Raymond Ackerman ‘kampvegter vir SA’ners’

Raymond Ackerman. (Foto: Pick ‘n Pay/Facebook)

Baanbrekersakeman, geliefde gesinsman en kampvegter vir Suid-Afrikaners se regte.

Dít is hoe talle mense, politieke partye en selfs pres. Cyril Ramaphosa die sakereus Raymond Ackerman in huldeblyke onthou.

Medelye stroom in ná die dood van die 92-jarige sakelegende wat die kleinhandelreus Pick n Pay opgebou het. Die nuus oor sy dood is Donderdagoggend bekend gemaak.

Volgens Ramaphosa is Ackerman veral bekend vir sy uitstekende sakevernuf, leierskap en entrepreneurskap. “Raymond Ackerman het mense eerste geplaas en die ongeregtighede wat destyds op die sakesektor afgedwing wou word, teengestaan,” sê hy.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, sê Ackerman se afwesigheid sal gevoel word, veral ná alles wat hy vir Suid-Afrikaners gedoen het. “Hy was ʼn trotse Suid-Afrikaner wat geglo het in ons land en sy potensiaal. Sy nalatenskap sal voortleef.”

Ackerman is gebore in ʼn kleinhandel omgewing. Sy pa, Gus, het die klerewinkelgroep Ackermans ná die Eerste Wêreldoorlog op die been gebring.

Raymond Ackerman het in 1967 vier winkels in Kaapstad gekoop en die kleinhandelreus wat vandag as Pick n Pay bekend staan, op die been gebring. Daar is deesdae meer as 2 000 winkels landwyd.

“Uit die staanspoor was Raymond daaraan toegewy om klante die beste moontlike produkte, beste moontlike waarde en beste moontlike diens in sy winkels te gee,” lui ʼn verklaring van die winkelgroep.

“Hy sou stop en mense wat huis toe stap met inkopiesakke van mededingende winkels vra hoekom hulle nie by Pick n Pay inkopies gedoen het nie.”

Teen die laat 1970’s het Ackerman ʼn prominente kampvegter geword vir gelyke geleentheidbeleid en vergoeding wat op meriete gegrond is.

Hy was vasbeslote om al sy werknemers, ongeag ras, die kans te gee om tot op bestuursvlak te vorder.

In ʼn deurslaggewende regsgeskil oor kospryse het Ackerman die regering in die 1980’s minstens 26 keer hof toe gesleep in ʼn poging om die prys van kos te help verminder – en hy het dit in die geval van produkte soos brood, melk en hoender boonop suksesvol reggekry.

Hy was ook sterk gekant teen die heffing van BTW op basiese voedselprodukte; ʼn geskil wat “hy namens die armes beveg, en gewen het”.

In 1989 het Ackerman en ʼn groep sakelui met oudpres. FW de Klerk vergader en ʼn beroep op die destydse president gedoen om apartheid af te skaf en oudpres. Nelson Mandela vry te laat.

“Nadat Mandela vrygelaat is, het Raymond en Mandela ʼn goeie verhouding gehandhaaf,” sê Pick n Pay in ʼn verklaring.

Ackerman was ook die dryfveer agter pogings om die 2004 Olimpiese Spele na Kaapstad te bring, en het baie finansiering aan die inisiatief gewy.

In 2004 het hy die Raymond Ackerman- Akademie vir Entrepreneuriese Ontwikkeling in vennootskap met die Universiteit van Kaapstad gestig, waarby die Universiteit van Johannesburg later aangesluit het. Die akademie het honderde nuwe sake-eienaars opgelewer wat op hulle beurt weer nuwe werksgeleenthede geskep het.

“Raymond Ackerman se ambisie en sin vir innovering, tesame met sy diep liefde vir sy land, is verantwoordelik vir honderdduisende werksgeleenthede wat gesinne en ekonomieë onderhou het vir die verbetering van ons land oor dekades heen,” sê John Steenhuisen, leier van die DA.

Ackerman word oorleef deur sy vrou, Wendy, en kinders Gareth, Kathy, Suzanne en Jonathan. Hy laat ook 12 kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Ek wonder of hy tevrede was met die Reënboog SA waarvoor hy geveg het. Sal interessant wees om te weet.

Hendrik ·

As selfs die pres hom besing dink ek hy behoort nie met die sg reenboognasie tevrede gewees het nie.

Pieter ·

Daar gaan ‘n groot gees. Een van die beste besigheids breine in Sui-Afrika. Geliefd onder sy werkers en mede kollegas. Was daar meer van sy soort, sou Suid-Afrika anders gelyk het.

Nettie ·

“Raymond Ackerman het mense eerste geplaas en die ongeregtighede wat destyds op die sakesektor afgedwing wou word, teengestaan,”

Het hy net so hard geveg teen die ongeregtighede wat die HUIDIGE stelsel op die sakesektor afdwing?
Nie sover ek weet nie…. so hy’t nie MENSE eerste geplaas nie, net SY keuses en wense destyds. Vandag het dit hom blykbaar gepas of hy’t nie probleme daarmee gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.