Rasseherrie oor Paul Kruger-foto

Die foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Die foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is. Foto: Phillip Bruwer

Nog ʼn herrie oor beweerde rassisme het Vrydag op sosiale media losgebars nadat ʼn foto van Anchen Dreyer, DA-LP, wat langs ʼn kartonuitknipsel van Paul Kruger staan, wyd versprei is.

In die foto, wat op 10 Oktober 2015 by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad geneem is, hou Dreyer ʼn plakkaat vas met die woorde, “Lekker verjaar Oom Paul!”.

Keith Khoza, die woordvoerder van die ANC, het op Twitter teen die foto uitgevaar en gesê Dreyer is ʼn “toevoeging tot die DA se rassistiese brigade” wat openlik ʼn “rassistiese geleentheid” gevier het.

Hy het verder gesê Dreyer se “openlike viering van Paul Kruger-dag” bevestig bloot hoe rassisties die party is. “[Mmusi] Maimane, [die leier van die DA], se geskrewe notas het gepraat van die DA se onverdraagsaamheid teenoor rassisme, maar die organisasie tree nie op teen rassiste nie! Wie flous vir wie?” het Khoza geskryf.

Dreyer het by navraag van Maroela Media die ANC se uitsprake as belaglik beskryf en gesê dit is niks anders as ʼn taktiek om die aandag af te lei van die regerende party se mislukkings, insluitend die hoë werkloosheidsyfer in die land nie.

“Die werkloosheid in Suid-Afrika onder alle jeug, maar veral onder die swart jeug, is ʼn brandpunt en iets waaroor die DA hom ten sterkste uitspreek en daarom probeer die ANC die aandag daarvan weglei,” het sy gesê. “Hierdie storie wys eintlik net hoe desperaat hulle is. Hulle skraap nou regtig die bodem om enige manier te kry om negatiewe publisiteit vir hul opponente te skep.”

Dreyer het beklemtoon dat daar niks skandalig is aan die foto nie en dat sy geensins iets het om weg te steek nie. “Ek het Solidariteit se Toekomsberaad bygewoon om na die menings van verskeie rolspelers te luister. Mense het op lighartige wyse foto’s saam met die Paul Kruger-uitknipsel geneem en daar was ʼn prettige atmosfeer. Nou probeer die ANC ʼn skandaal daarvan maak. Ek dink die meeste kiesers sien deur hierdie flou poging.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, het gesê die ANC se negatiewe tipering van Paul Kruger is aanduidend van die party se gebrekkige historiese begrip. “Paul Kruger word deur talle Afrikaners as die grootste Afrikaner van alle tye gesien. Ons vra nie om verskoning daarvoor nie; inteendeel, ons herdenk hom,” het hy gesê.

“Oom Paul het gesê neem uit die verlede wat goed is en bou die toekoms daarop. Daarom was dit gepas om die Toekomsberaad op Oom Paul se verjaarsdag te hou, omdat dit juis is wat ons daar gedoen het. Ons doel was om na maniere te kyk waarop Afrikaners ʼn toekoms in Suid-Afrika kan hê wat vry, veilig en voorspoedig is,” het Hermann verduidelik.

Op ʼn vraag oor Dreyer se betrokkenheid by die beraad, het Hermann gesê sy was maar een van sowat 2 700 afgevaardigdes en lede van die publiek wat die beraad bygewoon het. “Die beraad is deur talle meningsvormers met verskillende standpunte bygewoon. Die feit is dat die ANC Afrikaners beskuldig bloot omdat hulle bestaan. Net die feit dat Afrikaners bymekaar kom, word deur die ANC as rassisties gesien en ons sal dit nie duld nie.”

Khoza kon nie onmiddellik Vrydagmiddag vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

97 Kommentare

jongste oudste gewildste
Antoinette

Nee dit is nou rerig belaglik lyk my vir die ANC is alles wat nou gedoen word alles rassisties.

m

So belaglik. Hierdie ANC is so rassisties dit eintlik pateties. Kry iets beter om julle tyd mee te bedryf as om te kyk wat ander mense doen. Sit net heeldag en kyk wat die DA doen en se.

ZHARA

Ja nee as die skoen jou pas ANC trek hom dan maar aan.

Otter

Hermann raak aan die rede vir ANC se patetiese uitlatings: hulle beskuldig Afrikaners bloot omdat ons bestaan. Ek is trots om deel van daardie groep te wees, en ek gaan nêrens nie want ek gaan beslis nie vir die ANC hul sin gee deur te vlug nie.

Johan

Kan iemand soos die MRK net tog asb ‘n “Geskiedenis Beraad” hou waar hulle’n groep gerespekteerde geskiedkundiges kry om die bewese geskiedenis op die tafel te sit en vir eens en vir altyd uit te sorteer: 1. Wie nou rassiste was en wie nie 2. Of diegene méér rassisties was as hulle tydgenote van ander nasties 3. Of die Europieërs grond “gesteel” het of nie, en of die manier waarop hulle wél grond gekry het wesenlik verskil van die manier waarop grond in daardie tyd op ander plekkie in die wêreld en ook Afrika verkry is 4. Of Dingaan en… Lees meer »