykheid.

Verskeie skokkende bevindinge word in die verslag gemaak. Dit toon onder meer dat elkeen van die 26 openbare universiteite rasseklassifikasie in hul aansoekproses vereis. Voorts word aansoeke waarin aansoekers kies om nie hul ras bekend te maak nie, as onvolledig, en dus as ongeldig, geag. By een universiteit, die Universiteit van Kaapstad (UK), kan aansoekers selfs op grond van hul ouers se rasseklassifikasie tydens apartheid kies om onder die sogenaamde “herstelkategorie” (oftewel die “redress category”) geklassifiseer te word.

Rasseklassifikasie aan die meerderheid van openbare universiteite stem ooreen met die klassifikasie wat ook deur die Suid-Afrikaanse regering toegepas word, naamlik die onderskeid tussen Afrikaan, wit, bruin en Indiër. Tog word rasseklassifikasie aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU), daarenteen, selfs verder geneem. By dié universiteit word onderskei tussen 17 verskillende rasse en kultuurgroepe – Afrikaan, Asiaties, Chinees, bruin, Indiër, Japannees, Ndebele, Noord-Sotho, ander, Suid-Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, wit, Xhosa en Zoeloe.

Benewens die klassifikasie van rasse aan openbare universiteite is bevind dat talle omvangryke beleidsbepalings na ras en die hantering van rasse-aangeleenthede by universiteite verwys. By die Universiteit Stellenbosch (US) geld 17 verskillende rassebeleidsbepalings, terwyl 15 dergelike bepalings by die Noordwes-Universiteit (NWU) toegepas word en tien by die Universiteit van Pretoria (UP).

“Dit is skokkend dat instellings wat sê dat hulle nierassig is, tot soveel as 17 beleidsbepalings het wat na ras verwys. Dit is duidelik dat die tentakels van rasbeheptheid tot in tientalle sfere van universiteitslewe strek en die hantering van studente op grond van hul velkleur op verskeie vlakke beheer,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het gesê sy hoofdoel met dié verslag is om die voortgesette diskriminasie teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika te dokumenteer en nierassige beleid aan Suid-Afrikaanse openbare universiteite voor te stel. “Die praktyk van rasseklassifikasie is ʼn afstootlike skending van die reg op gelykheid soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet beoog word, en kom ook neer op ʼn skending van die grondbeginsels van nierassigheid,” sê Van der Vyver.

“AfriForum Jeug neem sterk standpunt in teen rasseklassifikasie wat onomwonde tot rassediskriminasie lei. Studente moet slegs volgens meriete gekeur en behandel word en nie volgens ras nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie rasbeleide is mos ‘n klagte teen God. Waarom het Hy dan al die rasse geskape?

Pieter ·

Daar is nog altyd een Rassis – EN dit is die persoon wat so groot gemaak is. Gaan kyk na Klein kinders en leer by hulle.

Jakes ·

Die kern van die probleem begin by die president wat homself ook skuldig maak aan rasseklassifikasie. Die ANC is vrot daarvan.

Manie ·

Daar is geen manier dat jy ‘n mengelmoes van rasse en tale onder een dak kan saamsnoer en verwag dat dit moet werk nie.

Windhond ·

As ek so kyk na reaksie op jou opmerking, moet jy eerder Nkandla toe trek

Republikein in die Wes Kaap ·

Waar is dit? Ons sal by jou aansluit. Hou die bier net koud.

annie ·

Neem sterk standpunt in… Klaar met kees. Boedeloorgegeefontein. Hoe tragies.

Republikein in die Wes Kaap ·

Waarheen nou? Kla gaan jou nêrens bring nie..

Strandloper ·

Ai, as jy jouself nie lief het nie moenie aanvaar almal het dieselfde uitkyk

Shakespeare ·

…… maar daar word niks gedoen aan die afstootlike EFF se uiters rassistiese optrede nie

Papsak ·

Nou wat soek hulle in ons universiteite en skole as kleur vir hulle n probleem is

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis sukkelende openbare universeite en skole. Dit behoort nie aan “ons” nie. Die gemeenskap.is wel betrokke by skole.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.