Sakelegende Raymond Ackerman sterf

Raymond Ackerman en sy vrou Wendy. (Foto: Pick ‘n Pay)

Raymond Ackerman, Suid-Afrikaanse sakelegende en die man wat die kleinhandelreus Pick n Pay van die grond af opgebou het, het in die ouderdom van 92 jaar gesterf.

Die winkelgroep het Donderdag op sosiale media die nuus van Ackerman se dood gedeel.

“ʼn Idealis, entrepreneur, filantroop en ʼn vooraanstaande Suid-Afrikaner,” het Pick n Pay op die sosialemediaplatform X (voorheen Twitter) geskryf.

“Ons land het ʼn briljante patriot verloor wat altyd ʼn positiewe toekoms vir Suid-Afrika gesien het.”

Ackerman het in die 1960’s begin om Pick n Pay op te bou en was jare lank die voorsitter van dié groep tot hy sowat 10 jaar gelede afgetree het.

Daar is vandag meer as 1 900 Pick n Pay-winkels landwyd. Ackerman se seun, Gareth, is tans voorsitter van die winkelgroep wat steeds deur die familie beheer word.

‘Vooraanstaande Kapenaar’

Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het sy medelye met Ackerman se geliefdes betuig en gesê hy laat ʼn “groot nalatenskap”.

“Hy was waarlik ʼn vooraanstaande Kapenaar!”

Hill-Lewis het vroeër vanjaar ʼn geskenk van die stadsargief aan Ackerman en sy vrou, Wendy, oorhandig. Die geskenk was ʼn foto van die paartjie by een van die eerste winkels wat hulle in die Moederstad geopen het.

“Ek het ʼn byskrif by die foto geplaas wat lui: ‘Met dank vir alles wat jy vir Kaapstad en sy mense gedoen het’. Dit is ʼn sentiment wat ek vandag herhaal,” sê Hill-Lewis.

Talle boodskappe van medelye en huldeblyke vir die ikoniese sakeman het reeds ingestroom. Mmusi Maimane, leier van Build One South Africa (Bosa), was een van diegene wat medelye betuig het.

“Sy impak op kleinhandel en sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie sal nooit vergeet word nie,” sê Maimane.

Geen begrafnisreëlings is al bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie man was ‘n ware ikoon en alles wat ek in besigheid vandag weet en toepas het ek by hom geleer,hy sy besigheid kennis en ondervinding sal vreeslik gemis word.RIV Mnr Ackerman.

Bolandse Nooi ·

Wees stil, mense, ‘n grote het geval …. RIV Mnr. Ackerman.

Christelle ·

RIV Oom Raymond, jy het so n inspirerende lewensrys gehad. Dit was n voorreg om u te kon ontmoet en my PnP Go Banking sertifikaat by u te kon ontvang. U en u vrou se besoeke aan die winkels was altyd n hoogtepunt.
Baie sterkte aan die Familie & vriende.

Nommer 7 ·

Merkwaardige man. Ek bewonder enige iemand wat in ‘n leeftyd met een winkel begin, en dit uitbrei tot ‘n winkel groep soos PnP. Sy filosofie was, o.a, “give your customers what they want, do not prescribe”. RIV!

TrueMan ·

As hy vir kliente gegee het wat hul wil, was daar Pick n Mix in elke PnP.

Wit Leeu ·

Een van die grootste besigheids ikone ooit. Rus in vrede Mr. Ackerman ! Jy sal gemis word !

Karoo ·

Wat ‘n wonderlike nalaatingskap en vol lewe het Mnr. Ackerman nie gelei nie. Ek se ook baie dankie, selfs hier in my klein platelandse dorpie is’ n vriendelike Pick ‘n Pay.

Shakespeare ·

Ai!! Wat ‘n skok. Kon dit nie die ANC/EFF gewees het nie ? Sterkte vir die naasbestaandes.

george ·

Waar pas die kommentaar nou in? Dis tot siens vir n ikoon. n Pioneer. Kom ons salueer hom liewer en los politiek daaruit. Dis nou rerig onvanpas….. Rus in vrede Meneer Ackerman. U sal altyd met die grootste respek onthou word.

Chris ·

Ons innige simpatie aan die Ackerman familie met die afsterwe van Oom Raymond.Hy het net opgebou en en almal het soveel respek vir hom gehad vir dit wat hy in Suid-Afrika vermag het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.